DIE OPENBARING 12:7-17 - Compare All Versions
DIE OPENBARING 12:7-17 ABA (Bybel vir almal)
Toe was daar oorlog in die hemel. Migael en sy engele het oorlog gemaak teen die draak, en die draak en sy engele het oorlog gemaak teen Migael en sy engele. Maar die draak en sy engele het verloor. Daar was nie meer plek vir hulle in die hemel nie. God het die groot draak uit die hemel gegooi. Die draak is die ou slang, die mense noem hom “ die duiwel” en “ Satan.” Hy bedrieg al die mense van die wêreld. God het hom en sy engele op die aarde gegooi. Toe het ek gehoor iemand skree hard in die hemel en hy sê: “Ons God het ons gered! Hy is baie sterk! Hy is ons Koning en Hy regeer! Ja, die Christus van God regeer oor alles en almal! Want God het die Satan uit die hemel gegooi, die Satan wat elke dag en elke nag die mense beskuldig wat saam met ons glo. Maar die gelowiges het die Satan oorwin omdat die Lam gesterf het en omdat hulle vir almal vertel het wat hulle geglo het. Ja, hulle was nie bang toe die mense hulle doodgemaak het nie. Daarom moet die hemel bly wees, almal wat in die hemel woon, moet bly wees! Maar die mense op die aarde sal baie swaar kry, en die see sal baie swaar kry. Want die duiwel het afgekom na julle toe en hy is baie kwaad, want hy weet hy het min tyd.” En toe die draak sien dat God hom op die aarde gegooi het, het hy die vrou gevolg en gejaag, die vrou wat die seun gekry het. Maar God het vir die vrou twee vlerke van 'n groot arend gegee sodat sy kon wegvlieg van die slang, sy kon vlieg na haar plek in die woestyn. Daar sal God vir haar sorg, drie en 'n half jaar lank. Toe het die slang baie water gespoeg na die vrou toe, so baie water soos 'n rivier. Hy wou hê dat die water die vrou moet wegspoel. Maar die aarde het die vrou gehelp. Die aarde het oopgegaan en die water het in die aarde ingevloei, die water wat die draak gespoeg het. Die draak was baie kwaad vir die vrou en hy het weggegaan om oorlog te gaan maak teen die vrou se ander kinders. Haar ander kinders is die mense wat doen wat God se wette sê en wat Jesus gesê het.
DIE OPENBARING 12:7-17 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
En daar het oorlog in die hemel gekom: Mígael en sy engele het oorlog gevoer teen die draak, en die draak en sy engele het oorlog gevoer; en hulle kon nie oorwin nie, en hulle plek was in die hemel nie meer te vinde nie. En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp. Toe hoor ek 'n groot stem in die hemel sê: Nou het die heil en die krag en die koningskap die eiendom van onse God geword, en die mag van sy Christus; want die aanklaer van ons broeders is neergewerp, hy wat hulle aanklaag voor onse God, dag en nag. En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis, en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie. Daarom, wees verheug, o hemele en die wat daarin woon; wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het. En toe die draak sien dat hy neergewerp is op die aarde, het hy die vrou vervolg wat die seuntjie gebaar het; maar die twee vlerke van die groot arend is aan die vrou gegee, sodat sy na die woestyn, na haar plek, kon vlieg, waar sy uit die gesig van die slang onderhou word, 'n tyd en tye en 'n halwe tyd. En die slang het uit sy bek water soos 'n rivier agter die vrou aan uitgegooi, om haar te laat wegvoer deur die rivier. En die aarde het die vrou te hulp gekom, en die aarde het sy mond oopgemaak en die rivier opgesluk, wat die draak uit sy bek uitgegooi het. En die draak was vertoornd op die vrou, en hy het weggegaan om oorlog te voer teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou.
DIE OPENBARING 12:7-17 AFR83 (Afrikaans 1983)
Daar het toe oorlog gekom in die hemel: Migael en sy engele moes oorlog voer teen die draak. Die draak en sy engele het oorlog gevoer, maar hulle is verslaan. In die hemel was daar geen spoor meer van hulle te vind nie, want die groot draak, die slang van ouds, wat die duiwel en die Satan genoem word en wat die hele wêreld verlei, is uit die hemel uit gegooi. Hy is op die aarde gegooi en sy engele saam met hom. Toe het ek 'n stem in die hemel gehoor wat hard uitgeroep het: “Nou het ons God die redding gebring, nou is sy mag en koningskap hier, en die gesag van sy Gesalfde! Die aanklaer van ons medegelowiges is uit die hemel uit gegooi, hy wat hulle dag en nag voor ons God aangekla het. Hulle het self die oorwinning oor hom behaal danksy die bloed van die Lam en die boodskap waarvan hulle getuig het; en hulle het nie hulle lewens so liefgehad dat hulle onwillig was om vir Hom te sterwe nie. Daarom, hemel en dié wat daarin bly, verheug julle. Maar vir julle, land en see, wag daar ellende omdat die duiwel na julle toe gekom het met groot woede en met die wete dat hy min tyd het.” Toe die draak sien dat hy op die aarde gegooi is, het hy die vrou agtervolg wat die seun in die wêreld gebring het. Maar aan die vrou is twee groot arendsvlerke gegee, sodat sy na die woestyn, na haar plek toe, kon vlieg. Daar word sy die hele vasgestelde tyd, weg van die slang af, versorg. Die slang het toe 'n stroom water soos 'n rivier uit sy bek agter die vrou aan uitgespoeg, sodat sy deur die stroom meegesleur kon word, maar die aarde het die vrou te hulp gekom. Dit het oopgegaan en die stroom opgesluk wat die draak uit sy bek uitgespoeg het. Die draak was woedend oor die vrou en hy het weggegaan om oorlog te maak teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God nakom en aan die getuienis vashou wat Jesus gelewer het.
DIE OPENBARING 12:7-17 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
En daar het oorlog uitgebreek in die hemel: Migael en sy engele het teen die draak oorlog gevoer. Die draak en sy engele het ook oorlog gevoer, maar was nie sterk genoeg nie – daarom was daar nie meer vir hulle plek in die hemel te vind nie. Die groot draak, die slang van weleer, wat Duiwel en Satan genoem word, die verleier van die hele bewoonde wêreld, is toe uitgegooi. Hy is op die aarde neergegooi, en saam met hom ook sy engele. Toe het ek 'n harde stem in die hemel hoor uitroep: “Nou het die verlossing en die krag en die koningsheerskappy van ons God deurgebreek, en ook die volmag van sy •Christus, omdat die aanklaer van ons broers uitgegooi is, hy wat hulle dag en nag voor ons God aangekla het. Húlle het hom oorwin, op grond van die bloed van die Lam, en op grond van hulle getuienis. Selfs in die aangesig van die dood het hulle nie hulle eie lewens liefgehad nie. Daarom, juig hemel en diegene wat in die hemel woon! Wee julle, aarde en see, want die Duiwel het met groot woede na julle neergedaal, omdat hy weet dat hy min tyd oor het.” En toe die draak sien dat hy op die aarde neergegooi is, het hy die vrou agtervolg wat geboorte geskenk het aan die manlike kind. Aan die vrou is egter die twee vlerke van die groot arend gegee, sodat sy na haar plek in die woestyn kon vlieg, waar sy vir 'n tyd, tye en 'n halwe tyd lank weg van die slang af versorg sou word. Die slang het toe uit sy bek 'n stroom water soos 'n rivier agter die vrou aan uitgespoeg, om haar deur die stroom te laat meesleur. Die aarde het die vrou egter gehelp, sy mond geopen, en die rivier wat die draak by sy bek uitgespoeg het, ingesluk. Die draak was woedend vir die vrou, en het weggegaan om oorlog te voer teen die res van haar nageslag wat die gebooie van God nakom en vashou aan die getuienis wat Jesus gelewer het.
DIE OPENBARING 12:7-17 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
En daar was oorlog in die hemel: Migael en sy engele het teen die draak geveg; en die draak het geveg en sy engele, En nie oorwin nie; en hulle plek is nie meer in die hemel gevind nie. En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word Duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei; hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp. En ek het 'n harde stem in die hemel hoor sê: Nou het die verlossing en sterkte en die koninkryk van onse God en die krag van sy Christus gekom, want die aanklaer van ons broeders is neergewerp, wat hulle aangekla het voor ons God, dag en nag. En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis; en hulle het hulle lewe tot die dood toe nie liefgehad nie. Daarom, wees bly, o hemele en wat daarin woon. Wee die bewoners van die aarde en die see! want die duiwel het na julle neergedaal met groot toorn, omdat hy weet dat hy min tyd het. En toe die draak sien dat hy op die aarde neergewerp is, het hy die vrou vervolg wat die seuntjie gebaar het. En aan die vrou is twee vlerke van 'n groot arend gegee, dat sy die woestyn in kon vlieg, na haar plek, waar sy gevoed word vir 'n tyd en tye en 'n halwe tyd van die gesig van die slang af. En die slang het water soos 'n vloed uit sy bek agter die vrou aan gegooi, om haar deur die vloed te laat wegvoer. En die aarde het die vrou gehelp, en die aarde het haar mond oopgemaak en die vloed wat die draak uit sy bek gegooi het, verslind. En die draak was kwaad vir die vrou en het gegaan om oorlog te voer teen die oorblyfsel van haar nageslag, wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus het.
DIE OPENBARING 12:7-17 DB (Die Boodskap)
Daar breek toe ’n oorlog in die hemel uit. Die oorlogsgeneraal van God, Migael, en sy engele pak toe die draak in ’n oorlog. Die draak en sy engele het hulle bes probeer, maar tevergeefs. Hulle het liederlik verloor. Daar was toe nie meer vir hulle ’n plek in die hemel nie. Hulle is verbied om hulle voete daar te sit. So is die groot draak uit die hemel uitgesmyt. Ek praat nou van die slang van wie ons lank terug al in die Bybel lees. Sy ander name is duiwel en Satan. Hy het al die mense wat op die aarde bly heeltemal op die verkeerde pad gelei. Juis hy is saam met sy engele uit die hemel gegooi. Ek hoor toe iemand wat hard praat sodat almal dit kan hoor: “Nou het God ons gered. Nou het Hy sy krag bewys. Ons God heers oor almal en sy Messias het al die mag. “Kyk net, die een wat gedurig God se kinders oor hulle foute aangekla het, is uit die hemel uitgegooi. Ja, hy het God se mense mos sonder ophou, dag en nag, voor God beskuldig. Hulle het hom behoorlik gewen. Hulle wapens was die bloed van die Lam en die boodskap wat hulle met soveel oortuiging aan ander vertel het. Alles het nie net vir hulle om hulleself gedraai nie. Hulle was bereid om tot die dood toe met hierdie wapens te veg. Daarom moet almal wat in die hemel bly van blydskap oorloop. Maar, o genugtig, arme aarde en arme see! Julle gaan swaarkry! Weet julle hoekom? Die duiwel het na julle toe afgekom. Hy is buite homself van woede. Maar sy tydjie is min en hy weet dit!” Toe die draak tot verhaal kom en agterkom dat hy op die aarde neergegooi is, het hy die vrou verwoed agternagesit. (Dit is die vrou wat die seun gehad het.) God gee toe vir die vrou twee vlerke sodat sy soos ’n groot arend kon vlieg. Sy het toe die woestyn in gevlieg na die plek toe wat spesiaal vir haar reggemaak is. Daar is sy versorg met alles wat sy nodig gehad het so lank as wat sy dit nodig gehad het, en dit was nie te lank nie. Daar was sy buite die bereik van die duiwel. Toe maak die duiwel ’n ander plan. Hy laat uit sy mond ’n geweldige stroom water kom. Soos ’n bruisende rivier is hierdie water agter die vrou aan. Die draak het gehoop om so die vrou te verswelg. Maar die aarde was daar om haar te help. Die aarde het oopgeskeur en die water het in die skeur verdwyn. Dit het die draak nog kwater gemaak. Hy was blind van woede vir die vrou. Hy is toe daar weg en het begin oorlog maak en baklei teen al wat kinders van die vrou is. Hy het dadelik begin oorlog maak teen almal wat gehoorsaam aan God se wil is of wat openlik en met oortuiging van Jesus praat.
DIE OPENBARING 12:7-17 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Daar het toe oorlog uitgebreek in die hemel: Migael en die engele onder sy beheer het oorlog gemaak teen die draak. Die draak en die engele onder sy beheer het aan die oorlog deelgeneem, maar hy is verslaan. In die hemel was daar geen plek meer vir die draak en die engele onder sy beheer te vind nie. Die reuse draak is uitgegooi, dit is die slang van die oertyd wat ook die duiwel en Satan genoem word, en wat die hele bewoonde wêreld verlei. Hy is op die aarde neergegooi, asook sy bose engele saam met hom. Toe het ek ’n kragtige stem in die hemel hoor sê: “Nou het die verlossing en die krag en die koninklike heerskappy van ons God aangebreek, asook die mag van sy Christus. Die aanklaer van ons medegelowiges is neergegooi, hy wat hulle dag en nag voor ons God aangekla het. En hulle het hom self oorwin op grond van die bloed van die Lam en die boodskap waaroor hulle getuig het. Hulle het hulle lewens nie so liefgehad dat hulle onwillig was om vir Hom te sterf nie. Daarom, juig daaroor, hemele en dié wat daarin ’n woonplek het! Hoe vreeslik tog vir die land en die see, omdat die duiwel na julle afgekom het met fel woede en met die besef dat hy net ’n kort tydjie het.” Toe die draak sien dat hy op die aarde neergegooi is, het hy die vrou wat geboorte gegee het aan die manlike kind agtervolg. Aan die vrou is egter twee groot arendsvlerke gegee sodat sy na haar plek in die woestyn kon vlieg. Dáár word sy versorg vir ’n tyd, tye en ’n halwe tyd, heeltemal buite bereik van die slang. Die slang het toe uit sy bek ’n boog water soos ’n rivier agter die vrou aan uitgespoeg sodat sy deur die stroom meegesleur kon word, maar die aarde het die vrou te hulp gesnel. Die aarde het sy mond oopgemaak en die rivier wat die draak uit sy bek uitgespoeg het, ingesluk. Die draak het toe woedend geword vir die vrou en vertrek om oorlog te gaan maak teen die res van haar afstammelinge wat die gebooie van God gehoorsaam en vashou aan die getuienis wat Jesus gegee het.