Sagaria 2

2
Derde visioen
1 Ek het opgekyk en gesien: Daar is 'n man met 'n maatlyn in sy hand! 2“Waar gaan u heen?” vra ek. Hy antwoord my: “Ek gaan Jerusalem opmeet om sy breedte en lengte vas te stel.”
3Kyk, die engel wat met my praat, was besig om weg te gaan toe 'n tweede engel hom tegemoet kom 4 en vir hom sê: “Hardloop en sê vir daardie jong man, ‘Jerusalem sal soos 'n stad sonder mure wees omdat so baie mense en diere daar woon. 5 Ek self sal 'n muur van vuur rondom Jerusalem wees, en Ek sal heerlikheid in hulle midde wees.’ Dit is die uitspraak van die Here.”
6 “Kom, kom! Vlug uit die noorde!” is die uitspraak van die Here. “Want so ver as die vier windstreke van die hemel het Ek julle verstrooi,” is die uitspraak van die Here. 7“Kom! Vlug weg, Sion, julle wat by die dogter van Babel woon!”
8 Want so sê die Here, Heerser oor alle magte, wat my ter wille van sy heerlikheid gestuur het na die nasies deur wie julle uitgebuit is: “Waarlik, wie aan julle vat, vat aan die appel van my oog. 9 Ja, kyk, Ek sal my hand heen en weer oor hulle swaai, en hulle sal buit word vir hulle eie slawe.” Dan sal julle weet dat dit die Here, Heerser oor alle magte, is wat my gestuur het.
10“ Juig en wees bly, dogter van Sion! Want, kyk, Ek kom in jou midde woon,” is die uitspraak van die Here. 11“Baie nasies sal hulle op daardie dag aan die Here verbind. Hulle sal my volk word, en Ek sal in jou midde woon.” Dan sal jy weet dat dit die Here, Heerser oor alle magte, is wat my na jou gestuur het. 12 Die Here sal Juda op die heilige grond as sy erfdeel in besit neem en Jerusalem weer verkies. 13 Wees stil voor die Here alle mense, want Hy tree te voorskyn uit sy heilige woonplek.

Tans Gekies:

Sagaria 2: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid