Lewe Veranderd: Na EgskeidingVoorbeeld

Jou Deel
Wanneer 'n huwelik eindig, is dit natuurlik om terug te kyk en te wonder wat gebeur het. Ons wil hê daar moet 'n verduideliking wees, asof dit die seer minder sal maak. As ons maar net geweet het hoekom, kon ons genees en aanbeweeg. Dit is maklik om die vraag te vra. Die moeilike deel is om te erken dat nie al die skuld op net een persoon geplaas kan word nie. Of ons strydlustig of passief was, ons het 'n rol gespeel om ons verhouding te beskadig.
Toe my man my verlaat het, het hy my gevra om hom vir twee volle weke nie te kontak nie. Hy was al vir so lank my man dat ek nie geweet het hoe ek twee dae gaan maak nie, wat nog te sê twee weke sonder om met hom te praat. Ek wou so graag sy wense respekteer, en gedink dat as ek dit sou doen, sou hy my dalk mis en van plan sou verander.
Iewers in die middel van daardie ellendige weke het ek besluit om iets produktiefs met my tyd te doen. Ek het geweet daar is twee mense in ons verhouding en dat ek dalk nie altyd alles reg gedoen het nie. Dus het ek my rooskleurige bril opsy gesit en indringend gekyk na die rol wat ek gespeel het in sy besluit dat ons huwelik verby is.
Ek het teruggedink aan die tye wat ek hom uitgeskel het omdat hy sy skoene op die trappe gelos het. Toe ek hom voor sy vriende of medewerkers gespot het. Die kere wat ek openlik sy intelligensie bevraagteken het of sy krag betwyfel het. Dit was moeilik om te erken, maar ek het besef ek is die vrou wat haar man gedurig verkleineer het.
God het daardie oomblik gebruik om my te verootmoedig. Nie net was ek nie die perfekte vrou wat ek myself voorgestel het om te wees nie, maar ek het bygedra tot 'n giftige huisomgewing waar nie een van ons veilig gevoel het om onsself te wees nie. My konfronterende behoefte aan beheer het stadig al die vertroue en respek uit ons huwelik gedreineer. Ek het geweet dat as ek ooit 'n gesonde verhouding wou hê, sou ek moes leer om ander se onvolmaakthede te aanvaar. Ek moes uitvind wanneer om stil te bly en hoe om lewe te spreek. Ek het God gevra om my te help om 'n vrou te word wat haar man liefhet, respekteer en eer.
Miskien klink my verhaal bekend en is jou behoefte om almal en alles te beheer wat jou verhoudinge strem. Dalk is jou fout om te kies om jou aandag van jou probleme af te lei deur inkopies, partytjies of onvanpaste verhoudings te geniet. Miskien kies jy om jou tyd te vul deur dinge vir ander te doen in plaas daarvan om jouself oop te stel vir ware intimiteit met hulle. Dalk ontken jy voortdurend jou behoeftes sodat jy die vrede kan bewaar en niemand omkrap nie. Nie een van hierdie metodes is gesond nie. Nie een van hulle lei na sterker verhoudings nie.
Dit maak nie saak hoekom jou huwelik beëindig is nie; God wil jou hartseer ten goede gebruik vir jouself. As jy Hom toelaat, verwyder Hy jou behoefte aan beheer, toegeeflikheid, bedrywigheid of om weg te kruip. Hy sal jou genees en jou herstel tot 'n sterker, meer deernisvolle weergawe van jouself. Vra God om aan jou te openbaar hoe jy meer soos Hy kan word en om die mense om jou beter lief te kan hê.
Vader God, ek erken dat ek nie perfek is nie. Ek het U elke dag in my lewe nodig. Vat my trots en openbaar aan my die foute wat ek dikwels in verhoudings maak. Genees die seer in my wat veroorsaak dat ek ander seermaak. Wys my hoe om ander lief te hê, te respekteer en te eer. Maak my meer soos U sodat ek vrymoedig, doelbewus en genadiglik kan liefhê. Help my om die vrou te word wat U my geskep het om te wees. In die Naam van Jesus. Amen!
Aangaande hierdie leesplan

Egskeiding bedroef die hart van God. Hy haat dit om ons in pyn te sien en waar ons aan skuld, skaamte en vrees vashou. Ten spyte van ons foute, verlang Hy daarna dat ons sy genade moet aanvaar en weet dat ons gewaardeer, gekoester en onvervangbaar is. Ongeag jou omstandighede, hierdie leesplan sal jou help om genesing na jou egskeiding te vind, sodat jy die verloste lewe kan leef wat God vir jou het — een vol hoop, vreugde en doelgerigtheid.
More