AltydVoorbeeld

Dag 5: God is in alles … altyd!
1 Kronieke 16:34 “Dank die Here, want Hy is goed! Sy troue liefde duur vir altyd”. (NLV)
Ons lees 'n deel van Dawid se loflied toe die verbondsark na Jerusalem gebring is. Dawid het die volk aangemoedig om die Here te prys met 'n lied wat fokus op God se goedheid, liefde en trou. Dit is ‘n sentrale refrein, ’n oproep aan die volk om God te loof omdat sy goedheid altyd daar is, en sy liefde nooit eindig nie. Dit is woorde van hoop waaraan ons in goeie én moeilike tye kan vashou.
Die vers kom uit ’n spesiale oomblik in die Bybel. Koning Dawid het die verbondsark na Jerusalem gebring en ’n groot fees gehou om die Here te loof. Tydens hierdie fees het Dawid en die mense liedere gesing om God se goedheid te vier. Een van daardie liedere bevat hierdie vers. Dit wys vir ons hoe belangrik dit is om God te loof, nie net wanneer dinge goed gaan nie, maar ook wanneer dit moeilik is.
Wanneer ons sê “Loof die Here”, beteken dit ons prys Hom, ons sê dankie vir wat Hy doen. God is nie soos mense wat soms verander nie, Hy is ook nie 'n mens dat Hy kan lieg nie. Hy is altyd dieselfde; goed, liefdevol en getrou. Sy liefde het geen einde nie. Dit beteken Hy sal ons nooit verlaat nie, selfs nie in donker dae nie.
Ons kan hierdie vers elke dag in ons harte dra. As jy bly is, loof die Here. As jy hartseer voel, dink aan ‘n vorige tyd in jou lewe waardeur jy reeds is omdat God se genade met jou was.
Ons moet leer om te sê: “Loof die Here, want Hy is goed!” Dis nie net ’n sin uit die Bybel nie, dis ‘n lewenstyl, wat ons harte verander en vrede bring, ongeag wat rondom ons gebeur.
Gebed: Vader, U is die begin en die einde, die Alfa en Omega. U Woord bemoedig my en lig waarheid uit sodat my gees daarin kan marineer. U is oral … vir altyd.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan

Altyd. Wat is die ware betekenis van dié woord? As jy die sleutelbord nader trek en begin soek, sal jy die volgende vind: oneindig, aaneenlopend, sonder ophou, vir ewig en geen onderbreking nie. In ons daaglikse lewens is daar tye van vreugde en lewenslus, maar ook van hartseer, onsekerheid, spanning en vrees. Te midde van hierdie wisselende seisoene herinner die Bybel ons telkens daaraan dat God altyd met ons is, dus aaneenlopend, sonder ophou, geen einde daaraan nie. Hierdie waarheid bring diepe vertroosting, hoop en 'n gevoel van veiligheid. Nou en vir altyd!
More
Ons wil graag Felicia Lategan bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.felicia-lategan.com