ROMEINE 15:4-6
ROMEINE 15:4-6 Bybel vir almal (ABA)
Want alles wat in die Ou Testament geskryf is, is voorheen geskryf om vir ons te leer, sodat ons kan aanhou glo. Dit is geskryf om ons te help en te bemoedig. Dan sal ons seker weet dat God ons sal red. Dit is God wat ons help om aan te hou glo en wat ons bemoedig. Ek bid dat Hy vir julle sal help om altyd gereed te wees om saam te werk met mekaar, dit is soos Christus Jesus dit wil hê. Dan sal julle almal dieselfde daaroor dink en saam vir God prys, Hy wat die Vader van ons Here Jesus Christus is.
ROMEINE 15:4-6 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê. En mag die God van lydsaamheid en bemoediging aan julle gee om eensgesind onder mekaar te wees ooreenkomstig die wil van Christus Jesus, sodat julle die God en Vader van onse Here Jesus Christus eendragtiglik uit een mond kan verheerlik.
ROMEINE 15:4-6 Afrikaans 1983 (AFR83)
Alles wat vooraf in die Skrif opgeteken is, is tog opgeteken om ons te leer sodat ons deur die standvastigheid en bemoediging wat die Skrif ons gee, vol hoop kan wees. En mag God, die bron van alle standvastigheid en bemoediging, gee dat julle eensgesind onder mekaar sal wees soos Christus Jesus dit wil hê. Dan kan julle almal eensgesind uit een mond lof toebring aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus.
ROMEINE 15:4-6 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Alles wat vroeër opgeteken is, is tog vir ons tot lering opgeteken, sodat ons hoop kan hê deur die volharding en die bemoediging wat ons uit die Skrif ontvang. En mag die God wat volharding en bemoediging bewerk, gee dat julle onder mekaar eensgesind sal wees, ooreenkomstig die wil van Christus Jesus, sodat julle eenparig, ja, uit een mond, aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, die lof sal bring.
ROMEINE 15:4-6 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering geskryf, sodat ons deur geduld en vertroosting van die Skrifte hoop kan hê. En die God van lydsaamheid en vertroosting gee julle om eensgesind te wees onder mekaar volgens Christus Jesus. Sodat julle met een verstand en een mond God, die Vader van onse Here Jesus Christus, kan verheerlik.
ROMEINE 15:4-6 Die Boodskap (DB)
Alles wat in die Bybel opgeteken is, is neergeskryf om ons te leer. Die Bybel versterk ons geloof en moedig ons aan sodat ons elke dag kan uitsien na die terugkoms van die Here. Mag God, wat ons almal se geloof sterk maak en ons krag gee, julle help om regtig goed met mekaar oor die weg te kom. Dit is presies wat Christus Jesus wil hê. Mag julle almal saam soos ’n groot koor in ’n harmonie van stemme God se Naam grootmaak. Aan Hom, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe.
ROMEINE 15:4-6 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ons moet leer uit wat al lank gelede reeds in die Skrif opgeteken is. Die standvastigheid en die bemoediging wat die Skrif aan ons gee, help ons om aan ons toekomsverwagting te bly vashou. Mag God, wat die bron is van standvastigheid en bemoediging, julle help om in volkome harmonie met mekaar te lewe – elkeen met die gesindheid van Christus teenoor julle medegelowiges. Dan sal julle almal in ’n wonderlike eenheid van gees en uit een mond die lof toebring aan God, die Vader van Jesus Christus ons Here.