Leesplan inligting

Vrug: 'n Onvergeetlike leweVoorbeeld

Vrug: 'n Onvergeetlike lewe

DAG 4 VAN 10

Die Vrug van die Gees: Vrede


Galasiërs 5:22 AFR53: "Die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, selfbeheersing."


Elke mens het ‘n begeerte om vrede te ervaar, nie net vrede om ons nie, maar ook vrede in ons harte en gemoedere. Hoe sal ons dit kan bekom of demonstreer in ‘n wêreld waar vrede gereeld by ons gesteel word?


Die profeet Jesaja stel die bron van ons vrede aan ons voor in Jesaja 9:6: die Prins van Vrede of Vredevors. Dit is slegs in Jesus Christus dat vrede sy volle betekenis vind. Vrede in enige ander konteks is hoegenaamd geen blywende vrede nie. 


Jesus sê in Johannes 14:27: "Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie."


Dus, hoe demonstreer ek vrede as ‘n vrug in my lewe? 




1. Wanneer ek besef dat Jesus Christus die Een is wat vrede tussen my en God die Vader gebring het.


Die feit dat ek vrede met God kan hê, maak dat vrede meer sigbaar raak in my lewe. Vrede tussen mens en God, is een van die belangrikste voorregte wat Adam en Eva in hul verhouding met God geniet het, en ook die grootste voorreg wat deur die sondeval prysgegee is. Wanneer ek staat maak op Christus as die Vredevors wat my met God die Vader versoen het, dan leef ek in sy vrede.


“Vredevreters”, kom steel ons vrede wanneer ons toelaat dat skuldgevoelens en leuens ons vrymoedigheid voor God kom steel. Wanneer jy dit toelaat om te gebeur, leef jy nie meer vanuit jou versoende verhouding met God nie, en word jou vrede gesteel. 




2. Wanneer Jesus se lewe my voorbeeld word vir ‘n gebalanseerde en gedissiplineerde lewe op aarde.


Jesaja 54:13: "Al jou inwoners sal leerlinge van die Here wees, en hulle sal altyd vrede geniet."


My lewe demonstreer vrede wanneer ek toelaat dat God se waarheid in elke area van my lewe heers. Hierdie waarheid kom in my lewe wanneer ek Christus se lewe en onderrig toelaat om my gedagtes en gedrag te rig. Dit is wanneer die Heilige Gees my elke dag help om te sien waar ek regtig is en hoe ek dalk afwyk van my ware identiteit in Christus.


Kom ons gebruik die area van verhoudings as ‘n voorbeeld:


Kolossense 3:15 sê: "God het julle immers geroep om as lede van een liggaam in vrede met mekaar te lewe."


Jesus se vrede word my vrede wanneer ek sy verhoudingslewe in my eie verhoudings met mense uitleef. Jesus het die Prins van Vrede geword sodat ons vredemakers kan wees! 


Dalk het die slegte ekonomiese klimaat jou fokus verskuif van vrygewigheid na ‘n meer persoonlike fokus. Doen waarvan jy oortuig is en laat jou vrede terugkeer omdat jy God se beginsels in hierdie area implementeer.




3. Wanneer ek van die ewigheid verseker is


Jesus Christus is die Outeur van lewe maar Hy het ook die dood oorwin. Jesus is die enigste Mens wat kon waag om ‘n belofte van ewige lewe te waarborg, want Hy is die Seun van God en Hy is die Opstanding en die Lewe. Wie Jesus is, gee vir my al die geloofsekerheid vir my ewige lewe.


Dink mooi oor jou eie vrees vir die dood; en dat ons so oorweldig word deur dit wat ons hoor en sien, dat ons nie meer in vrede kan leef nie. Dis omdat ons geloofsekerheid oor die ewigheid het dat ons sy vrede ons eie maak!




Ons uitdaging vir jou vandag: 


1. Skryf ‘n kort vredesverdrag om sodoende vrede te verklaar in ‘n area van jou lewe waar jy tot nou toe ‘n stryd gevoer het:


a. Beskryf jou “vyand” (area waarin jou vrede gesteel word).


b. Memoriseer en skryf Romeine 8:31 heeltemal uit. Sê vir God dankie dat Hy net die beste vir jou in gedagte het en dat Hy vir jou is.


Deel die goeie nuus van jou vredesverklaring met ‘n gelowige vriend of lewensmaat. 

Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

Vrug: 'n Onvergeetlike lewe

Die Vrug van die Gees is ‘n studie wat ons begelei na ‘n ontdekking van God se karakter en hoe dit in ons lewens realiseer. Dit is eerstens die studie van Jesus se karakter. Dit is deur die Heilige Gees wat hierdie vrugt...

More

Ons wil graag Doxa Deo bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.doxadeo.org

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid