Openbaring 13

13
Die dier wat Jesus wil na-aap
1Ek sien toe ’n dier uit die see opkom. Hy het so gelyk: hy het tien horings en sewe koppe gehad, wat gewys het hoe ’n sterk regeerder hy was.
Sy tien krone het gewys dat hy soos ’n koning regeer het. Op die koppe was die verskriklikste naam geskryf. Dit was ’n absolute belediging vir God!
2Hy kon nie sy sluheid wegsteek nie, want hy het die lyf van ’n luiperd gehad en sy pote het soos ’n beer s’n gelyk. Daarmee het hy vasgestaan.
Sy bek was soos ’n leeu s’n, wreed en vreesaanjaend.
Die duiwel het aan hierdie dier sy krag gegee. Hy kon met net soveel gesag as die duiwel regeer. 3Een van die koppe van die dier het ’n wond gehad waarvan hy sekerlik moes doodgaan. Met so ’n wond kon hy nie bly leef nie. Tog het die wond gesond geword. 4Die hele wêreld was verwonderd, stom van verbasing. Hulle het agter die dier aangestroom en die duiwel soos God aanbid, want hy het mos al daardie mag aan die dier gegee. “Wie is so wonderlik soos die dier?” het hulle gevra. “Wie sal ooit teen hom ’n oorlog kan wen?” So het hulle die dier aanbid.
5God het die dier toegelaat om so ’n grootmond te wees en Hom te beledig. God het hierdie kragtoertjies van die duiwel vir ’n rukkie geduld; dit was darem nie te lank nie. 6Die dier het vreeslik te kere gegaan. Hy het God op alle moontlike maniere beledig en sy karakter geskend. Selfs die wesens wat in die hemel saam met God bly, moes onder sy tong deurloop.
7God het die dier ook nie gekeer om teen God se mense oorlog te maak en hulle selfs te wen nie. God het hom ook toegelaat om die septer te swaai oor die hele wêreld, maak nie saak waar nie. 8Al die mense wêreldwyd en van oraloor het die dier aanbid asof hy God of Christus self is. As ek hier sê “al die mense”, is dit natuurlik almal wie se name nie in die boek van die lewe opgeskryf is nie. Dit is Christus, die Lam met die slagmerk aan sy keel, se boek. Die name staan al in daardie boek vandat die wêreld gemaak is.
9As iemand twee ore het, moet hy hierna luister: 10“As dit op iemand se pad lê om in die tronk te beland, sal hy in die tronk beland. Iemand wat iemand anders doodmaak, sal self doodgemaak word.”
Ja-nee, die mense wat aan God behoort, moenie moed opgee nie. Hulle moet gelowig op God bly vertrou.
Die dier wat die werk
van die Heilige Gees wil oorneem
11Ek het toe nog ’n dier gesien. Hy het uit die aarde opgekom.
Hierdie dier het nie gevaarlik gelyk nie, net soos ’n lammetjie met twee horinkies. Toe die dier egter sy mond oopmaak om te praat, was dit die ene duiwel, van voor tot agter. 12Hierdie dier kon alles doen wat die eerste dier gedoen het. Hulle het saamgewerk. Die tweede dier het net een doel gehad: hy wou sorg dat al die mense op die aarde die eerste dier - dit is nou die een met die dodelike wond wat gesond geword het - soos ’n god aanbid. 13Hy het die wonderlikste dinge gedoen om die mense te beïndruk. Hy het selfs vuurvlamme uit die hemel op die aarde laat reën. Hy het natuurlik gesorg dat almal dit sien. 14Onnodig om te sê, maar hy het die mense met al hierdie wonderlike dinge die regte pad heeltemal byster laat raak. Hy het hulle selfs oortuig om vir die eerste dier (wat met die swaard gewond is, maar nog springlewendig is) ’n standbeeld te bou om hom só as ’n groot heerser te eer. 15God het selfs toegelaat dat die beeld begin asemhaal en praat, soos die tweede dier wou. Die ergste is dat hierdie standbeeld enigiemand wat nie voor hom neerval en hom soos ’n god aanbid nie, daar en dan doodgemaak het. Hy het ook almal forseer om ’n merk op hulle regterhand en voor op hulle kop te dra. Aan die merk sou almal kon sien dat hulle aan die dier behoort. 16Niemand het dit vrygespring nie; of jy nou belangrik was of nie, ryk of arm; ja, letterlik niemand nie, nie eens die eenvoudigste werker of die belangrikste baas nie. Almal moes daardie merk dra. 17Niemand kon enigiets koop of selfs iets verkoop as hy nie die merk gehad het nie; dit wil sê, die naam van die dier of die kodenommer van sy naam.
18Hier is ’n raaisel vir die slimmes. Laat iemand wat slim genoeg is, uitwerk wat hierdie kodenommer van die dier wil sê. Dit is die kodenommer van ’n mens, naamlik 666.

Tans Gekies:

Openbaring 13: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid