Leesplan inligting

Amen Voorbeeld

Amen

DAG 3 VAN 6

DRIE VRAE


“Oorgawe” is ’n woord wat die meeste van ons met mislukking of, selfs erger nog, met moed opgee assosieer. In hierdie sessie gee Angus vir ons ’n totaal nuwe perspektief op die krag van oorgawe. 


Die doel van ons geloof is nie om eredienste by te woon nie. Die doel van ons geloof is om verander te word sodat ons aan die beeld van Jesus gelyk sal word. Namate ons alles word waarvoor God ons geskep het, sal ’n nuwe entoesiasme oor die lewe in ons opvlam. Ons sal doelgerigtheid en krag ontvang in die plek van die mislukking en moedeloosheid wat ons geken het. 


Angus het ontdek dat God hom drie vrae gevra het wat sy gedagtes en voorstellings oor hoe hy God moet volg, verander het. 


’n Woord van pastoor Jackson 


Een van die wanopvattings wat ek die heel meeste by mense vind, en veral by mans, is dat die Christelike geloof vir swakkelinge is; dat die Christelike geloof op ’n manier ’n kruk is vir mense wat die lewe nie kan hanteer nie. 


Ek het egter ontdek om ’n ware volgeling van Christus te wees verg al die krag en moed wat ’n mens het. Dit is juis vir die sterkste en dapperste mense. Dit verg ons heel beste om vir Jesus te volg. 


Dit is baie makliker om moed op te gee; dit is baie makliker om te sê die wêreld is vol skynheilige mense. Dit is baie makliker om daarop te wys dat mense hulle geloof nie konsekwent uitleef nie, of om ’n ander rede te vind om die evangelieverhaal in onguns te bring. Dit verg baie moed en groot krag om te sê: “Ek gaan Jesus met my lewe verheerlik, hoe onvolmaak ek ook al is en al tree ek nie altyd reg op nie. Ek gaan my heel beste vir Hom gee.” 


’n Lewensles van Angus 


Eendag het ek in my kantoor op die plaas gesit toe ek ’n boodskap van die Here ontvang. Ek het in daardie stadium ’n boek met die titel Power Evangelism gelees. Agter in hierdie boek was daar verhale oor manne en vroue van God wat die wêreld vir Hom verander het. 


Terwyl ek hierdie verhale gelees het, het die Heilige Gees met my begin praat. Wat Hy vir my gewys het, was dat hierdie mans en vroue maar net doodgewone mense soos ek en jy was. Die enigste kwalifikasie wat hulle gehad het, was dat hulle die geloof gehad het om die Goeie Nuus met ander te deel. 


Ek het besluit om die stadsaal in Ladysmith, ’n paar uur se ry van ons af, te huur. Terwyl ek daarheen op pad was, was ek baie senuweeagtig. Maar die Here het vir my drie vrae gevra. 


Die eerste vraag was: “Is jy bereid om ter wille van My soos ’n dwaas te lyk?” Ek het geantwoord dat dit maklik sou wees, want ek is reeds ’n dwaas. 


Sy tweede vraag aan my was: “Is jy bereid dat mense ter wille van My Naam oor jou kwaadpraat?” Ek het geantwoord: “Ek is in elk geval dood, want ek het gesterf toe ek my lewe aan U gegee het.” 


Toe kom die derde vraag, die een waarmee ek vandag steeds sukkel: “Is jy bereid om jou vrou en jou geliefdes minder te sien omdat jy My dien?” En ek het gesê: “Ja, Here, maar slegs deur U genade.” En dit is vandag steeds my antwoord. 


Daardie eerste aand het ses mense vorentoe gekom toe ek die mense nooi om hulle lewe aan Jesus oor te gee. Met die byeenkomste in groot stadions wat ons die afgelope paar jaar gereël het, het ek duisende mense hulle lewe aan Christus sien toewy, maar ek sal nooit daardie ses mense vergeet nie. 


Die Christelike wandel gaan oor oorgawe, oor sterf aan die kruis en leef vir Jesus. Net dan sal jy die lewe ervaar, en dit in oorvloed. 


Vraag om oor na te dink: Johannes 10:10 | ’n Oorvloedige lewe 


Watter dinge in jou lewe sal mense oortuig dat jy die lewe in oorvloed leef? 


Vers om te memoriseer - Galasiërs 2:20


Hemelse Vader, dankie vir U groot liefde vir my. Vergewe my vir die kere dat ek afsydig teenoor U gestaan het of my nie aan U gesteur het nie. Ek wil leer om Jesus in alle fasette van my lewe te verheerlik. Heilige Gees, help my om raak te sien watter fasette van my lewe ek nog aan U moet oorgee sodat ek ook daardie oorwinning kan behaal. Gee vir my die krag en die moed om vir God ja te sê. Ek kies om weg te draai van opstandigheid af en om dapper in die geloof te wandel. Ek is so bly ek kan vandag deur die krag van Jesus se Naam die lewe in oorvloed geniet. Amen. 

Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Amen

Hierdie Bybelstudie bied aan jou ’n baie unieke geleentheid om die passie wat Angus vir Jesus het self te ervaar. As jy luister en jou hart oopmaak, sal jy vind dit is aansteeklik. Wanneer ek ook al by Angus is, groei my...

More

Ons wil graag Christelike Uitgewersmaatskappy en Angus Buchan bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.cumbooks.co.za/ en https://www.amazon.com/author/angusbuchan1​​​​​​​

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid