Openbaring 12:7-17
Openbaring 12:7-17 ABA
Toe was daar oorlog in die hemel. Migael en sy engele het oorlog gemaak teen die draak, en die draak en sy engele het oorlog gemaak teen Migael en sy engele. Maar die draak en sy engele het verloor. Daar was nie meer plek vir hulle in die hemel nie. God het die groot draak uit die hemel gegooi. Die draak is die ou slang, die mense noem hom “ die duiwel” en “ Satan.” Hy bedrieg al die mense van die wêreld. God het hom en sy engele op die aarde gegooi. Toe het ek gehoor iemand skree hard in die hemel en hy sê: “Ons God het ons gered! Hy is baie sterk! Hy is ons Koning en Hy regeer! Ja, die Christus van God regeer oor alles en almal! Want God het die Satan uit die hemel gegooi, die Satan wat elke dag en elke nag die mense beskuldig wat saam met ons glo. Maar die gelowiges het die Satan oorwin omdat die Lam gesterf het en omdat hulle vir almal vertel het wat hulle geglo het. Ja, hulle was nie bang toe die mense hulle doodgemaak het nie. Daarom moet die hemel bly wees, almal wat in die hemel woon, moet bly wees! Maar die mense op die aarde sal baie swaar kry, en die see sal baie swaar kry. Want die duiwel het afgekom na julle toe en hy is baie kwaad, want hy weet hy het min tyd.” En toe die draak sien dat God hom op die aarde gegooi het, het hy die vrou gevolg en gejaag, die vrou wat die seun gekry het. Maar God het vir die vrou twee vlerke van 'n groot arend gegee sodat sy kon wegvlieg van die slang, sy kon vlieg na haar plek in die woestyn. Daar sal God vir haar sorg, drie en 'n half jaar lank. Toe het die slang baie water gespoeg na die vrou toe, so baie water soos 'n rivier. Hy wou hê dat die water die vrou moet wegspoel. Maar die aarde het die vrou gehelp. Die aarde het oopgegaan en die water het in die aarde ingevloei, die water wat die draak gespoeg het. Die draak was baie kwaad vir die vrou en hy het weggegaan om oorlog te gaan maak teen die vrou se ander kinders. Haar ander kinders is die mense wat doen wat God se wette sê en wat Jesus gesê het.





