Hoe Om Jou Millenniër Te Help Om Na Geloof Terug Te KeerVoorbeeld

"Gemeenskapsbou Begin Met Die Huwelik"
Jare gelede, toe ek (Jason) nog 'n leraar by 'n plaaslike kerk was, het ek 'n vrou raakgeloop wat op die onderste vloer gewerk het. Ek het haar gegroet en aanhou loop, maar sy roep my toe op my naam. Ek het omgedraai om te kyk of iets verkeerd was.
Sy hardloop toe desperaat op my af. Net 'n paar maande gelede het sy my vertel van haar seun wat so goed op universiteit vorder. Hy was nog altyd 'n goeie student en het selfs oorweeg om 'n sendeling te word. Nou was daar egter iets verskriklik verkeerd. Toe hy vir 'n vakansie huistoe kom, vertel hy vir sy ouers dat hy nou 'n ateïs is. Sy was erg geskok. Oor die loop van die volgende jaar het ek die gesin probeer help, maar hulle seun op universiteit het nooit weer na Christus teruggekeer nie.
Ek onthou hoe verslae die ouers was. Hulle het herhaaldelik verduidelik van hul pogings om hul kinders in 'n Christelike huis groot te maak. Hulle het duisende rande op private Christelike opvoeding uitgegee en het in soveel as moontlik van hul kinders se aktiwiteite betrokke gebly. Tog het ek iets opgelet terwyl ek met die ouers gepraat het. Die paartjie het gedurig gestry. As hy iets begin sê, dan het sy hom in die rede geval. Wanneer sy praat, het hy haar gedurig gekorrigeer, wat net tot 'n verdere stryery gelei het. Dit het nooit opgehou nie.
Waarom vertel ek hierdie verhaaltjie?
Ek noem dit, want as jy met jou millenniër oor die weg wil kom, moet jy eers met jou huweliksmaat oor die weg kom. Deesdae, met die hoë egskeidingsyfer en hertroues in gedagte, sal dit seker vir baie van julle baie moeilik wees.
Daar is van julle wat geskei is en baie min (of geen) kontak met julle gewese huweliksmaats het nie. Sommige van julle is al lank getroud, maar kon nog nooit ooreenstem oor die opvoeding van julle kinders nie. Noudat julle kinders groot is, is dit 'n probleem.
Nog ander is geskei en het weer getrou. Dit beteken julle het stiefkinders — wat dinge nog ingewikkelder maak.
Die res van julle is nog gelukkig getroud en kry nog meer maniere om verhoudings te bou en met jul volwasse kinders oor die weg te kom. Uitstekend!
Gesinne verskil deesdae baie van mekaar. Sommige is meer ingewikkeld en deurmekaar as ander. Dit bly egter 'n feit dat God van ouers verwag om na samehorigheid te strewe en 'n verenigde front in die huis te vorm. Dit sluit in om 'n rotsvaste huwelik te hê en in jul ouerskap ooreen te stem. Dit is regtig moeilik om met jou millenniër oor die weg te kom as jy nie eens met jou huweliksmaat kan nie. Ongeag hoe hard jy probeer, is dit onmoontlik om te verhoed dat julle huweliksprobleme met jul ouerskap inmeng. Werk aan jou probleme met jou huweliksmaat. Doen alles in jou vermoë om jou huwelik te herstel en sterk te maak.
Die huwelik is die middelpunt van die gesin. As die huwelik sterk is, sal die gesin sterk wees. As die huwelik egter swak is, sal die gesin ook swak wees. Wanneer die huwelik in die moeilikheid is, is die gesin in die moeilikheid. Die probleme wat jy met jou millenniër het, kan maklik aan vorige of huidige probleme in jul huwelik verwant wees.
Indien dit in jou huwelik regtig sleg gaan of daar probleme tussen jou en jou millenniërkind is, moet jy by 'n godvrugtige paartjie, 'n groep wat jou verantwoordbaar sal hou, of by 'n Christelike berader hulp soek. Die Bybel sê: "Sonder oorwoë leiding val 'n volk; die redding lê in baie raadgewers" (Spreuke 11:14). Addisionele leiding sal jou die ondersteuning bied wat jy nodig het om deur groot vraagstukke tussen jou en jou millenniër te werk. Moenie dit verwaarloos nie. Kry die hulp wat jy nodig het. Dis noodsaaklik vir ouers om aan die verhouding met hul millenniërs te bou, maar daarvoor moet hulle in die eerste plek eensgesindheid in hul huwelike hê.
Aangaande hierdie leesplan

Om hul geloof te laat vaar, is 'n pynlik diep en algemene probleem wat onder millenniërs voorkom. Selfs sommige wat in sterk Christelike gesinne grootgeword het, stap van hul geloof af weg. Deskundige apologete en outeurs, Alex McFarland en Jason Jimenez, hanteer hierdie nuwe werklikheid met deernis aan ouers wat belas en alleen voel. Hulle deel statistieke, verhale en praktiese maniere hoe ouers hul kinders kan beïnvloed en help om hulle huistoe te lei.
More