Leesplan inligting

Oorwinning oor Beproewings - 'n Studie van 1 & 2 PetrusVoorbeeld

Oorwinning oor Beproewings - 'n Studie van 1 & 2 Petrus

DAG 7 VAN 43




Wees Innig Lief Vir Mekaar

Lees: 1 Petrus 1:22-25

SOAP: 1 Petrus 1:24-25

Die Skrif sê: “Die mens is soos gras, en al sy prag soos 'n veldblom; die gras verdor en die blom val af, maar die woord van die Here, dít bly vir ewig.” En hierdie woord is die evangelie wat aan julle verkondig is.

Oordenking

Het jy al ooit nagedink oor die diepte van jou liefde vir ander? In 1 Petrus 1:22-25 word ons aangespoor om mekaar innig, van harte lief te hê. Dit is nie ‘n oppervlakkige of voorwaardelike liefde nie, maar eerder ‘n opregte, onbaatsugtige liefde wat die liefde van Christus weerspieël.

As ons opreg en onbaatsugtig wil liefhê, soos Christus, moet ons van onsself wegkyk. In plaas daarvan om te vra: “Wat kan ander vir my doen?” moet ons liewer vra: “Hoe kan ek ander in my lewe meer liefhê?” Hierdie fokusverskuiwing van die self na ander is transformerend. Dit is waar die saad van om lief te hê soos Christus, geplant en gevoed word. Vir so baie mense gaan liefde hoofsaaklik oor ‘n gevoel, maar dit is nie. Jy kan steeds kies om iemand lief te hê al voel jy geen liefde vir hulle nie. Christelike liefde is nie in hoofsaak ‘n kwessie van gevoelens nie, maar eerder ‘n kwessie van die wil. Ons wys vir ander dat ons hulle liefhet deur ons optrede teenoor hulle (Johannes 13:35).

Dit is egter moeilik om ander regtig lief te hê as ons nie ons lewens onderwerp aan wat die Woord van God sê nie. Wanneer ons die Woord van God lees, sien ons Jesus se voorbeeld en leer die belangrikheid daarvan om ander opreg lief te hê. Ons het lief omdat Christus ons liefhet. Ons leer wat dit is om soos Christus lief te hê deur sy Woord te bestudeer en te gehoorsaam. In ‘n wêreld waar alles so verbygaande en vlietend lyk, staan die Woord van God in skrille kontras. Dit is lewend, aktief, en sal vir ewig bestaan (Hebreërs 4:12; Matteus 24:35).

Dit maak dus wel saak waarin ons ons lewens belê. Dit is belangrik om te onthou dat ons prestasies, rykdom, en materiële besittings nie in die groot plan van die ewigheid gaan standhou nie. Hierdie dinge is tydelik, en verwelk soos ‘n delikate blom onder ‘n skroeiende son. Maar die Woord van God sal nie verwelk nie. Wat Hy ook al sê, sal standhou — en dit is deur hierdie Woord dat ons nuut gemaak is. Ons kan vol vertroue wees dat ons nuwe lewe in Christus vir ewig sal duur.

Soos ons streef om soos Jesus te lewe en lief te hê, onthou dat dit in ons harte begin. Ons is kanale van sy liefde, genade en waarheid na ‘n wêreld in desperate nood. Het ons ander lief soos Christus ons liefhet? Die goeie nuus is dat ons nie die liefde in ons eie krag hoef bymekaar te skraap nie. Ons kan God vra om ons elke dag opnuut met sy liefde te vul sodat ons dit op ander kan uitstort en ons lewens belê in die dinge wat regtig vir die ewigheid saak maak … mense en die Woord van God! Daarom streef ons by Love God Greatly daarna om die Woord van God in soveel tale as moontlik en in soveel hande as wat God ons gun, te kry.

Gebed

Dierbare Here Jesus, vul ons harte met onbaatsugtige liefde sodat ons dit op ander kan uitstort en ewige beleggings maak deur u Woord te koester. Help ons om weg te kyk van onsself en die geleenthede raak te sien wat U oor ons pad bring om innig lief te hê en te leef vir wat werklik blywend is. Amen.

Dag 6Dag 8

Aangaande hierdie leesplan

Oorwinning oor Beproewings - 'n Studie van 1 & 2 Petrus

Petrus was 'n passievolle en toegewyde dissipel, 'n "ooggetuie van die lyde van Christus." Hoewel hierdie twee briewe eeue gelede geskryf is, spreek dit steeds tot ons hedendaagse uitdagings en bied hoop. Dit is 'n onont...

More

Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.lovegodgreatly.com/Afrikaans

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid