Leesplan inligting

Vrug: 'n Onvergeetlike leweVoorbeeld

Vrug: 'n Onvergeetlike lewe

DAG 10 VAN 10

DIE VRUG van die Gees: Selfbeheersing


Galasiërs 5:22 AFR53: "Die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing."


Ons lewe in baie interessante tye en die lewe is so vinnig en gejaagd. Soms weet ons ook nie regtig hoekom nie. Eintlik moet ons 'n bietjie in die hier en nou leef en nie net by alles verby jaag nie.


Het jy al gehoor van die "Stanford marshmallow challenge"? Hulle gee vir kleuters ‘n malvalekker en sê as hulle kan wag sonder om die malvalekker te eet, kan hulle nog een kry. Hoe langer hulle wag, hoe groter is die versoeking om die malvalekker te eet. Die kleuters sukkel om die versoeking te weerstaan en dan eet sommige van hulle die lekker.


Ons hanteer ons lewens ook soms soos die Stanford-eksperiment. Ons het ‘n begeerte om dadelik goed te bekom of om dadelik resultate te sien. Ons jaag byvoorbeeld ‘n sekere salaris of posisie na. 


Ons sien hoe Jesus deur die Gees in die woestyn gelei is, waar die duiwel Hom probeer versoek het. Die duiwel bied Hom korttermyn vergoedings soos kos, rykdom en mag aan. Jesus se selfbeheersing voorkom dat Hy daarvoor swig, want sy Vader het vir Hom veel meer waarde gehad as dit wat die duiwel kon bied. 


Ons sien ook hoe Jesus selfbeheersing beoefen wanneer Hy met sy gevangeneming en kruisiging deur die priesters beskuldig word. Woede sou nie sy saak bevorder het nie. Hy het geweldige selfbeheersing in daardie oomblikke toegepas. 


Ek wonder hoeveel keer dit ons regtig in moeilike situasies help om kwaad te word? Dalk voel ons oor die korttermyn beter, maar selfbeheersing laat ons veel meer oor  die langtermyn wen.


Selfbeheersing is nie iets wat ons self kan doen nie, maar word bewerkstellig deur die sekerheid van my identiteit en waarheid in Christus Jesus deur die Heilige Gees. As ons in Hom gevestig is, is daar ‘n vastigheid en ‘n krag wat die wêreld nie van ons kan wegneem nie.


Ek en jy kan net selfbeheersing toepas wanneer ons die regte perspektief op die omstandighede het; wanneer ons die volle waarheid begryp. Dis hoekom ons die Heilige Gees so nodig het om ons in alles te lei.


Dalk is vandag se versoekings ‘n geleentheid vir toekomstige seëninge. Mag jy die vrug van selfbeheersing dra en mag jou karakter en integriteit waarmee jy die omstandighede hanteer, respek, eer en liefde in mense se lewens saai.




Ons uitdaging vir jou vandag:


Dink aan jou week en begin bid vir die mense en situasies wat dalk ‘n versoeking gaan wees om selfbeheersing te kan toepas. Laat toe dat die Heilige Gees jou sy perspektief oor die omstandighede gee.




Laat weet ons gerus by bl@doxadeo.org  hoe jy hierdie studie ervaar het.

Dag 9

Aangaande hierdie leesplan

Vrug: 'n Onvergeetlike lewe

Die Vrug van die Gees is ‘n studie wat ons begelei na ‘n ontdekking van God se karakter en hoe dit in ons lewens realiseer. Dit is eerstens die studie van Jesus se karakter. Dit is deur die Heilige Gees wat hierdie vrugt...

More

Ons wil graag Doxa Deo bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.doxadeo.org

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid