Leesplan inligting

My Tyd - Sy TydVoorbeeld

My Tyd - Sy Tyd

DAG 1 VAN 5

Dag 1: Die Koppelteken

Psalm 139:16 “U Het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is.”

My geboortedatum het op ‘n sekere dag plaasgevind. My identiteitsdokument bevestig dit. Dit was ook die tyd wat God lank reeds vooruit beplan het — soos dit in Psalm 139 bevestig word.

Van die oomblik af wat my moeder my in haar arms vasgehou het, het God vooruit gesien en my pad voorberei. Dit kan baie keer ‘n abstrakte begrip wees; hóé is dit moontlik dat ‘n God, ‘n deursigtige Wese alles van my bestaan kan weet en beplan?

Ek het lankal besluit om God nie te probeer analiseer nie, nog minder die verskeie paaie in my lewe waarop ek reeds moes stap. Verskeie daarvan was belaai met óf klipperige grond óf dryfsand en ook talle vrae. Tog is die bewuswording wat my gereeld oorval: wat het ek tot dusver gedoen met die ruimte of koppelteken wat tussen my geboortedatum en sterfdatum gaan verskyn? Dalk is die tyd nog gouer verby as wat ek dink.

As mense, is ons geneig om te dink daar is nog baie tyd vir 'n klomp dinge en gedagtes “waarby ek nog sal uitkom”.

Die koppelteken … ek dink vooruit aan my begrafnis. Dis wel ‘n sombere gedagte maar ek moet daaroor nadink. Wat gaan my koppelteken, die aanduiding tot my laaste dag, verteenwoordig?

Wat het ek gedoen met my "beskikbare ruimte"?

Gebed: Here, telkemale wonder ek oor hoeveel tyd ek nog op aarde gegun gaan word. Daar is sóveel wat in my hart en gedagtes leef. Soms is ek net te oorweldig om enige aandag daaraan te gee. Die lewe is soms deurmekaar … maar U is vooruit! Maak my deur u Gees bewus van wat ek vandag moet sien, lees, hoor of doen.

Ek is ‘n voorstaander daarvan om notas te maak om myself te herinner aan dinge wat gedoen moet word, maar ook notas om my denke reg te bestuur. Die nota op my spieël lees: “Die volgende 24 uur is hier – wat gaan jy daarmee doen?”

Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

My Tyd - Sy Tyd

So dikwels gebruik ons die term “God se tyd is nie ons tyd nie” of “my tyd is in sy hande”. Ons verwys selfs na wat in die Woord staan; dat eenduisend dae vir God soos een dag is. Hierdie leesplan werp ‘n ander lig op di...

More

Ons wil graag Felicia Lategan bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.felicia-lategan.com/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid