AltydVoorbeeld

Dag 2: Deurentyd
Jesaja 49:16 “Kyk, Ek het jou naam in my hand gegrafeer. Die mure van Jerusalem wat afgebreek was, is altyd voor My”. (NLV)
In hierdie vers is 'n diep en persoonlike bevestiging van God se liefde en nabyheid. Hy verwys spesifiek na die verlede ook omdat God nooit van ons vergeet nie. Destyds toe ons eie “mure” dalk inmekaar gestort het, ‘n tyd van gebrokenheid, seer of skok. Wat dit ook al mag wees, ons name is nie net geskryf met ink op papier nie, maar gegraveer in sy hand. Dit is permanent, onveranderlik, onverklaarbaar en vir altyd sigbaar.
Daar is oomblikke in elkeen se lewe wanneer ons wonder of God ons sien, of Hy ons gebede hoor. Maar Jesaja 49:16 verseker ons dat God nie net bewus is van ons bestaan nie, maar dat ons diep in sy wese ingebed is. Ons is nie net 'n nommer in ’n skare nie.
Hierdie beeld roep ook herinneringe op aan die kruis. Wanneer ons dink aan Jesus se hande wat deurboor is, sien ons die uiterste bewys van God se liefde. In Christus se wonde is ons name gegraveer, ’n ewige teken van genade en redding. God se liefde vir ons is nie tydelik of voorwaardelik nie; dit is vas, diep en persoonlik.
Om te weet dat jou naam in God se hand staan, bring troos in tye van pyn, hoop in onsekerheid en betekenis in ’n wêreld wat soms koud en vinnig beweeg. God vergeet nie. God los nie.
Mag hierdie teksvers ‘n daaglikse herinnering bly: Jy is geken, bemin en nooit alleen nie. Nooit is die tweeling van altyd!
Gebed: Vader, wat ‘n voorreg om te weet dat U mý naam sigbaar saamdra.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan

Altyd. Wat is die ware betekenis van dié woord? As jy die sleutelbord nader trek en begin soek, sal jy die volgende vind: oneindig, aaneenlopend, sonder ophou, vir ewig en geen onderbreking nie. In ons daaglikse lewens is daar tye van vreugde en lewenslus, maar ook van hartseer, onsekerheid, spanning en vrees. Te midde van hierdie wisselende seisoene herinner die Bybel ons telkens daaraan dat God altyd met ons is, dus aaneenlopend, sonder ophou, geen einde daaraan nie. Hierdie waarheid bring diepe vertroosting, hoop en 'n gevoel van veiligheid. Nou en vir altyd!
More
Ons wil graag Felicia Lategan bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.felicia-lategan.com