Leesplan inligting

Verlore Tot GevindVoorbeeld

Verlore Tot Gevind

DAG 5 VAN 5

ALLES WAT EK HET, IS TOG JOUNE


Lukas 15:31-32


Ons kyk dikwels na ander mense se lewens en vergelyk ons pad met hulle s’n. Soms uit bitterheid, jaloesie, of godsdienstige selfregverdiging. Dis wat die ouer broer in Jesus se verhaal gedoen het. Hy het gevoel omdat hy homself afsloof in diens van sy pa, omdat hy nie die een is wat opgemors het en die pad gevat het nie, verdien hy meer van sy pa af as sy broer.


Ons neem ook soms daai standpunt in. Jy het nog altyd hard gewerk vir alles wat jy het. Jy het nie soos “daai mense” rond geslaap en immoreel geleef nie. Jy betaal jou tiendes, jy gee aan die armes, jy bid, jy lees Bybel, jy hou stiltetyd. Sekerlik moet God ‘n sagter plek in sy hart vir jou hê as vir ander.


Maar God werk nie met ‘n puntestelsel, soos ‘n onderwyser met sterretjies op die bord werk nie. God werk met ‘n genadestelsel. Sy stelsel is om altyd fees te vier oor ‘n verlore seun of dogter wie die pad terug huis toe gevind het. Ons wat reeds gevind is, moet saam Hom fees vier. Maar ons blaas ons wange op en kla dat daar nie vir ons ook partytjie gehou word nie. Ek wonder wat die ouer broer sou wou sien met sy jonger broer gebeur? Dat hy sy swaar verdiende loon kry — ‘n lewe van verwaarloosheid, ver van sy pa se huis, want hy moet mos die nagevolge van sy dade dra? Ek wonder wat hy sou wou sien gebeur as die rolle omgeruil was, as hy die een was wat verlore geraak het.


Om kwaad te raak wanneer daar partytjie gehou word oor ‘n verlore kind wat huis toe gekom het, is ‘n teken van ‘n verharde hart, van ‘n hart wat nie genade verstaan nie, van ‘n hart wat dink hy is beter as ander, ‘n hart wat so gefokus is op die partytjie vir die verlore seun dat hy nie hoor: “Kyk, my liewe seun, ek en jy is nog altyd hier bymekaar en alles wat ek het, is tog joune”.

Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Verlore Tot Gevind

‘n Kerndeel van die Christelike geloof is die erkenning dat ons verlore is sonder God. Sonder sy genade is ons verlore. Sonder sy liefde is ons verlore. Nogtans reik Hy eerste na ons uit en vat ons vanuit ons verlore ple...

More

Ons wil graag Ivor Swartz bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief:  https://www.nb.co.za/af/view-book/?id=9780796322180

 

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid