40 Daaglikse Oordenkings vir die LydenstydVoorbeeld

God Beloof Sy Ontferming
Weeklikse Oorsig:
In hierdie wêreld van ons wat deurlopend verander, is daar net een onveranderlike — die karakter van ons hemelse Vader. Die aarde self is deurgaans besig om verandering te ondergaan. Selfs dít wat nou as die standvastigste voorkom, sal eendag verdwyn. God is egter onveranderlik. God is onwankelbaar. Hy is volkome getrou en daaraan toegewy om die beloftes wat Hy aan jou gemaak het, na te kom. Mag jy jouself vestig in sy liefde wat nooit verander nie, terwyl ons hierdie week na God se beloftes kyk. Mag die karakter van God jou bron en jou skuiling wees — jou vaste, onwankelbare fondament.
Skrifgedeelte: “‘Want die berge kan padgee en die heuwels verdwyn. Maar my liefde vir jou sal nooit verander nie, en my verbond van vrede sal nooit verbreek word nie', sê die Here wat Hom oor jou ontferm" Jesaja 54:10 (NLV).
Oordenking:
Ontferming is iets wat selde ervaar word in 'n wêreld vol ongeërgdheid en wreedheid. Die meeste mense beskik blykbaar nie oor genoeg onbaatsugtigheid om hulle oor ander te kan ontferm nie. Ons samelewing maak dit duidelik dat ons aanvaarding totaal afhang van ons sukses en weinig te make het met die genade en ontferming van ander teenoor ons. Hoeveel liefde en respek ons ontvang, is gebaseer op ons prestasies en vermoëns, eerder as op die liefde en ontferming van diegene om ons. Ons God is egter nie van hierdie wêreld nie.
In Jesaja 54:10 gee God aan ons sy pragtige belofte van ontferming: “‘Want die berge kan padgee en die heuwels verdwyn. Maar my liefde vir jou sal nooit verander nie, en my verbond van vrede sal nooit verbreek word nie', sê die Here wat Hom oor jou ontferm." Ons hemelse Vader se liefde is standvastig en onbeweeglik. Sy ontferming oor jou is baie sekerder as die grond waarop jy loop. Selfs meer as dit — jou God se ontferming is in sy genade ingeweef. Psalm 103:8 sê: “Barmhartig en genadig is die Here, lankmoedig en vol liefde." God se ontferming is nie die gevolg van wat jy doen nie, maar eerder die gevolg van sy onmeetbare liefde vir jou.
Die liefde van God het 'n ander fondament as die liefde van enigiemand anders. In 'n wêreld waar alles op die idee van werke en belonings berus — oorsaak en gevolg — wil God jou fondament bou op sy onvoorwaardelike ontferming. God wil graag jul verhouding bou op die boustene van sy liefde en genade. Dit was God se ontferming oor jou wat Hom daartoe gedring het om vir Jesus na sy dood te stuur. Dit was God se ontferming oor jou wat Hom daartoe gedring het om jou op te soek toe sonde 'n wig tussen julle ingedryf het. Dit is ook God se ontferming wat Hom selfs nou dring om sy onbegryplike liefde oor jou uit te stort.
In watter opsig wil jy God se belofte van ontferming in jou lewe ervaar? Waar voel dit vir jou asof jy nie goed genoeg is nie? Waar voel jy nie geliefd nie? Jesaja 30:18-19 sê:
"Tog is die Here gretig om julle genadig te wees en wil Hy Hom oor julle ontferm: Die Here is 'n God wat reg laat geskied, en dit gaan goed met elkeen wat op Hom vertrou. Jy, volk in Sion, jy wat in Jerusalem woon, jy hoef nie meer te huil nie. Die Here sal jou genadig wees as jy na Hom roep om hulp, Hy sal jou gebed verhoor sodra Hy dit hoor."
Roep vandag tot jou God. Jy kan in sy ontferming vertroue hê. Sy liefde sal jou nie versaak nie. Onthou: “Die Here sal jou genadig wees as jy na Hom om hulp roep, Hy sal jou gebed verhoor.” Rus in sy belofte van ontferming. Laat sy liefde jou oprig in al die areas waar die wêreld jou afgebreek het. Mag jou lewensfondament gebou wees op die belofte van God se onbeperkte genade en ontferming.
Begeleide Gebed:
1. Bepeins God se belofte van ontferming.
“'Want die berge kan padgee en die heuwels verdwyn. Maar my liefde vir jou sal nooit verander nie, en my verbond van vrede sal nooit verbreek word nie', sê die Here wat Hom oor jou ontferm” Jesaja 54:10 (NLV).
2. Dink nou na oor jou eie lewe. Waar wil jy God se ontferming ervaar? Waar voel jy nie geliefd nie?
3. Vra vir God om sy liefde oor daardie areas van jou lewe uit te stort. Vra vir God om sy hart vol ontferming aan jou te openbaar. Kies om jouself deur God se oë te sien.
“Barmhartig en genadig is die Here, lankmoedig en vol liefde” Psalm 103:8.
Een van die belangrikste dinge wat jy kan doen om die oorvloedige lewe wat God vir jou wil gee uit te leef, is om jou perspektief in ooreenstemming met God s'n te bring. Die wêreld sal jou altyd laat verstaan dat jy nie goed genoeg is nie. As jy kies om jouself te sien soos wat jy beleef ánder jou sien, maak jy jouself net vir hartseer ontvanklik. Jy kan vandag nog besluit om jouself met dieselfde genade en ontferming as God te sien. Hy sien jou volmaak. Hy sien jou in alle eerlikheid. Hy sien jou op 'n liefdevolle manier. Wanneer jy ook al voel dat jy God se ontferming nodig het, gaan dan terug na die waarheid wat in sy Woord is. Sy beloftes is seker en onfeilbaar. Leef vandag in die lig van God se liefde en laat sy ontferming jou hart vul met vreugde en standvastigheid onder enige en alle omstandighede.
Verder Leeswerk: Psalm 145
Skrif
Aangaande hierdie leesplan

Hierdie leesplan, wat verskaf is deur First15, is ontwerp om jou op jou reis deur die Lydenstyd te vergesel en jou te bemoedig terwyl jy tyd in die teenwoordigheid van God deurbring en Hom doelbewus oor die volgende 40 dae opsoek. Ons hoop dat jy hierdie bron van groot hulp sal vind!
More