ROMEINE 15:18-19
ROMEINE 15:18-19 Bybel vir almal (ABA)
Ek wil nie spog nie, ek sal net vertel van die dinge wat ek gedoen het omdat Christus vir my die krag gegee het om dit te doen. Hy het my gebruik sodat die heidene gehoorsaam kan word aan Hom. Ek het gedoen en gesê wat Christus wou hê. Die Heilige Gees het vir my krag gegee om tekens en wonderwerke te doen. Ja, ek het klaar die goeie boodskap oor Christus oral vir die mense gebring, van Jerusalem tot by die provinsie Illirikum.
ROMEINE 15:18-19 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want ek sal nie waag om iets te sê van dinge wat Christus nie deur my gewerk het nie — om die heidene tot gehoorsaamheid te bring, met woord en daad, deur die krag van tekens en wonders, deur die krag van die Gees van God, sodat ek die evangelieverkondiging van Christus volbring het van Jerusalem af en rondom tot by Illírikum
ROMEINE 15:18-19 Afrikaans 1983 (AFR83)
Ek sal dit nie waag om oor iets anders te praat as oor wat Christus deur my tot stand gebring het om heidennasies aan God gehoorsaam te maak nie. Dit het Hy deur my gedoen met woord en daad, deur kragtige tekens en wonders, in die krag van die Gees van God. En so kon ek van Jerusalem af al verder tot in Illirikum my taak om die evangelie van Christus te verkondig, ten volle uitvoer.
ROMEINE 15:18-19 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Ek sal dit inderdaad nie waag om oor iets anders te praat as wat Christus deur my gedoen het om die heidene tot gehoorsaamheid te bring nie – deur woord en daad, deur kragtige tekens en wonders, deur die krag van die Gees van God. Gevolglik het ek die verkondiging van die evangelie van Christus heeltemal voltooi, van Jerusalem af en rondom, tot sover as Illirikum.
ROMEINE 15:18-19 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want ek sal dit nie waag om te praat van enige van die dinge wat Christus nie deur my bewerk het nie, om die heidene deur woord en daad gehoorsaam te maak, Deur kragtige tekens en wonders, deur die krag van die Gees van God; sodat ek van Jerusalem af en rondom tot by Illirikum die evangelie van Christus ten volle verkondig het.
ROMEINE 15:18-19 Die Boodskap (DB)
Natuurlik sal ek dit nooit waag om oor my eie prestasies te praat nie. Nee, ek kan slegs praat oor wat Christus deur my gedoen het. Hy het elke woord en daad van my in sy diens geneem. Oral het mense wat nie aan Israel behoort nie, begin om in God te glo. Groot tekens en wonders het plaasgevind waar ek gepreek het. Dit is omdat die groot krag van die Gees by my is. Daarom kon ek die goeie nuus oor Christus van Jerusalem af tot in die noordweste van Griekeland, daar in Illirikum, uitdra.
ROMEINE 15:18-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ek sal dit nie waag om oor iets anders te praat as wat Christus deur my gedoen het om die nie-Joodse nasies tot gehoorsaamheid aan die evangelie te bring nie. Hy het dit gedoen deur my prediking en my voorbeeld, deur kragtige tekens en wonders – bewerk deur die krag van die Gees van God. Op hierdie manier het ek die Goeie Nuus aangaande Christus uitgedra vanaf Jerusalem en tot by Illirikum.