Leesplan inligting

Amen Voorbeeld

Amen

DAG 1 VAN 6

NIE ALLEEN NIE


Die meeste mense wil ’n buitengewone lewe hê, maar hulle voel vasgevang in hulle doodgewone omstandighede. Tog is “doodgewoon” die standaardtoerusting wat ons almal in die lewe ontvang. Wanneer ons egter kies om God se perspektief by ons lewe in te sluit, ontdek ons Hy het ons elkeen geskep met die potensiaal om buitengewoon te wees. 


Angus Buchan se lewe is ’n merkwaardige voorbeeld van hierdie beginsel. Die omstandighede van Angus se lewe het min belofte getoon, slegs ’n toekoms vol teleurstelling en hartseer. Die besluit om God in sy lewe in te nooi, het egter die deur na ’n totaal ander lewe vir hom oopgemaak. 


God trek niemand voor nie. Wat in Angus se lewe gebeur het, is ook in jóú lewe moontlik. God het mense gebruik om Angus die moontlikhede te laat sien wat God in sy lewe kan skep. God gebruik mense om dieselfde vir jou te doen. 


Deur hierdie hele Bybelstudie heen gaan ons na ’n paar treffende boodskappe van Angus Buchan kyk, asook na ’n paar opmerkings deur pastoor Allen Jackson. Die doel hiervan is om jou te help om diep na te dink oor die omstandighede wat God gebruik om jou na Hom toe te trek en Sy doel vir jou lewe te openbaar.


Met dit in gedagte, kom ons spring weg. Welkom by die eerste sessie van Amen.


’n Lewensles van Angus 


Ons kan dit nie alleen maak nie. Ons het God nodig. Ek praat nie hier van lidmaatskap van ’n Christelike organisasie nie, maar om Jesus Christus persoonlik te ken. Hy sal by jou wees wanneer jy Hom regtig nodig het, wanneer al jou sogenaamde vriende jou verlaat het. In die middel van die nag, wanneer jy nie kan slaap nie, sal Hy daar wees vir jou.


Ek het een waarheid in my lewe besef, en dit is dat ons die lewe nie alleen kan aanpak nie. 


Sommige mense sê wanneer jy in die Here glo, sal al jou probleme iets van die verlede wees. Dit is ’n leuen. Ek moet baie meer probleme hanteer sedert ek ’n Christen geword het, maar die Here het my nog nooit alleen gelos nie; Hy het my nog nooit in die steek gelaat nie (Heb. 13:5). God het nie gesê: “Ek sal jou uit die vuur haal” nie. Nee, Hy het belowe: “Ek sal saam met jou deur die vuur stap” (Jes. 43:2). Ek leef in en deur die krag van die Heilige Gees. En ek wil jou aanmoedig om dit ook te doen. Stel jou lewe oop en laat God in. Ek waarborg jou, jy sal ’n opwindende lewe geniet. 


Wanneer jy alles uit eie krag probeer doen, word daardie molshoop die spreekwoordelike berg. Sedert ons ons lewe en ons plaas aan Jesus oorgegee het, word ons as familie ryklik geseën. Ek slaap snags baie goed. Wanneer ek ’n probleem het, ken ek ’n Vriend wat nader aan my is as ’n broer en wat my sal help (Spr. 18:24). God het my en jou nie geskep om dinge alleen reg te kry nie. Ons is ’n span en ons almal het ’n familie nodig. God het ons geskep om in gemeenskap met Hom en met mekaar te leef. 


Jesus Christus stap die pad saam met ons en ons het die een berg ná die ander uitgeklim en oorwin. Jy kan dit ook regkry!


Vraag om oor na te dink: Markus 4:18-19 | Trek die onkruid uit 


Hoe gaan jy jou hart en gedagtes bewaar sodat jy nie in die strik trap om te dink jy kan die lewe uit eie krag aanpak nie?


Vers om te memoriseer - Hebreërs 11:6


Hemelse Vader, dankie vir verlossing in Angus se lewe. Ons prys U dat U die God van redding en herstel is. Ons kies om ons hart vandag vir U oop te maak. Gee vir ons ’n openbaring van Jesus wat werkliker is as enige ander spanning of probleem wat ons tans ervaar. Gee vir ons ’n ontvanklike hart sodat ons U vrede in ons lewe kan leer ken. Mag ons lewe ’n lewende getuienis wees teenoor die wêreld rondom ons. Maak ons oë oop vir die doelwitte waarvoor U ons geskep het. In Jesus se Naam. Amen. 

Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

Amen

Hierdie Bybelstudie bied aan jou ’n baie unieke geleentheid om die passie wat Angus vir Jesus het self te ervaar. As jy luister en jou hart oopmaak, sal jy vind dit is aansteeklik. Wanneer ek ook al by Angus is, groei my...

More

Ons wil graag Christelike Uitgewersmaatskappy en Angus Buchan bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.cumbooks.co.za/ en https://www.amazon.com/author/angusbuchan1​​​​​​​

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid