DIE OPENBARING 13:1-4 - Compare All Versions

DIE OPENBARING 13:1-4 ABA (Bybel vir almal)

En ek het gesien 'n dier kom uit die see. Die dier het tien horings en sewe koppe gehad. Op die horings was tien krone en op sy koppe was daar name geskryf, name wat vir God gelaster het. Die dier wat ek gesien het, het soos 'n luiperd gelyk. Sy voete het gelyk soos 'n beer se voete en sy bek het gelyk soos 'n leeu se bek. Die draak het vir die dier gesê hy mag die draak se krag gebruik, hy mag regeer en hy mag alles doen wat die draak doen. En ek het gesien een van die dier se koppe het 'n groot seerplek gehad. Ek het gedink dat die dier sal doodgaan. Maar die groot seerplek het gesond geword. Al die mense in die wêreld was baie verbaas en hulle het die dier gevolg. Die mense het die draak aanbid, want die draak het vir die dier gesê hy kan alles doen wat die draak doen. En hulle het die dier aanbid en gesê: “Daar is niemand wat so sterk is soos die dier nie! Niemand kan teen hom oorlog maak nie.”

DIE OPENBARING 13:1-4 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

EN ek het 'n dier uit die see sien opkom met sewe koppe en tien horings, en op sy horings tien krone en op sy koppe 'n naam van godslastering. En die dier wat ek gesien het, was soos 'n luiperd, en sy pote soos dié van 'n beer, en sy bek soos die bek van 'n leeu; en die draak het hom sy krag gegee en sy troon en groot mag. En ek het een van sy koppe gesien net of dit dodelik gewond was, en sy dodelike wond is genees. En die hele wêreld het verwonderd agter die dier aan gegaan. En hulle het die draak aanbid wat die dier mag gegee het, en die dier aanbid en gesê: Wie is aan die dier gelyk? Wie kan teen hom oorlog voer?

DIE OPENBARING 13:1-4 AFR83 (Afrikaans 1983)

En toe het ek 'n dier uit die see uit sien kom met tien horings en sewe koppe. Op sy horings was daar tien heerserskrone en op sy koppe godslasterlike name. Die dier wat ek gesien het, het soos 'n luiperd gelyk. Sy pote was soos dié van 'n beer en sy bek soos dié van 'n leeu. Die draak het sy mag, sy troon en groot gesag aan hom gegee. Dit het gelyk asof hy aan een van sy koppe dodelik gewond was, maar die dodelike wond het genees, en die hele wêreld het verwonderd agter die dier aan geloop. Die mense het die draak aanbid omdat dit hy is wat die gesag aan die dier gegee het. Hulle het ook die dier aanbid en gesê: “Wie kan met die dier vergelyk word? En wie kan teen hom oorlog voer?”

DIE OPENBARING 13:1-4 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Toe het ek 'n dier uit die see sien opkom, met tien horings en sewe koppe. Op sy horings was daar tien krone, en op sy koppe was daar 'n godslasterlike naam geskryf. Die dier wat ek gesien het, het net soos 'n luiperd gelyk, met pote soos dié van 'n beer en 'n bek soos dié van 'n leeu. Die draak het sy krag en sy troon en groot mag aan hom oorgedra. Dit het gelyk of een van die dier se koppe tot die dood toe verwond was, maar sy dodelike wond het genees. Die hele wêreld was verwonderd oor die dier, en het agter hom aangeloop. En hulle het die draak aanbid, omdat hy volmag aan die dier gegee het. Hulle het toe ook die dier aanbid, en gesê: “Wie is net soos die dier, en wie kan teen hom oorlog voer?”

DIE OPENBARING 13:1-4 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

En ek het op die sand van die see gaan staan en 'n dier uit die see sien opkom, met sewe koppe en tien horings, en op sy horings tien krone, en op sy koppe die naam van godslastering. En die dier wat ek gesien het, was soos 'n luiperd, en sy pote was soos die pote van 'n beer en sy bek soos die bek van 'n leeu; en die draak het hom sy krag en sy troon en groot mag gegee. En ek het een van sy koppe gesien asof dit doodgewond was; en sy dodelike wond is genees, en die hele wêreld was verwonderd agter die dier aan. En hulle het die draak aanbid wat aan die dier mag gegee het, en hulle het die dier aanbid en gesê: Wie is soos die dier? wie is in staat om teen hom oorlog te voer?

DIE OPENBARING 13:1-4 DB (Die Boodskap)

Ek sien toe ’n dier uit die see opkom. Hy het so gelyk: hy het tien horings en sewe koppe gehad, wat gewys het hoe ’n sterk regeerder hy was. Sy tien krone het gewys dat hy soos ’n koning regeer het. Op die koppe was die verskriklikste naam geskryf. Dit was ’n absolute belediging vir God! Hy kon nie sy sluheid wegsteek nie, want hy het die lyf van ’n luiperd gehad en sy pote het soos ’n beer s’n gelyk. Daarmee het hy vasgestaan. Sy bek was soos ’n leeu s’n, wreed en vreesaanjaend. Die duiwel het aan hierdie dier sy krag gegee. Hy kon met net soveel gesag as die duiwel regeer. Een van die koppe van die dier het ’n wond gehad waarvan hy sekerlik moes doodgaan. Met so ’n wond kon hy nie bly leef nie. Tog het die wond gesond geword. Die hele wêreld was verwonderd, stom van verbasing. Hulle het agter die dier aangestroom en die duiwel soos God aanbid, want hy het mos al daardie mag aan die dier gegee. “Wie is so wonderlik soos die dier?” het hulle gevra. “Wie sal ooit teen hom ’n oorlog kan wen?” So het hulle die dier aanbid.

DIE OPENBARING 13:1-4 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Toe het ek ’n monster uit die see sien opkom met tien horings en sewe koppe. Op sy horings was daar tien koningskrone en op sy koppe name wat God belaster het. Die monster wat ek gesien het, het net soos ’n luiperd gelyk. Sy pote was net soos dié van ’n beer en sy bek net soos dié van ’n leeu. Die draak het van sy eie krag, sy troon en groot mag aan hom gegee. Aan een van sy koppe was hy oënskynlik dodelik verwond, maar sy dodelike wond het gesond geword. Die hele wêreld het verwonderd agter dié monster aan geloop. Hulle het in aanbidding neergeval voor die draak omdat hy aan die monster mag gegee het. En hulle het die monster aanbid en gesê: “Wie is soos die monster? En wie kan teen hom oorlog maak?”