YouVersion Logo
Search Icon

2 KRONIEKE 5

5
Die ark word tempel toe gebring
1Nadat Salomo al die werksaamhede in verband met die bou van die Here se tempel afgehandel het, het hy die gewyde voorwerpe van sy pa, koning Dawid, gebring. Dit het al die silwer en goue toebehore ingesluit wat in die skatkamer van die tempel van God bewaar is.
2Salomo het toe die leiers van al die stamme en families van Israel opgeroep om in Jerusalem bymekaar te kom. Hulle moes die verbondsark van die Here uit Sion, die Dawidstad, bring. 3Hulle het almal voor die koning bymekaargekom tydens die jaarlikse feesdag in die sewende maand. 4Toe al die leiers van Israel aangekom het, het die Leviete die ark opgetel 5en saam met die tent van ontmoeting#5:5 Ook genoem die tabernakel., asook al die heilige toebehore daarvan, gedra. Die Levitiese priesters het dit alles na die tempel toe gebring. 6Koning Salomo en die hele volksvergadering van Israel wat by hom bymekaargekom het, het skape en beeste voor die ark geoffer. Dit was so baie dat dit nie getel kon word nie.
7Daarna het die priesters die verbondsark van die Here na sy plek in die binneste heiligdom, die Allerheiligste, gebring en dit onder die gerubs neergesit. 8Die gerubs het hulle vlerke oor die plek van die ark gesprei en die ark met sy drahoute oordek. 9Hierdie drahoute was so lank dat hulle punte vanaf die tempel se hoofingang, die heilige plek, gesien kon word, maar nie van buite af nie. Dit is tot vandag toe steeds daar. 10Daar was niks in die ark nie behalwe die twee plat klippe wat Moses by Horebberg#5:10 Ook genoem Sinai. daarin gesit het. Dit was toe die Here ’n verbond met sy volk Israel gesluit het ná hulle uit Egipte vertrek het.
11Toe het die priesters die heiligdom verlaat. Al die priesters teenwoordig het hulleself gereinig, of hulle daardie dag aan diens was of nie. 12Die Leviete wat musikante was, Asaf, Heman, Jedutun, saam met hulle seuns en broers, het oos van die altaar gestaan. Hulle het fyn linneklere aangehad en op simbale, harpe en liere gespeel. By hulle was daar 120 priesters wat op trompette geblaas het. 13Die trompetspelers en sangers het saam as eenheid opgetree met lofsang en dank aan die Here. Met begeleiding van trompette, simbale en ander instrumente, het hulle gesing en met hierdie woorde die Here geprys:
“Hy is goed!
Sy troue liefde duur vir altyd!”
Op daardie oomblik het ’n wolk die tempel van die Here gevul. 14Die priesters kon nie hulle verpligtings nakom vanweë die wolk nie, want die heerlike teenwoordigheid van die Here het die tempel van God gevul.

Currently Selected:

2 KRONIEKE 5: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy