DIE OPENBARING 13:5-18 - Compare All Versions
DIE OPENBARING 13:5-18 ABA (Bybel vir almal)
God het gesê die dier mag vir God laster en die dier mag 42 maande lank regeer. Die dier het begin praat. Hy het vir God gelaster en hy het ook God se Naam en sy woonplek gelaster, hy het almal gelaster wat in die hemel woon. God het gesê die dier mag oorlog maak teen die mense wat aan God behoort en hy mag hulle wen. Ja, God het gesê die dier mag regeer oor die mense van al die stamme, volke, tale en lande. Al die mense op die aarde sal die dier aanbid, al die mense wie se name nie geskryf is in die boek van die lewe nie. Dit is God wat party mense se name in die boek van die lewe geskryf het. Hy het dit gedoen voordat Hy die wêreld gemaak het. Die boek van die lewe is ook die boek van die Lam, die Lam wat aan die kruis gesterf het. As jy hierdie woorde kan verstaan, dan moet jy gehoorsaam wees. As God besluit het jy moet tronk toe gaan, dan sál jy tronk toe gaan. As God besluit het mense sal jou met 'n swaard doodmaak, dan sál hulle jou met 'n swaard doodmaak. Ja, die mense wat aan God behoort, moet geduldig wees wanneer hulle swaarkry, hulle moet aanhou glo! Toe sien ek 'n ander dier wat uit die aarde kom. Hy het twee horings gehad, dit was soos 'n lam se horings. Maar hy het gepraat soos 'n draak. En die dier uit die aarde het regeer in die plek van die eerste dier, die dier wat uit die see gekom het. Die dier uit die aarde het vir die mense op die aarde gesê hulle moet die eerste dier aanbid, die dier wat 'n groot seerplek gehad het en wat amper gesterf het, maar wat weer gesond geword het. Die dier uit die aarde het wonderlike dinge gedoen. Hy het vuur uit die lug laat afkom na die aarde, en die mense het dit gesien. God het gesê hierdie dier mag daardie wonderlike dinge doen. Die dier mag die wonderlike dinge doen in die plek van die dier wat uit die see gekom het. Die dier uit die aarde het die mense op die aarde bedrieg met daardie wonderlike dinge en hy het vir hulle gesê dat hulle 'n beeld moet maak vir die dier uit die see. Iemand het die dier uit die see met 'n swaard gesteek, en hy het 'n baie groot seerplek gehad, maar hy het gelewe. God het gesê die dier uit die aarde mag die beeld van die dier uit die see laat lewe. Die beeld kon toe praat, en as mense nie die beeld wou aanbid nie, dan het die dier hulle laat doodmaak. Die dier wat uit die aarde gekom het, het vir al die mense gesê hulle moet 'n merk op hulle regter-hand of 'n merk op hulle voorkop laat maak. Almal moes die merk kry, kinders en grootmense, ryk mense en arm mense, slawe en mense wat nie slawe is nie. Die dier het die merk vir mense gegee sodat niemand iets kon koop of verkoop as hy nie die merk het nie. Die merk is die naam van die dier uit die see of die nommer wat 'n mens van sy naam kan maak. 'n Mens moet baie goed dink hieroor. As iemand dit goed verstaan, dan moet hy dink wat beteken die nommer van die dier uit die see, want dit is 'n mens se nommer. Die nommer is 666.
DIE OPENBARING 13:5-18 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
En 'n mond is aan hom gegee wat groot woorde en godslasteringe uitspreek, en aan hom is mag gegee om dit twee-en-veertig maande lank te doen. En hy het sy mond oopgemaak om te laster teen God, om sy Naam en sy tabernakel en die wat in die hemel woon, te laster. Dit is ook aan hom gegee om oorlog te voer teen die heiliges en hulle te oorwin, en aan hom is mag gegee oor elke stam en taal en nasie. En al die bewoners van die aarde sal hom aanbid, almal wie se name nie van die grondlegging van die wêreld af in die boek van die lewe van die Lam wat geslag is, geskrywe is nie. As iemand 'n oor het, laat hom hoor. As iemand krygsgevangenes maak, gaan hy in krygsgevangenskap; as iemand met die swaard doodmaak, moet hy met die swaard doodgemaak word. Hier is die lydsaamheid en die geloof van die heiliges. EN uit die aarde het ek 'n ander dier sien opkom, en hy het twee horings gehad net soos 'n lam en het gepraat soos 'n draak. En hy oefen al die mag van die eerste dier uit voor sy oë, en hy maak dat die aarde en die wat daarop woon, die eerste dier aanbid, waarvan die dodelike wond genees is. Hy doen ook groot tekens, sodat hy selfs vuur uit die hemel laat neerdaal op die aarde voor die oë van die mense. En hy verlei die bewoners van die aarde deur die tekens wat hom gegee is om voor die oë van die dier te doen, deur aan die bewoners van die aarde te sê dat hulle 'n beeld moet maak vir die dier wat die swaardwond ontvang en lewendig geword het. En dit is hom gegee om 'n gees aan die dier se beeld te gee, sodat die dier se beeld ook sal praat en maak dat almal gedood word wat die dier se beeld nie aanbid nie. En hy maak dat aan almal, klein en groot, en die rykes en die armes, en die vrymense en die slawe 'n merk op hulle regterhand en op hulle voorhoofde gegee word; sodat niemand kan koop of verkoop nie, behalwe hy wat die merk of die naam van die dier of die getal van sy naam het. Hier kom die wysheid te pas. Wie die verstand het, laat hom die getal van die dier bereken, want dit is die getal van 'n mens; en sy getal is seshonderd-ses-en-sestig.
DIE OPENBARING 13:5-18 AFR83 (Afrikaans 1983)
Die dier is toegelaat om verskriklike dinge te sê en te laster en om twee en veertig maande lank gesag uit te oefen. Hy het teen God begin laster, hy het God se Naam en sy woonplek en dié wat in die hemel bly, belaster. Aan hom is daar ook mag gegee om teen die gelowiges oorlog te maak en hulle te oorwin; en daar is gesag aan hom gegee oor elke stam, volk, taal en nasie. Al die bewoners van die aarde sal hom aanbid, almal wie se name nie van die skepping van die wêreld af geskrywe staan in die boek van die lewe, die boek van die Lam wat geslag is nie. As iemand kan hoor, moet hy hierna luister! As iemand bestem is vir gevangenskap, gaan hy in gevangenskap; as iemand bestem is om met 'n swaard doodgemaak te word, word hy met 'n swaard doodgemaak. Hier het die gelowiges volharding en geloof nodig. Toe het ek 'n ander dier gesien wat uit die aarde uit kom. Hy het twee horings gehad soos 'n lam s'n, maar hy het soos 'n draak gepraat. Hy oefen al die gesag van die eerste dier namens hom uit. Hy maak dat die aarde en die bewoners daarvan die eerste dier aanbid, dié een waarvan die dodelike wond genees het. Hy doen groot tekens, sodat hy selfs vuur van die hemel af op die aarde laat kom vir die mense om te sien. Aan hom is daar mag gegee om wondertekens namens die dier te doen, waardeur hy die bewoners van die aarde mislei. Hy sê die bewoners van die aarde ook aan om 'n beeld op te rig vir die dier wat die litteken van die slagmes het en wat weer lewend geword het. Aan hom is daar ook mag gegee om asem in die dier se beeld te blaas, sodat die beeld kan praat en almal kan laat doodmaak wat nie die beeld aanbid nie. Hy verplig al die mense, klein en groot, ryk en arm, vryes en slawe, om 'n merk op hulle regterhand of op hulle voorkop te dra en laat niemand toe om te koop of te verkoop nie, behalwe die mense wat die merk het. Die merk is die naam van die dier of die getal van sy naam. Hier is wysheid nodig. Wie verstand het, kan die getal van die dier ontsyfer, want dit is 'n mens se getal. Sy getal is ses honderd ses en sestig.
DIE OPENBARING 13:5-18 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Aan hom is 'n mond gegee om grootpraterige en godslasterlike dinge mee kwyt te raak. Aan hom is volmag gegee om dit twee-en-veertig maande lank te doen. Hy het sy mond geopen om God, en ook sy Naam en sy woonplek en hulle wat in die hemel woon, te belaster. Hy is toegelaat om teen die •heiliges oorlog te voer, en hulle te oorwin. Aan hom is ook volmag gegee oor elke stam en volk en taal en nasie. Al die aardbewoners sal hom aanbid, elkeen wie se naam sedert die grondlegging van die wêreld nie opgeskryf is in die boekrol van die lewe van die Lam wat geslag is nie. As iemand ore het, laat hy luister: As iemand bestem is vir gevangenskap, sal hy in gevangenskap gaan; as iemand bestem is om met 'n swaard doodgemaak te word, sal hy met 'n swaard doodgemaak word. Hiervoor het die heiliges volharding en geloof nodig. Toe het ek 'n ander dier uit die aarde sien opkom. Hy het twee horings gehad, net soos 'n lam, maar hy het soos 'n draak gepraat. Hy het met al die volmag van die eerste dier opgetree, en dit in sy teenwoordigheid gedoen. En hy laat die aarde en die bewoners daarvan die eerste dier aanbid, die een wat van sy dodelike wond genees is. Hy doen ook indrukwekkende tekens; so laat hy voor die mense vuur van die hemel af op die aarde neerkom. En hy mislei die aardbewoners deur die tekens wat hy toegelaat is om in die teenwoordigheid van die dier te doen, deur hulle te beveel om 'n beeld op te rig vir die dier wat deur die swaard gewond is, maar weer lewend geword het. Aan hom is toe die vermoë gegee om asem in die beeld van die dier te blaas, sodat die beeld van die dier ook kon praat, en om almal wat nie die beeld van die dier aanbid nie, te laat doodmaak. Hy het ook almal, klein en groot, ryk en arm, vry mense en slawe, verplig om 'n merk op hulle regterhand of op hulle voorkop te laat aanbring, sodat niemand, behalwe dié met die merk van die naam van die dier of die getal van sy naam, sou kon koop of verkoop nie. Hiervoor is wysheid nodig. Wie insig het, moet die getal van die dier bereken, want dit is die getal van die mens, en sy getal is seshonderd ses-en-sestig.
DIE OPENBARING 13:5-18 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
En 'n mond is aan hom gegee wat groot dinge en godslasteringe uitspreek; en aan hom is mag gegee om twee en veertig maande aan te hou. En hy het sy mond oopgemaak in godslastering teen God, om sy Naam en sy tabernakel en die wat in die hemel woon, te laster. En dit is aan hom gegee om oorlog te voer teen die heiliges en hulle te oorwin; en aan hom is mag gegee oor alle geslagte en tale en nasies. En almal wat op die aarde woon, sal hom aanbid wie se name nie van die grondlegging van die wêreld af in die boek van die lewe van die Lam wat geslag is, geskrywe is nie. As iemand 'n oor het, laat hom hoor. Hy wat in ballingskap lei, sal in ballingskap gaan; wie met die swaard doodslaan, moet met die swaard gedood word. Hier is die geduld en die geloof van die heiliges. En ek het 'n ander dier uit die aarde sien opkom; en hy het twee horings gehad soos 'n lam, en hy het gepraat soos 'n draak. En hy oefen al die mag van die eerste dier voor hom uit en laat die aarde en die wat daarop woon die eerste dier aanbid, wie se dodelike wond genees is. En Hy doen groot wonders, sodat Hy vuur uit die hemel op die aarde laat neerdaal voor die oë van die mense, En verlei die bewoners van die aarde deur middel van daardie wonders wat hy mag gehad het om voor die oë van die dier te doen; en aan die bewoners van die aarde gesê dat hulle 'n beeld moet maak vir die dier wat deur 'n swaard gewond is en geleef het. En hy het mag gehad om die beeld van die dier lewend te maak, sodat die beeld van die dier sou praat en veroorsaak dat almal gedood sou word wat die beeld van die dier nie aanbid nie. En hy laat almal, klein en groot, ryk en arm, vrymense en slawe, 'n merk op hulle regterhand of op hulle voorhoofde ontvang. En dat niemand mag koop of verkoop nie, behalwe hy wat die merk of die naam van die dier of die getal van sy naam het. Hier is wysheid. Laat hom wat verstand het, die getal van die dier tel, want dit is die getal van 'n mens; en sy getal was seshonderd ses en sestig.
DIE OPENBARING 13:5-18 DB (Die Boodskap)
God het die dier toegelaat om so ’n grootmond te wees en Hom te beledig. God het hierdie kragtoertjies van die duiwel vir ’n rukkie geduld; dit was darem nie te lank nie. Die dier het vreeslik te kere gegaan. Hy het God op alle moontlike maniere beledig en sy karakter geskend. Selfs die wesens wat in die hemel saam met God bly, moes onder sy tong deurloop. God het die dier ook nie gekeer om teen God se mense oorlog te maak en hulle selfs te wen nie. God het hom ook toegelaat om die septer te swaai oor die hele wêreld, maak nie saak waar nie. Al die mense wêreldwyd en van oraloor het die dier aanbid asof hy God of Christus self is. As ek hier sê “al die mense”, is dit natuurlik almal wie se name nie in die boek van die lewe opgeskryf is nie. Dit is Christus, die Lam met die slagmerk aan sy keel, se boek. Die name staan al in daardie boek vandat die wêreld gemaak is. As iemand twee ore het, moet hy hierna luister: “As dit op iemand se pad lê om in die tronk te beland, sal hy in die tronk beland. Iemand wat iemand anders doodmaak, sal self doodgemaak word.” Ja-nee, die mense wat aan God behoort, moenie moed opgee nie. Hulle moet gelowig op God bly vertrou. Ek het toe nog ’n dier gesien. Hy het uit die aarde opgekom. Hierdie dier het nie gevaarlik gelyk nie, net soos ’n lammetjie met twee horinkies. Toe die dier egter sy mond oopmaak om te praat, was dit die ene duiwel, van voor tot agter. Hierdie dier kon alles doen wat die eerste dier gedoen het. Hulle het saamgewerk. Die tweede dier het net een doel gehad: hy wou sorg dat al die mense op die aarde die eerste dier - dit is nou die een met die dodelike wond wat gesond geword het - soos ’n god aanbid. Hy het die wonderlikste dinge gedoen om die mense te beïndruk. Hy het selfs vuurvlamme uit die hemel op die aarde laat reën. Hy het natuurlik gesorg dat almal dit sien. Onnodig om te sê, maar hy het die mense met al hierdie wonderlike dinge die regte pad heeltemal byster laat raak. Hy het hulle selfs oortuig om vir die eerste dier (wat met die swaard gewond is, maar nog springlewendig is) ’n standbeeld te bou om hom só as ’n groot heerser te eer. God het selfs toegelaat dat die beeld begin asemhaal en praat, soos die tweede dier wou. Die ergste is dat hierdie standbeeld enigiemand wat nie voor hom neerval en hom soos ’n god aanbid nie, daar en dan doodgemaak het. Hy het ook almal forseer om ’n merk op hulle regterhand en voor op hulle kop te dra. Aan die merk sou almal kon sien dat hulle aan die dier behoort. Niemand het dit vrygespring nie; of jy nou belangrik was of nie, ryk of arm; ja, letterlik niemand nie, nie eens die eenvoudigste werker of die belangrikste baas nie. Almal moes daardie merk dra. Niemand kon enigiets koop of selfs iets verkoop as hy nie die merk gehad het nie; dit wil sê, die naam van die dier of die kodenommer van sy naam. Hier is ’n raaisel vir die slimmes. Laat iemand wat slim genoeg is, uitwerk wat hierdie kodenommer van die dier wil sê. Dit is die kodenommer van ’n mens, naamlik 666.
DIE OPENBARING 13:5-18 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Dié monster is toegelaat om vreeslike en lasterlike dinge te sê; aan hom is ook die mag verleen om 42 maande lank só op te tree. Hy het sy mond oopgemaak om teen God te laster; hy het God as persoon, sy woonplek en dié wat in die hemel woon, belaster. Hy is ook toegelaat om teen die gelowiges oorlog te maak en hulle te oorwin; aan hom is ook gesag gegee oor elke stam, volk, taalgroep en nasie. Al die bewoners van die aarde sal in aanbidding voor hom neerkniel. Dit is hulle wie se name nie van die fondamentlegging van die wêreld af in die Boekrol van die Lewe aangeteken is nie – die Boekrol van die geslagte Lam. Elkeen wat ’n oor het om te luister, moet hoor. Wie vir gevangenskap bestem is, gaan in gevangenskap; wie bestem is om met die swaard doodgemaak te word, sal so doodgemaak word. In hierdie sake het die gelowiges volharding en vertroue nodig. Toe het ek ’n ander monster gesien wat uit die aarde opkom. Hy het twee horings gehad, net soos ’n lam, maar hy het gepraat soos ’n draak. Hy tree met al sy gesag namens die eerste monster op. En hy oorreed die aarde en al die bewoners daarvan om die eerste monster te aanbid, dit is dié een waarvan die dodelike wond gesond geword het. Hy doen ook asemrowende wondertekens sodat hy voor die oë van die mense selfs vuur uit die hemel op die aarde laat neerkom. En hy mislei die bewoners van die aarde deur die wondertekens wat hy toegelaat is om namens die monster te doen. Hy het ook die bewoners van die aarde beveel om ’n standbeeld vir die monster op te rig; dit is die monster wat die litteken van die swaard dra en wat weer lewend geword het. Hy is ook toegelaat om lewe in die standbeeld van die monster te blaas sodat dit kan praat en almal laat doodmaak wat dit nie aanbid nie. Hy verplig al sy volgelinge, klein en groot, ryk en arm, vryes en slawe, om ’n merk op hulle regterhand of op hulle voorkop te kry. Dit word gedoen sodat niemand kan koop of verkoop sonder die merk van die naam van die monster, of die getal van sy naam nie. In hierdie geval is onderskeidingsvermoë nodig. Laat die een wat insig het, die getal van die monster bereken, want dit is die mens se getal. Sy getal is 666.