YouVersion Logo
Search Icon

1 SAMUEL 23

23
Dawid bevry die dorp Keïla
1Dit is aan Dawid berig dat die Filistyne teen Keïla veg en hulle dorsvloere plunder. 2Dawid het vir die Here gevra: “Moet ek die Filistyne gaan aanval?”
“Ja, gaan verdryf die Filistyne en verlos Keïla,” sê die Here vir hom.
3Sy manskappe sê egter vir hom: “Wag ’n bietjie! Selfs hier in Juda voel ons onveilig. Moet ons dan nou na Keïla toe gaan en die hele Filistynse mag daar teen ons kry?”
4Dawid vra toe weer vir die Here, en die Here het herhaal: “Gaan na Keïla toe, want Ek sal jou help om die Filistyne te verslaan.”
5Dawid en sy manskappe het toe na Keïla toe gegaan. Hulle het die Filistyne verslaan, al hulle vee buitgeneem en die inwoners van Keïla bevry.
6Die priester Abjatar seun van Agimelek wat na Dawid toe gevlug het, het die skouerkleed saamgebring na Keïla toe.
7Saul het gehoor dat Dawid in Keïla was. “God het Hom aan Dawid onttrek!” het hy gesê. “Nou is hy in ons mag, want deur in ’n ommuurde dorp met grendels te skuil, het hy homself opgesluit.”
8Saul het toe sy hele leër bymekaargemaak om na Keïla te gaan en Dawid en sy manskappe daar te beleër. 9Maar Dawid het van Saul se planne gehoor. Hy vra toe vir Abjatar om die skouerkleed te bring en by die Here te hoor wat hom te doen staan. 10Dawid het gebid: “O Here, God van Israel, ek, u dienaar, het gehoor dat Saul kom om Keïla te vernietig omdat ek hier is. 11Sal die inwoners van Keïla my aan hom uitlewer? En sal Saul regtig kom soos ek verneem het? Here, God van Israel, sê my, asseblief.”
Die Here antwoord hom: “Ja, hy sal kom.”
12Dawid vra weer: “Sal hierdie inwoners van Keïla my en my mense aan Saul uitlewer?”
En die Here antwoord: “Ja, hulle sal jou verraai.”
Dawid amper gevang in die Maonwoestyn
13Dawid en sy manskappe, nou omtrent 600 man, het Keïla verlaat en van plek tot plek rondgetrek. Toe Saul hoor dat Dawid gevlug het, het hy nie na Keïla toe gegaan nie. 14Dawid het in bergskuilings in die woestyn en in die heuwelagtige landstreek van Sif gaan bly. Saul het hom gedurig gesoek, maar God het nie toegelaat dat Saul hom vang nie. 15Dawid het besef dat Saul hom nog steeds wou doodmaak; daarom is hy na Goresa toe in die woestyn van Sif.
16Jonatan het daar na hom toe gekom en hom bemoedig om op God te vertrou. 17“Moenie bang wees nie,” verseker Jonatan hom. “My pa sal jou nie vang nie. Jy sal koning van Israel word en ek sal onder jou dien. My pa weet dit baie goed.” 18Die twee het toe hulle ooreenkoms opnuut met ’n eed voor die Here bevestig. Daarna is Jonatan terug huis toe, terwyl Dawid verder in Goresa gebly het.
19Die mense van Sif gaan toe na Saul in Gibea en sê: “Dawid kruip weg by ons in die skuilplekke van Goresa op die Gakilahoogte wat suid van die woestyn#23:19, 24 Grondteks Jesimon. is. 20As dit vir die koning goed is, kom hierheen, en ons sal hom aan u uitlewer!”
21“Mag die Here julle seën,” sê Saul. “Daar is tog mense wat vir my omgee. 22Gaan kyk en maak seker waar hy hom bevind en wie hom gesien het, want ek het verneem hy is baie uitgeslape. 23Soek sy skuilplek en bring vir my meer inligting. Dan sal ek saam met julle gaan. As hy hoegenaamd in die omgewing is, sal ek hom opspoor onder al die duisende in Juda!”
24Hulle het toe voor Saul uit teruggegaan na Sif toe. Intussen het Dawid en sy krygers verskuif na die Maonwoestyn in die dorre landstreek suid van die woestyn#23:19, 24 Grondteks Jesimon.. 25Toe Dawid hoor dat Saul en sy leër hom soek, het hy nog dieper die woestyn ingetrek na die groot rots in die woestyn van Maon. Maar Saul het dit gehoor en hom in die Maonwoestyn agtervolg. 26Saul het aan die een kant om die berg gegaan, en Dawid en sy manskappe aan die ander kant. Dawid het haastig van Saul se leër probeer ontvlug. Net toe Saul en sy magte op die punt was om Dawid en sy manne vas te trek, 27ontvang Saul ’n dringende boodskap: “Maak gou! Die Filistyne is besig om strooptogte in Israel uit te voer!”
28Saul moes toe noodgedwonge die agtervolging staak en terugkeer huis toe om die Filistynse inval te keer. Van toe af is daardie plek die Rots van Skeiding genoem.

Currently Selected:

1 SAMUEL 23: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy