PSALMS 143:8-12 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion
PSALMS 143:8-12 AFR83 (Afrikaans 1983)
Laat my elke môre u liefde ondervind, want in U stel ek my vertroue. Wys my die pad wat ek moet loop, want my hoop is op U gevestig. Red my van my vyande, Here, want by U skuil ek. Leer my om u wil te doen, want U is my God! Laat u goeie Gees my op 'n gelyk pad lei. Ter wille van u Naam, Here, laat my lewe. U is regverdig, red my uit die nood. Vernietig in u trou my vyande, laat al my teëstanders omkom, want ek is u dienaar.
PSALMS 143:8-12 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
Laat my u goedertierenheid in die môre hoor, want op U vertrou ek; maak my bekend die pad wat ek moet gaan, want ek hef my siel op tot U. Red my van my vyande, HERE! By U skuil ek. Leer my om u welbehae te doen, want U is my God. Laat u goeie Gees my lei in 'n gelyk land. O HERE, maak my lewend om u Naam ontwil; lei my siel uit die benoudheid, in u geregtigheid. En vernietig my vyande in u goedertierenheid, en bring hulle almal om wat my as vyand behandel; want ek is u kneg.
PSALMS 143:8-12 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Laat ek in die oggend hoor van u onfeilbare liefde, want ek vertrou op U. Wys my die pad waarop ek moet loop, want tot U rig ek my gebed. Bevry my van my vyande, HERE, want ek skuil by U. Leer my om u wil te doen, want U is my God. Laat u goeie Gees my lei op ’n pad wat gelyk is. HERE, laat my lewe ter wille van u Naam; lei my uit my nood, want U is regverdig. Vernietig my vyande ooreenkomstig u trou; laat al my teenstanders omkom, want ek is u dienaar.
PSALMS 143:8-12 DB (Die Boodskap)
Elke dag wil ek hoor hoe U my liefhet, want ek vertrou U. Lei my asseblief op die regte lewenspad. Met my hele lewe is ek van U afhanklik. Red my van hulle wat my nie liefhet nie, Here. U beskerm my. Wees vir my soos ’n onderwyser. Leer my om te doen wat U wil hê, want U is my God. Laat u goeie Gees my lei sodat ek min probleme op my lewenspad het. Here, gee my krag om reg te lewe sodat U die eer daarvoor kry. Help my asseblief uit my nood uit. U tree mos reg teenoor u kinders op. Sit hulle wat my nie liefhet nie, asseblief op hulle plek omdat U my liefhet. Gee dat hulle wat nie van my hou nie, sal doodgaan omdat ek U dien.
PSALMS 143:8-12 ABA (Bybel vir almal)
U moet elke oggend vir my sê dat U sal doen wat U belowe het, want ek glo dat U my sal help, nét U sal help. U moet vir my sê hoe ek moet lewe, ja, ek bid en vra dit vir U, nét vir U. Here, U moet my red van my vyande, ek vra dat U my moet beskerm. U moet vir my leer om te doen wat U wil hê, want dit is Ú wat my God is. U is goed, U moet my op 'n gelyk pad laat loop. Here, ek behoort aan U, U moet my laat aanhou lewe. U doen altyd reg, U moet my vrymaak, want ek kry baie swaar. U doen altyd wat U belowe het, U moet my vyande vir altyd stilmaak, U moet hulle doodmaak, want ek is u dienaar.
PSALMS 143:8-12 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Laat my in die môre van u troue liefde hoor, want op U vertrou ek. Wys my die pad wat ek moet loop, want na U is my verlange. Red my van my vyande, HERE; na U vlug ek. Leer my om te doen wat vir U aanvaarbaar is, want U is my God. U goeie Gees moet my lei op gelyk grond. Ter wille van u Naam, HERE, moet U my in die lewe hou; deur u regverdige optrede moet U my uitlei uit die nood; en in u troue liefde moet U my vyande vernietig. Maak almal tot niet wat my lewe bedreig, want ek is u dienskneg.
PSALMS 143:8-12 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
Laat my in die môre u goedertierenheid hoor; want op U vertrou ek; laat my die weg ken wat ek moet bewandel; want Ek hef my siel tot U op. Verlos my, HERE, van my vyande; ek vlug na U om my te verberg. Leer my om u wil te doen; want U is my God. U gees is goed; lei my na die land van opregtheid. Maak my bespoedig, HERE, ter wille van U Naam; En deur U goedertierenheid moet U my vyande uitroei en almal vernietig wat my siel verdruk, want ek is U kneg.