DIE OPENBARING 2:8-11 - Compare All Versions
DIE OPENBARING 2:8-11 ABA (Bybel vir almal)
“Jy moet vir die engel van die gemeente in die stad Smirna skryf: Die Een wat die Eerste en die Laaste is, Hy wat dood was maar wat weer lewe, Hy sê: Ek weet jy kry swaar en jy is arm, jy het min geld. Maar Ek sê jy is ryk, want jy behoort aan My. Ek weet die Jode praat sleg van jou, maar hulle is nie regtig Jode nie, hulle kom bymekaar in 'n sinagoge, maar dit is die sinagoge van die Satan. Jy sal swaarkry, maar jy moenie bang wees nie. Die duiwel sal party van julle in die tronk laat gooi. Dan sal almal sien of julle kan aanhou glo. Ja, julle sal tien dae lank swaarkry, maar jy moet aanhou glo, ook as die mense jou wil doodmaak. Dan sal Ek jou weer laat lewe, dit sal vir jou wees soos 'n lourier-krans op jou kop. As jy verstaan wat die Heilige Gees vir die gemeentes sê, dan moet jy gehoorsaam wees! As jy oorwin en aanhou glo, dan sal jy nie 'n tweede maal sterf nie.”
DIE OPENBARING 2:8-11 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
EN skryf aan die engel van die gemeente in Smirna: Dít sê die eerste en die laaste, wat dood was en lewend geword het: Ek ken jou werke en verdrukking en armoede — maar jy is ryk — en die lastering van die wat sê dat hulle Jode is en dit nie is nie, maar 'n sinagoge van die Satan. Vrees vir niks wat jy sal ly nie. Kyk, die duiwel gaan sommige van julle in die gevangenis werp, sodat julle op die proef gestel kan word; en julle sal tien dae lank verdrukking hê. Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal jou die kroon van die lewe gee. Wie 'n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Die wat oorwin, sal deur die tweede dood geen skade ly nie.
DIE OPENBARING 2:8-11 AFR83 (Afrikaans 1983)
Skrywe aan die leraar van die gemeente in Smirna: So sê die Eerste en die Laaste, wat dood was en weer lewend geword het: Ek ken julle verdrukking en julle armoede, en tog is julle ryk. Ek weet ook van die kwaadstokery van die mense wat daarop aanspraak maak dat hulle Jode is, en dit nie is nie, maar tot die sinagoge van die Satan behoort. Moenie bang wees vir wat julle alles gaan ly nie. Kyk, die duiwel gaan party van julle in die tronk laat gooi, sodat julle in beproewing sal kom, en julle sal tien dae lank baie swaar kry. Bly getrou tot die dood toe, en Ek sal julle die lewe as kroon gee. Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê. Dié wat die oorwinning behaal, sal beslis nie deur die tweede dood getref word nie.
DIE OPENBARING 2:8-11 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
“Skryf ook aan die boodskapper van die •gemeente in Smirna: “Dit sê die Eerste en die Laaste, wat dood was, maar lewend geword het, “ ‘Ek ken jou verdrukking en jou armoede, maar tog is jy ryk. Ek weet ook van die lastering deur diegene wat beweer dat hulle Jode is, en dit nie regtig is nie, maar 'n sinagoge van Satan. Moenie vir enigiets wat jy nog gaan ly, bang wees nie. Kyk, die Duiwel gaan sommige van julle in die tronk laat gooi, sodat julle getoets kan word. Tien dae lank sal julle verdruk word. Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal aan jou die oorwinnaarskrans van die lewe gee. “ ‘Laat dié wat ore het, luister na wat die Gees aan die gemeentes sê. Wie oorwin, sal beslis nie deur die tweede dood skade ly nie.’ ”
DIE OPENBARING 2:8-11 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
En skryf aan die engel van die gemeente in Smirna; Dit sê die eerste en die laaste wat dood was en lewend is; Ek ken jou werke en verdrukking en armoede, maar jy is ryk, en ek ken die lastering van die wat sê dat hulle Jode is en dit nie is nie, maar die sinagoge van die Satan is. Vrees vir niks van die dinge wat jy sal ly nie; kyk, die duiwel sal sommige van julle in die gevangenis werp, sodat julle beproef kan word; en julle sal tien dae lank verdrukking hê; wees getrou tot die dood toe, en Ek sal jou 'n kroon van die lewe gee. Wie 'n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê; Hy wat oorwin, sal deur die tweede dood geen skade ly nie.
DIE OPENBARING 2:8-11 DB (Die Boodskap)
Skryf aan die leier van die gemeente in Smirna die volgende: Dit is die Een wat voor alles in die skepping daar was en wat nog daar sal wees wanneer alles verby is, wat met julle praat. Dit is Ek, Jesus, wat dood was en weer lewendig geword het. Ek weet hoe swaar julle kry. Ek sien hoe arm julle is. Onthou, julle is wel nie ryk hier op aarde nie, maar op ’n ander manier is julle ryk. Ek hoor hoe sleg daardie Jode julle maak. Hulle sleep julle naam deur die modder. Maar moenie te sleg voel daaroor nie. In God se oë is hulle nie meer sy mense nie. Hulle kom bymekaar in die huis van Satan. Moenie tou opgooi as mense julle op die pad vorentoe seermaak en terroriseer nie. Luister, die duiwel gaan sorg dat party van julle in die tronk beland. ’n Tyd lank sal julle regtig swaarkry. God sal egter sorg dat dit nie te lank duur nie. Sien dit as ’n toets vir julle geloof en lojaliteit teenoor My, al maak hulle julle dood. Moenie ophou nie, maar hou vol tot by die wenpaal. Daar sal Ek self vir julle die prys gee wat wenners behoort te kry: die lewe wat nooit sal ophou nie. Luister mooi. Die Heilige Gees sê hierdie dinge vir julle. Die een wat enduit ’n Christen bly se liggaam mag wel een maal doodgaan, maar hy sal nooit die ewige lewe verloor nie. Daar is geen manier waarop die dood dáárdie lewe van hom kan wegvat nie.
DIE OPENBARING 2:8-11 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Skryf aan die voorganger van die gemeente in Smirna: Só sê Hy wat die Eerste en die Laaste is, wat dood was, en weer lewe: Ek ken jou swaarkry en jou armoede, maar tog is jy ryk. Ek weet ook van die leuentaal van dié wat sê dat hulle Jode is en dit nie regtig is nie, maar eintlik deel is van die sinagoge van Satan. Hou op om bang te wees vir wat jy nog gaan ly. Kyk, die duiwel gaan sommige uit julle geledere in die tronk sit om julle regtig te toets. Julle sal ook swaarkry, vir tien dae lank. Wees net getrou tot die dood toe, en Ek sal aan jou die kroon van die lewe gee. Elkeen wat kan hoor, moet luister wat die Gees aan die gemeentes sê. Elkeen wat aanhou oorwin, sal nié deur die tweede dood getref word nie.