Kom saam, Ontdek wysheid uit die Woord.Voorbeeld

JESUS AS DIE LIG
"Op ‘n ander keer het Jesus vir die mense gesê: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee” Joh. 8:12 AFR83.
Ek kan nog so goed onthou hoe bang ek as klein dogtertjie was om in die nag wakker te word. Maar ek onthou ook glashelder my groot verligting as ek in die gang afloer en die skynsel van die bedliggie in my ouers se kamer sien. Sonder om ‘n oomblik te wyfel, sou ek vorentoe hardloop na waar daardie liggie is en by hulle in die bed spring – alle bangwees vergete.
God se volk het groot waarde geheg aan seremonies en embleme wat die simbool van lig uitbeeld, want dit het hulle herinner aan die wolkkolom bedags en vuurkolom snags waarmee God hulle uit Egipteland gelei het. Dit het hulle veilig laat voel.
In die Nuwe Testamentiese tyd kom Jesus en Hy sê vir ons: Jy hoef nooit meer bang te wees vir mense, dinge, gebeure, jou verlede, die hede, of die toekoms nie. As jy My volg, is Ek nou jou Lig. Jy sal nooit meer in die duisternis lewe nie! Dis amper asof Hy wil sê: Jy het nou nie meer simbole nodig om jou aan my te herinner nie. As jy My kies, is Ek binne-in jou! Die Lig is ín jou!
Dawid skryf in die Psalms dat God se Woord ‘n lamp vir sy voete is en ‘n lig vir sy pad (Ps. 119:105). Hy bid dat God sy lig en waarheid sal stuur om hom op sy pad te lei (Ps. 43:3). Dis asof hy alreeds iets van God se lig ervaar het. As Johannes sê dat Jesus God se Woord is, dan kan ons mos glo en weet dat Hy ook die Lig is (Joh. 1:1).
Jesus is die Lig in ons donker wêreld.
GEBED: Liewe Jesus Christus, baie dankie dat U my Lig is. Dankie dat ek nooit weer vir enigiets hoef bang te wees nie. Amen.
Aangaande hierdie leesplan

Kom klim saam met my in my motor. Kom saam op my reis. Dis my gebed dat die Here vir jou hoop sal gee wanneer jy moeg en moedeloos is. Ook dat Hy vir jou vreugde sal gee wanneer jy gestroop en tam is. Mag God jou mooi help om sy lig daar voor in die pad te bly volg.
More
Ons wil graag Sonja Goldberg bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.sonjagoldberg.co.za