DIE OPENBARING 12

12
Die vrou en die draak
1Toe het daar 'n groot teken in die hemel verskyn: daar was 'n vrou met die son as kleed om haar, die maan onder haar voete, en op haar kop 'n kroon van twaalf sterre. 2Sy was swanger en het geskree van die pyn, want die geboortepyne was daar.
3Daar het ook 'n ander teken in die hemel verskyn: daar was 'n groot vuurrooi draak met sewe koppe en tien horings, en op sy koppe was daar sewe heerserskrone. 4Sy stert het 'n derde van die sterre van die hemel saamgesleep en hulle op die aarde gegooi. Die draak het voor die vrou gestaan wat op die punt was om 'n kind te kry. Hy wou haar kind verslind sodra sy hom in die wêreld bring.
5Sy het 'n kind in die wêreld gebring, 'n seun, bestem om al die nasies met 'n ystersepter te regeer. Haar kind is egter weggeruk na God en na sy troon toe, 6en die vrou het na die woestyn toe gevlug waar God vir haar 'n plek gereed gemaak het, sodat die mense haar daar twaalf honderd en sestig dae lank kon versorg.
7Daar het toe oorlog gekom in die hemel: Migael en sy engele moes oorlog voer teen die draak. Die draak en sy engele het oorlog gevoer, 8maar hulle is verslaan. In die hemel was daar geen spoor meer van hulle te vind nie, 9want die groot draak, die slang van ouds, wat die duiwel en die Satan genoem word en wat die hele wêreld verlei, is uit die hemel uit gegooi. Hy is op die aarde gegooi en sy engele saam met hom.
10Toe het ek 'n stem in die hemel gehoor wat hard uitgeroep het:
“Nou het ons God die redding gebring,
nou is sy mag en koningskap hier, en die gesag van sy Gesalfde!
Die aanklaer van ons medegelowiges
is uit die hemel uit gegooi, hy wat hulle dag en nag voor ons God aangekla het.
11Hulle het self die oorwinning
oor hom behaal danksy die bloed van die Lam
en die boodskap waarvan hulle getuig het;
en hulle het nie hulle lewens
so liefgehad dat hulle onwillig was om vir Hom te sterwe nie.
12Daarom, hemel en dié
wat daarin bly,
verheug julle.
Maar vir julle, land en see,
wag daar ellende omdat die duiwel na julle toe gekom het met groot woede
en met die wete dat hy min tyd het.”
13Toe die draak sien dat hy op die aarde gegooi is, het hy die vrou agtervolg wat die seun in die wêreld gebring het. 14Maar aan die vrou is twee groot arendsvlerke gegee, sodat sy na die woestyn, na haar plek toe, kon vlieg. Daar word sy die hele vasgestelde tyd, weg van die slang af, versorg.
15Die slang het toe 'n stroom water soos 'n rivier uit sy bek agter die vrou aan uitgespoeg, sodat sy deur die stroom meegesleur kon word, 16maar die aarde het die vrou te hulp gekom. Dit het oopgegaan en die stroom opgesluk wat die draak uit sy bek uitgespoeg het.
17Die draak was woedend oor die vrou en hy het weggegaan om oorlog te maak teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God nakom en aan die getuienis vashou wat Jesus gelewer het. 18Die draak het toe op die seestrand gaan staan.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid