YouVersion Logo
Search Icon

1 KORINTIËRS 7

7
Riglyne vir die huwelik
1Ek kom nou by die vrae wat julle in julle brief gestel het. Ja, ’n selibaatlewe is goed. 2Maar omdat daar soveel onsedelikheid is, behoort elke man sy eie vrou te hê en elke vrou haar eie man.
3Die eggenoot behoort nie sy vrou seksuele intimiteit te ontsê nie. Dit is haar reg as getroude vrou. Net so moet die vrou ook nie haar man hierdie intimiteit ontsê nie. 4Met die huwelik het die vrou medeseggenskap oor haar liggaam oorgedra aan haar man. Net so het die man medeseggenskap oor sy liggaam aan sy vrou oorgedra.
5Julle moet mekaar dus nie seks ontsê nie, behalwe as julle ooreenkom op ’n beperkte tyd van onthouding sodat julle julle meer volkome aan gebed kan toewy. Daarna moet julle weer saamkom om te verhinder dat Satan julle tot sonde verlei weens julle gebrek aan selfbeheersing.
6Ek gee vir julle my mening hieroor; ek bedoel dit nie as ’n absolute reël nie. 7Eintlik sou ek wens dat almal – soos ek – sonder die huwelik sou regkom. Maar ons het verskillende gawes van God ontvang, die een hierdie, die ander een weer ander.
8Nou wil ek vir die ongetroudes en die weduwees sê: Dis beter om soos ek ongetroud te bly. 9Maar as hulle nie selfbeheersing kan toepas nie, is dit beter om te trou as om deur seksuele begeerte verteer te word.
10Vir die getroudes het ek ’n opdrag wat nie bloot van my kom nie, maar van die Here self.#7:10 Vgl Matt 5:32; 19:8-9; Mark 10:11-12; Luk 16:18. Dit is dat ’n vrou nie van haar man behoort te skei nie. 11Maar as sy dit tog wel doen, moet sy ongetroud bly of haar met haar man versoen. Net so mag die man ook nie van sy vrou skei nie.
12Nou gaan ek met die res van julle praat alhoewel ek nie ’n direkte opdrag van die Here het nie. As ’n Christenman#7:12 Grondteks broer. ’n ongelowige vrou het en sy vind dit goed om by hom te bly, moet hy nie van haar skei nie. 13En as ’n Christenvrou ’n ongelowige man het en hy vind dit goed om by haar te bly, moet sy nie van hom skei nie. 14Want die Christenvrou bring ’n atmosfeer van gewydheid#7:14 Of heiligheid. oor haar ongelowige man en die Christenman bring ’n atmosfeer van gewydheid oor sy vrou. Anders sou julle kinders nie aan God toegewyd wees nie, maar nou is hulle. 15(Maar as die ongelowige huweliksmaat daarop aandring om te skei, laat dit dan so wees. In sulke gevalle is die Christenbroer of -suster nie verplig om met die huwelik voort te gaan nie. God wil immers hê dat julle in vrede lewe.) 16Wie weet, dalk help jy as Christenvrou jou man om verlos te word. Of wie weet, dalk help jy as Christenman jou vrou om verlos te word.
17Elkeen van julle moet voortgaan in die lewensituasie wat die Here vir julle gegee het toe julle God se roepstem gehoor het. Dit is my opdrag aan al die gemeentes. 18As jy byvoorbeeld reeds besny was toe jy geroep is, moet jy nie jou besnydenis ongedaan laat maak nie. As jy onbesnede was toe jy geroep is, moet jy jou nie nou laat besny nie. 19Of jy besny is of nie – dis heeltemal onbelangrik. Wat wel belangrik is, is om God se opdragte na te kom.
20Gaan dus voort soos julle was toe God julle geroep het. 21Is jy ’n slaaf? Moet jou nie daaroor verknies nie – maar as jy wel jou vryheid kan verkry, gryp die geleentheid beslis aan. 22En onthou, alhoewel jy ’n slaaf was toe die Here jou geroep het, het jy ’n vrygemaakte van die Here geword; en omgekeerd, as jy vry was toe jy geroep is, het jy ’n slaaf van Christus geword. 23God het julle teen ’n duur prys gekoop! Moenie slawe van mense word nie. 24Dus, broers en susters#7:24, 29 Grondteks broers., bly voor God in die omstandighede waarin julle was toe God julle geroep het.
25Wat die ongetroude meisies betref, beskik ek nie oor ’n opdrag van die Here nie. Maar die Here het my begenadig om betroubare leiding te gee en daarom gee ek nou my mening aan julle deur. 26Met die oog op die swaarkry van die eindtyd#7:26 Of die druk van die teenswoordige tyd., dink ek dis die beste dat julle bly soos julle nou is. 27As jy aan ’n vrou verbind is, moenie die huwelik probeer beëindig nie. As jy ongetroud is, moenie ’n vrou probeer kry nie. 28Maar as jy sou trou, doen jy nie sonde nie en as die ongetroude meisie sou trou, doen sy nie sonde nie. Ek wil julle egter die ekstra kwellinge spaar wat die huwelik meebring.
29Dít wil ek vir julle sê, broers en susters#7:24, 29 Grondteks broers., onthou die tyd wat nog oorbly, is kort. Daarom moet die getroude mans besef dat daar dinge is wat nog belangriker is as hulle huwelik. 30Om bly of hartseer te wees, of dinge te kan aankoop mag nie in die pad staan van die Here se werk nie. 31Dié wat gebruik maak van die dinge van hierdie wêreld, moenie daaraan geheg raak nie. Want hierdie bedeling gaan verby. 32Ek wil hê dat julle in alles wat julle doen, vry moet wees van die kwellinge van hierdie lewe. ’n Ongetroude man is begaan oor die dinge van die Here; oor hoe hy die Here kan gelukkig maak. 33Maar die getroude man is begaan oor wêreldse dinge, oor hoe hy sy vrou kan gelukkig maak. 34Sy aandag is verdeeld. Net so kan ’n vrou wat nie langer getroud is nie of nog nooit getroud was nie, haar aandag op die Here toespits om met liggaam en siel aan Hom toegewy te wees. Die getroude vrou is egter oor wêreldse dinge begaan, oor hoe sy haar man kan gelukkig maak.
35Ek sê hierdie dinge in julle belang, nie om allerlei beperkings op julle te lê nie. Ek wil hê julle moet, sonder dat iets julle aandag aftrek, fatsoenlik en toegewyd vir die Here lewe. 36Maar as ’n jong man oordeel dat hy oneerbaar teenoor sy meisie optree as hy nie met haar trou nie, of as hy probleme het om sy passie te beheer, moet hy na sy goeddunke handel. Hy doen nie sonde nie. Laat hulle maar trou. 37Maar as hy innerlik sterk staan en daar geen noodsaaklikheid bestaan om te trou nie; en as hy goeie selfbeheersing het en in sy hart klaar besluit het om sy meisie in haar ongehude staat te laat bly, doen hy ook goed. 38Hy wat dus met sy meisie trou, doen goed. Maar hy wat nie trou nie, doen beter.
39’n Vrou bly aan haar man verbind vir so lank as wat hy lewe. Maar as haar man te sterwe kom, is sy vry om met iemand van haar keuse te trou – mits hy ook ’n Christen is#7:39 Grondteks maar net in die Here.. 40Ek is egter van opinie dat sy gelukkiger sal wees as sy ongetroud bly. En ek meen dat hierdie advies van my van God se Gees afkomstig is.

Currently Selected:

1 KORINTIËRS 7: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy