YouVersion Logo
Search Icon

1 KRONIEKE 15

15
Voorbereidings om die ark te skuif
1Dawid het verskillende geboue vir homself in die Stad van Dawid gebou. Hy het ook ’n plek gereed gekry vir die ark van God. Hy het ’n spesiale tent daarvoor opgeslaan. 2Daarna het Dawid die volgende instruksies gegee: “Wanneer ons die ark van God dié keer vervoer, mag niemand behalwe die Leviete dit dra nie. Die Here het hulle gekies om die ark van die Here te dra en Hom vir altyd te bedien.”
3Dawid het toe die hele Israel in Jerusalem laat bymekaarkom om die ark van die Here na die plek te bring wat hy daarvoor gereedgemaak het. 4Hierdie is die priesters#15:4 Grondteks afstammelinge van Aäron. en Leviete wat saamgeroep is: 5Daar was 120 van die Kehatgroep, met Uriël as hulle leier. 6Daar was 220 van die Merarigroep, met Asaja as hulle leier. 7Daar was 130 van die Gersongroep#15:7 Grondteks Gersom, ’n variante naam vir Gerson., met Joël as hulle leier. 8Daar was 200 van die Elisafangroep, met Semaja as hulle leier. 9Daar was 80 van die Hebrongroep, met Eliël as hulle leier. 10Daar was 112 van die Ussiëlgroep, met Amminadab as hulle leier.
11Dawid het ook vir Sadok en Abjatar, die priesters, en die Leviete Uriël, Asaja, Joël, Semaja, Eliël en Amminadab ontbied. 12Hy het vir hulle gesê: “Julle is die leiers van die Levietefamilies. Julle moet julleself en julle mede-Leviete afsonder sodat julle die ark van die Here, die God van Israel, na die plek kan bring wat ek daarvoor gereedgemaak het. 13Omdat julle Leviete nie die eerste keer die ark gedra het nie, het die woede van die Here ons God teen ons ontbrand. Ons het God nie gevra hoe om dit op die regte manier te verskuif nie.” 14Die priesters en die Leviete het hulleself afgesonder sodat hulle die ark van die Here, die God van Israel, na Jerusalem kon bring. 15Die Leviete het die ark van God met die drahoute op hulle skouers gedra, soos die Here vir Moses gesê het.
16Dawid het die leiers van die Leviete beveel om ’n Levietekoor van sangers en musikante met harpe, siters en simbale aan te stel sodat hulle saam lofliedere kon sing. 17Die Leviete het Heman, seun van Joël, Asaf, seun van Berekja, en Etan, seun van Kusaja uit die Merarigroep aangestel om die musikante te lei.
18Die volgende manne is as hulle assistente aangewys: Sagaria, Jaäsiël, Semiramot, Jegiël, Unni, Eliab, Benaja, Maäseja, Mattitja, Elifele, Mikneja asook die poortwagters Obed-Edom en Jeïel.
19Heman, Asaf en Etan is gekies om met kopersimbale musiek te maak. 20Sagaria, Jaäsiël, Semiramot, Jegiël, Unni, Eliab, Maäseja en Benaja het die liere gespeel#15:20 Grondteks ooreenkomstig die Alamot, wat waarskynlik ’n musiekterm is. Die grondteks se betekenis is onduidelik.. 21Mattitja, Elifele, Mikneja, Obed-Edom, Jeïel en Asasja is gekies om met harpe te speel#15:21 Grondteks ooreenkomstig die Sheminit, wat waarskynlik ’n musiekterm is. Die grondteks se betekenis is onduidelik..
22Kenanja, die leier van die Leviete, is as koorleier gekies omdat hy bekwaam was.
23Berekja en Elkana is gekies om die ark te beskerm.
24Sebanja, Josafat, Netanel, Amasai, Sagaria, Benaja en Eliëser, almal priesters, is gekies om die trompette te blaas terwyl hulle voor die ark van God uitloop. Obed-Edom en Jegija is gekies om die ark te beskerm.
Die ark na Jerusalem
25Dawid en die leiers van Israel en die hoofde van die weermag het na Obed-Edom se huis gegaan om die ark van die Here se verbond in feestelike stemming te gaan haal. 26Omdat God die Leviete gehelp het terwyl hulle die verbondsark van die Here gedra het, het hulle sewe bulle en sewe ramme geoffer. 27Dawid het ’n mantel van fyn linne aangehad, nes die Leviete wat die ark gedra het, die sangers en Kenanja, die sangleier. Dawid het ook ’n linneskouerkleed aangehad. 28Die hele Israel het die verbondsark van die Here opgeneem na Jerusalem toe met uitroepe van blydskap, die geblaas van horings en trompette, die slag van simbale en harde klank van harpe en siters.
29Terwyl die verbondsark van die Here die Stad van Dawid inkom, het Mikal, Saul se dogter, deur haar venster gekyk. Toe sy sien hoe koning Dawid dans en van vreugde spring, het sy hom in stilte verag.

Currently Selected:

1 KRONIEKE 15: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy