YouVersion Logo
Search Icon

1 KRONIEKE 22

22
1Dawid het gesê: “Hier is die plek vir die huis van die Here God en die plek vir die altaar vir Israel se brandoffers!”
Voorbereidings vir die tempel
2Dawid het beveel dat al die vreemdelinge wat in Israel leef, bymekaar moet kom. Hy het hulle aangestel om die blokke klip reg te kap om die tempel van God mee te bou. 3Dawid het ook groot hoeveelhede yster verskaf vir die spykers wat nodig sou wees vir die poortdeure en vir kramme, en koper wat soveel was dat dit nie geweeg kon word nie. 4Daarby het hy ontelbaar baie sederblokke verskaf, want die mense van Sidon en Tirus het vir Dawid groot hoeveelhede sederhout gebring.
5Want Dawid het gesê: “My seun Salomo is nog jonk en onervare, en die huis wat vir die Here gebou gaan word, moet indrukwekkend en groot wees, ’n roem en ’n sieraad vir alle lande. Daarom tref ek vir hom die voorbereidings.” Daarom het Dawid voor sy dood al groot hoeveelhede boumateriaal bymekaargemaak.
6Daarna het Dawid sy seun Salomo laat haal en vir hom verduidelik dat hy ’n tempel vir die Here, die God van Israel, moes bou. 7“Ek wou ’n tempel tot eer van die Here my God bou,” het Dawid vir hom gesê. 8“Maar die Here het vir my gesê: ‘Jy het baie mense doodgemaak in die groot oorloë waarin jy geveg het. Omdat jy so baie bloed voor My op die grond vergiet het, is jy nie die een wat ’n tempel tot my eer sal bou nie. 9Maar jy sal ’n seun hê wat vrede en rus in sy tyd sal beleef. Ek sal hom vrede met sy vyande en al die omliggende lande gee. Sy naam sal Salomo#22:9 Salomo klink na en is waarskynlik afgelei van vrede. wees, en Ek sal vrede en rus in Israel gedurende sy regering gee. 10Hy is die een wat ’n tempel tot my eer sal bou. Hy sal my seun wees, en Ek sal sy Vader wees. Ek sal die troon van sy koningskap oor Israel vir altyd bevestig.’
11“Nou, my seun, mag die Here met jou wees en jou suksesvol maak terwyl jy die instruksies volg wanneer jy die tempel van die Here jou God bou. 12Mag die Here jou ook wysheid en begrip gee sodat jy die opdragte van die Here jou God sal gehoorsaam terwyl jy oor Israel regeer. 13Want as jy sorgvuldig al die opdragte en bepalings uitvoer wat die Here deur Moses vir Israel gegee het, sal jy suksesvol wees. Daarom, wees sterk en vol moed. Moenie bang of moedeloos word nie.
14“Ek het hard gewerk om materiaal vir die bou van die tempel van die Here te verskaf – byna drie en ’n half ton goud en 34 000 ton silwer#22:14 Grondteks 100 000 talente goud en 1 000 000 talente silwer., en soveel yster en koper dat dit nie geweeg kan word nie. Ek het ook hout en klip bymekaargemaak, alhoewel jy meer nodig kan kry. 15Jy het baie vaardige klipkappers, ambagsmanne in klip en hout, en kunstenaars van elke soort. 16Hulle is vaardige goudsmede, silwersmede en bewerkers van koper en die yster. Begin nou met die werk, en mag die Here met jou wees!”
17Dawid het al die leiers in Israel beveel om sy seun Salomo by te staan. 18“Die Here julle God is met julle,” het hy verklaar. “Hy het julle rus gegee van die omringende volke. Hy het al die inwoners van die land aan my oorgegee, en hulle is nou onderdane van die Here en sy volk. 19Soek nou die Here julle God met julle hele hart. Bou die heiligdom van die Here God sodat julle die verbondsark van die Here en die heilige voorwerpe van God in die tempel kan bring om die Here te eer.”

Currently Selected:

1 KRONIEKE 22: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy