SAGARIA 2:1-5 - Compare All Versions

SAGARIA 2:1-5 AFR83 (Afrikaans 1983)

Ek het weer 'n gesig gesien. Daar was 'n man met 'n maatlyn in die hand, en ek het gevra: “Waar gaan u heen?” Hy het vir my gesê: “Ek gaan Jerusalem uitmeet om te sien hoe breed en hoe lank hy moet wees.” Die engel wat vir my die gesig moes uitlê, gaan toe vorentoe en kry 'n ander engel wat na hom toe kom. Hy het vir dié engel gesê: “Hardloop en sê vir daardie jongman: Jerusalem gaan 'n stad sonder mure word, so baie mense en diere gaan daar in hom wees. Die Here sê: Ek sal 'n muur van vuur rondom die stad wees, my magtige teenwoordigheid sal binne-in hom wees.”

SAGARIA 2:1-5 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

EN ek het my oë opgehef en gekyk — daar was 'n man met 'n meetsnoer in sy hand. Toe sê ek: Waar gaan u heen? En hy antwoord my: Om Jerusalem te meet, om te sien wat sy breedte en wat sy lengte is. En meteens kom die engel wat met my gespreek het, vorentoe; en 'n ander engel het te voorskyn gekom, hom tegemoet, aan wie hy sê: Loop gou, spreek met hierdie jongman en sê: Jerusalem sal lê soos 'n oop land weens die menigte van mense en vee daar binne-in. En Ek sal vir hom wees, spreek die HERE, 'n vurige muur rondom en tot heerlikheid daar binne-in.

SAGARIA 2:1-5 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Toe ek weer sien, was daar ’n man met ’n maatlyn in sy hand. “Waarheen is u op pad?” het ek gevra. Hy het geantwoord: “Ek gaan Jerusalem opmeet om te kyk wat sy lengte en breedte is.” Die engel by my het gegaan om ’n tweede engel wat na hom toe kom, te ontmoet. Die ander engel het gesê: “Maak gou en sê vir daardie jong man: ‘Jerusalem sal eendag so vol mense wees dat daar nie genoeg plek vir almal sal wees nie! Baie sal met hulle diere buite die stadsmure leef en tog veilig wees. Ek sal self ’n muur van vuur rondom Jerusalem wees, sê die HERE. Ek sal die heerlikheid binne die stad wees!’”

SAGARIA 2:1-5 DB (Die Boodskap)

Vir ’n derde keer het ek gedroom. Dié keer het ek ’n man met ’n maatband in sy hand gesien. Ek het vir hom gevra: Waarheen is jy op pad? Hy het my geantwoord: “Ek gaan Jerusalem opmeet. Ek wil kyk hoe lank en hoe breed dit is.” Die engel wat vroeër met my gepraat het, het op pad Jerusalem toe ’n ander engel raakgeloop. Hy sê toe vir hom: “Hardloop gou en gaan sê vir die jongman met die maatband: Jerusalem gaan nog uit sy nate bars. Daar gaan so baie mense en diere wees dat hulle buite die stad sal moet bly.” Die Here sê: “Ek sal hulle beskerm. Ek sal vir hulle soos ’n muur van vuur wees wat om hulle gebou is. Binne-in die stad sal hulle weet dat Ek daar is. Hulle sal weet dat Ek groot en sterk is.”

SAGARIA 2:1-5 ABA (Bybel vir almal)

Die Here het weer vir my iets gewys. Ek het 'n man gesien, en in sy hand was 'n tou om die stad Jerusalem te meet. Ek het vir hom gevra: “Waarnatoe gaan jy?” En hy het vir my gesê: “Ek gaan Jerusalem meet, ek wil sien hoe lank en hoe breed die stad is.” Die engel wat vir my moes sê wat alles beteken, het weggegaan. Maar 'n ander engel het na hom toe gegaan en vir hom gesê: “Hardloop terug en gaan sê vir daardie jongman, Sagaria: Jerusalem sal nie mure hê nie, want daar sal te veel mense en diere in die stad wees. Maar die Here sal self die stad beskerm. Hy sal 'n muur van vuur wees rondom die stad, en 'n lig binne-in die stad.”

SAGARIA 2:1-5 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Ek het opgekyk en gesien: Daar is 'n man met 'n maatlyn in sy hand! “Waar gaan u heen?” vra ek. Hy antwoord my: “Ek gaan Jerusalem opmeet om sy breedte en lengte vas te stel.” Kyk, die engel wat met my praat, was besig om weg te gaan toe 'n tweede engel hom tegemoet kom en vir hom sê: “Hardloop en sê vir daardie jong man, ‘Jerusalem sal soos 'n stad sonder mure wees omdat so baie mense en diere daar woon. Ek self sal 'n muur van vuur rondom Jerusalem wees, en Ek sal heerlikheid in hulle midde wees.’ Dit is die uitspraak van die HERE.”

SAGARIA 2:1-5 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

Ek het weer my oë opgeslaan en gekyk, en daar was 'n man met 'n meetsnoer in sy hand. Toe sê ek: Waar gaan jy heen? En hy het vir my gesê: Om Jerusalem te meet, om te sien wat sy breedte en wat sy lengte is. En kyk, die engel wat met my gespreek het, het uitgegaan, en 'n ander engel het uitgegaan hom tegemoet, En hy sê vir hom: Hardloop, spreek met hierdie jongman en sê: Jerusalem sal bewoon word soos stede sonder mure vir die menigte van mense en vee daarin. Want Ek, spreek die HERE, sal vir haar 'n muur van vuur rondom wees en 'n heerlikheid in haar midde.