Romeine 15

15
Optrede in belang van mekaar
1Ons wat sterk is in die geloof, is verplig om die swakhede te dra van diegene wat nie sterk is nie, en nie onsself te behaag nie. 2 Laat elkeen van ons sy medemens behaag met die oog op wat vir hom goed is en hom kan opbou. 3•Christus het tog ook nie Homself behaag nie, maar, soos daar geskryf staan:
“Die beledigings van hulle
wat U beledig,
het My getref.”
4 Alles wat vroeër opgeteken is, is tog vir ons tot lering opgeteken, sodat ons hoop kan hê deur die volharding en die bemoediging wat ons uit die Skrif ontvang. 5En mag die God wat volharding en bemoediging bewerk, gee dat julle onder mekaar eensgesind sal wees, ooreenkomstig die wil van Christus Jesus, 6sodat julle eenparig, ja, uit een mond, aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, die lof sal bring.
Aanvaarding van mekaar
7Daarom, aanvaar mekaar, soos •Christus julle ook aanvaar het, tot eer van God. 8Ek sê vir julle dat Christus 'n Dienaar van die besnedenes geword het ter wille van die waarheid van God, sodat Hy die beloftes aan die vaders kon bevestig, 9en die nasies God oor sy ontferming kan verheerlik, soos daar geskryf staan:
“Daarom sal ek U loof
onder die nasies,
en tot eer van u Naam
sal ek 'n lofpsalm sing.”
10En daar staan ook:
“Wees bly, nasies,
saam met sy volk.”
11En weer:
“Loof die Here, alle nasies!
Prys Hom, alle volke!”
12En Jesaja sê op sy beurt:
“Daar sal 'n loot van Isai kom,
en Hy sal opstaan om oor die nasies
te regeer;
en op Hom sal die nasies hoop.”
13Mag die God van hoop julle deur julle geloof met alle blydskap en vrede vervul, sodat julle hoop oorvloedig kan word deur die krag van die Heilige Gees.
Paulus se bediening aan die heidene
14My broers, persoonlik is ek daarvan oortuig dat julle ook self vol goedheid is en oor volledige kennis beskik, in dié mate dat julle mekaar ook kan reghelp. 15Tog het ek oor sekere sake nogal vrymoedig aan julle geskryf om julle daaraan te herinner dat ek, deur die genade wat God my gegee het, 16'n bedienaar van •Christus Jesus aan die heidene is. Ek bedien die evangelie van God priesterlik, sodat die heidene 'n aanneemlike offer, geheilig deur die Heilige Gees, kan wees. 17Dit is dan waarop ek my in Christus Jesus beroem: dat ek hierdie offer aan God kan bring. 18Ek sal dit inderdaad nie waag om oor iets anders te praat as wat Christus deur my gedoen het om die heidene tot gehoorsaamheid te bring nie – deur woord en daad, 19deur kragtige tekens en wonders, deur die krag van die Gees van God. Gevolglik het ek die verkondiging van die evangelie van Christus heeltemal voltooi, van Jerusalem af en rondom, tot sover as Illirikum. 20 So het ek my dit ten doel gestel om die evangelie te verkondig, nie waar Christus reeds bekend was en ek dus op iemand anders se fondament sou bou nie, 21maar, soos daar geskryf staan:
“Hulle wat nie van Hom vertel is nie,
sal sien,
en hulle wat nie gehoor het nie,
sal verstaan.”
Paulus se reisplanne
22 Daarom is ek ook dikwels verhinder om by julle uit te kom. 23Maar noudat ek nie meer plek in hierdie streke het nie, en reeds vir baie jare die begeerte het om by julle uit te kom, sal ek dit doen 24wanneer ek na Spanje onderweg is. Want ek hoop om julle op my deurreis te sien, en dan deur julle daarheen voortgehelp te word, as ek eers vir 'n tydjie die samesyn met julle geniet het.
25 Maar nou is ek vir eers op pad na Jerusalem in diens van die •heiliges. 26Macedonië en Agaje het dit naamlik goedgedink om 'n bydrae te maak vir die armes onder die heiliges in Jerusalem. 27Hulle het dit goedgevind, en was dit bowendien aan die heiliges verskuldig. As die heidene in hulle geestelike seëninge gedeel het, is hulle dit tog ook aan die heiliges in Jerusalem verskuldig om hulle met materiële seëninge te bedien. 28As ek dit dan afgehandel en die opbrengs veilig aan hulle besorg het, sal ek by julle langs na Spanje reis. 29En ek weet dat wanneer ek na julle kom, dit sal wees met die volle seën van •Christus.
30 Ek smeek julle dan dringend, broers, by ons Here Jesus Christus en die liefde van die Gees, om deur julle gebede tot God saam te stry vir my, 31sodat ek gered sal word van die ongelowiges in Judea, en dat my diens aan Jerusalem vir die heiliges daar aanvaarbaar sal wees. 32So sal ek dan, as dit God se wil is, met blydskap na julle kom en by julle verfris word. 33Mag die God van vrede met julle almal wees. •Amen.

Tans Gekies:

Romeine 15: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid