Openbaring 13

13
Die dier uit die see
1Toe het ek 'n dier uit die see sien opkom, met tien horings en sewe koppe. Op sy horings was daar tien krone, en op sy koppe was daar 'n godslasterlike naam geskryf. 2Die dier wat ek gesien het, het net soos 'n luiperd gelyk, met pote soos dié van 'n beer en 'n bek soos dié van 'n leeu. Die draak het sy krag en sy troon en groot mag aan hom oorgedra. 3Dit het gelyk of een van die dier se koppe tot die dood toe verwond was, maar sy dodelike wond het genees. Die hele wêreld was verwonderd oor die dier, en het agter hom aangeloop. 4En hulle het die draak aanbid, omdat hy volmag aan die dier gegee het. Hulle het toe ook die dier aanbid, en gesê: “Wie is net soos die dier, en wie kan teen hom oorlog voer?”
5Aan hom is 'n mond gegee om grootpraterige en godslasterlike dinge mee kwyt te raak. Aan hom is volmag gegee om dit twee-en-veertig maande lank te doen. 6Hy het sy mond geopen om God, en ook sy Naam en sy woonplek en hulle wat in die hemel woon, te belaster. 7Hy is toegelaat om teen die •heiliges oorlog te voer, en hulle te oorwin. Aan hom is ook volmag gegee oor elke stam en volk en taal en nasie. 8Al die aardbewoners sal hom aanbid, elkeen wie se naam sedert die grondlegging van die wêreld nie opgeskryf is in die boekrol van die lewe van die Lam wat geslag is nie.
9As iemand ore het, laat hy luister:
10As iemand bestem is vir gevangenskap,
sal hy in gevangenskap gaan;
as iemand bestem is
om met 'n swaard
doodgemaak te word,
sal hy met 'n swaard
doodgemaak word.
Hiervoor het die heiliges volharding en geloof nodig.
Die dier uit die aarde
11Toe het ek 'n ander dier uit die aarde sien opkom. Hy het twee horings gehad, net soos 'n lam, maar hy het soos 'n draak gepraat. 12Hy het met al die volmag van die eerste dier opgetree, en dit in sy teenwoordigheid gedoen. En hy laat die aarde en die bewoners daarvan die eerste dier aanbid, die een wat van sy dodelike wond genees is. 13Hy doen ook indrukwekkende tekens; so laat hy voor die mense vuur van die hemel af op die aarde neerkom. 14En hy mislei die aardbewoners deur die tekens wat hy toegelaat is om in die teenwoordigheid van die dier te doen, deur hulle te beveel om 'n beeld op te rig vir die dier wat deur die swaard gewond is, maar weer lewend geword het. 15Aan hom is toe die vermoë gegee om asem in die beeld van die dier te blaas, sodat die beeld van die dier ook kon praat, en om almal wat nie die beeld van die dier aanbid nie, te laat doodmaak. 16Hy het ook almal, klein en groot, ryk en arm, vry mense en slawe, verplig om 'n merk op hulle regterhand of op hulle voorkop te laat aanbring, 17sodat niemand, behalwe dié met die merk van die naam van die dier of die getal van sy naam, sou kon koop of verkoop nie.
18Hiervoor is wysheid nodig. Wie insig het, moet die getal van die dier bereken, want dit is die getal van die mens, en sy getal is seshonderd ses-en-sestig.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid