ROMEINE 8:15-19
ROMEINE 8:15-19 Bybel vir almal (ABA)
God het vir julle die Heilige Gees gegee. Daarom is julle nie soos slawe nie, julle moenie bang wees vir God nie. Nee, God het julle aangeneem, julle is nou sy kinders, en die Heilige Gees help ons om vir God te sê “Vader.” Ja, die Heilige Gees help ons om baie seker te weet dat ons God se kinders is. Ons is God se kinders, en daarom sal God ook vir ons gee wat Hy vir ons belowe het. Ja, ons sal saam met Christus alles kry wat God gee. Maar dan moet ons saam met Christus swaarkry, sodat ons soos Christus kan wees, Christus wat Koning is. Ons kry nou baie swaar, maar ek weet God sal eendag vir ons iets gee wat baie beter is. Hy sal vir ons iets gee wat baie wonderlik is, en ons sal dit sien. Want God het alles gemaak, en alles wag en hoop dat die dag sal kom wanneer God vir almal sal wys wie sy kinders is.
ROMEINE 8:15-19 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want julle het nie ontvang 'n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader! Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is; en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede-erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word. WANT ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie. Want die skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van God.
ROMEINE 8:15-19 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader. Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is. En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid. Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie. Die skepping sien met gespanne verwagting daarna uit dat God bekend sal maak wie sy kinders is.
ROMEINE 8:15-19 Die Boodskap (DB)
Onthou: God het sy Heilige Gees gegee aan julle wat in Hom glo. Dit is Hy wat julle kinders van God gemaak het. Verder is dit ook Hy wat nou ’n diep verlange na God in julle binneste wakker maak. Die Gees roep voortdurend in julle binneste uit: “Vader, liefdevolle Vader!” Hy sorg dat daar ’n onbreekbare band tussen God en julle is. Die Gees oortuig ons diep in ons binneste dat ons regtig God se kinders is. Omdat ons sy kinders is, is ons ook sy erfgename. Ons erf saam met Christus alles wat God beloof het. Terwyl ons op ons erfporsie wag, kry ons baie swaar hier op aarde. Ons ervaar dieselfde tipe swaarkry as wat Christus beleef het toe Hy nog op aarde was. Maar ons weet dat as ons nou saam met Hom ly, ons ook saam met Hom in sy heerlikheid in God se nuwe wêreld sal bly. Ek is van een saak oortuig: al ons swaarkry weeg glad nie op teen die wonderlike lewe wat op ons wag in God se nuwe wêreld nie. Die res van God se skepping sien ook baie uit na daardie groot dag wanneer Hy voor almal sal sê dat ons sy kinders is.
ROMEINE 8:15-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die gees wat julle ontvang het, is nie ’n gees wat weer van julle vreesbevange slawe maak nie. Julle het die Gees van ware kindwees ontvang en deur hierdie Gees roep julle uit tot God: Abba – ons Vader. Want die Gees self bevestig teenoor ons eie gees dat ons God se kinders is. En as ons God se kinders is, maak Hy ons ook sy erfgename. Saam met Christus deel ons in God se rykdom. As ons bereid is om saam met Christus te ly, sal ons sekerlik ook deel in sy heerlikheid. Ek weet vir seker dat ons huidige lyding hoegenaamd nie vergelyk kan word met die heerlikheid waarmee God ons gaan verras nie. Die skepping smag na daardie dag wanneer God sy kinders openlik bekend sal stel.