Leesplan inligting

Wysheid vir die ToekomsVoorbeeld

Wysheid vir die Toekoms

DAG 5 VAN 5

Vraag 5: Wat is die volgende stappe?

As jy ʼn toep of ʼn horlosie gebruik wat jou treë tel, mag jy dalk verbaas wees oor hoeveel treë jy per dag gee of hoe vinnig die aantal treë meer word. Om op en af te stap tussen winkelrakke voel dalk nie soos oefening nie, maar elke tree dra by tot jou liggaam se daaglikse beweging. Die lewe werk op dieselfde manier en vandag kyk ons na die feit dat klein, opeenvolgende treetjies op die ou end beweging en dan momentum teweegbring. Daardie volgende treetjie beweeg jou weg van waar jy vasgeval het en gee jou die traksie wat jy nodig het om die toekoms met vrymoedigheid tegemoet te gaan.

Die lewe bestaan uit ʼn reeks probleme en ons groei deur daardie probleme op te los. Met die probleem wat jy tans hanteer in jou agterkop, vra ons die vyfde en finale vraag: “Wat is die volgende stappe?” Om aan te beweeg van waar jy jou tans bevind, kan jy hierdie vraag na God toe neem met die Volgende-Stap-Gebed: “Jesus, wys asseblief vir my die volgende stap wat ek moet neem om in die rigting te beweeg wat U in my hart geplaas het.” Ons praat, dink en tob baie meer oor ons probleme as wat ons oor hulle bid, en soms is ons ook huiwerig om ander te vra om saam met ons of vir ons te bid. Verbind jouself daarom tot gebed en kyk watter vars idees, duidelike riglyne of volgende stappe God op jou hart druk.

Die realiteit is dat die blote oorweging van jou opsies niks aan jou situasie gaan verander nie. Uitvoering is noodsaaklik. Met die goed wat jou terughou in ag genome, dink aan hoe ʼn klein treetjie moontlik beweging kan veroorsaak wat sal lei na momentum en verandering.

Ek het eenmaal, nes duisende ander mense, my laaste kersinkopies gaan doen op Oukersaand en, glo dit of nie, ek het ʼn gratis parkering naby die hoofingang van die stampvol inkopiesentrum gekry. Van toe af leef ek volgens die beginsel dat daar altyd parkering sal wees (al kan ek dit dalk nie op daardie oomblik sien nie). Met ander woorde, daar is altyd oplossings vir al die probleme wat oor my pad kom en God weet presies wat hulle is.

Die vyf vrae wat ons geleer het om ons af te vra bring moontlikhede aan die lig wat ons vroeër misgekyk het. Paulus skryf: “... want ons leef deur te glo en nie deur te sien nie” (2 Korintiërs 5:7 NLV). Ek ken soveel mense wat hierdie vyf-vraag-proses gevolg het en ongelooflike resultate gekry het. Selfs al het hulle situasies onoorkomelik gelyk, het hulle dit gewaag om hulle diepste begeertes aan God bekend te maak. Hulle het hulle vertroue in God gestel om hulle verstand oop te maak vir sy bonatuurlike kreatiwiteit om daardeur te werk. Hulle het selfs buitensporige moontlikhede begin oorweeg. Hulle het ʼn stap in die geloof geneem en geglo dat God getrouheid selfs in die kleinste dingetjies beloon. Dit kan ook jou verhaal wees.

Neem hierdie vyf vrae saam met jou wanneer jy die avontuur van jou toekoms aanpak en gebruik hulle om elke uitdaging te benader. Mag God vir jou ʼn helder verstand en wysheid in jou hart gee wanneer jy jouself afvra: Wat is die probleem? Wat wil ek graag hê? Hoekom wil ek dit hê? Wat is my opsies? Wat is die volgende stappe?

Hierdie leesplan is aangepas uit die reeks “Wisdom for the Future”, op RightNow Media. Vir meer inligting, besoek: https://www.rightnowmedia.org/af/get-access

Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Wysheid vir die Toekoms

Staar jy ʼn moeilike uitdaging in die gesig? Is daar ʼn doelwit wat jy graag wil nastreef, maar jy voel asof jy vasgeval het? Geen opsies? Onseker oor jou volgende stap? In hierdie inspirerende leesplan ondersoek Jean Symo...

More

Ons wil graag Doxa Deo bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.doxadeo.org/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid