PSALMS 119:89-104 - Compare All Versions

PSALMS 119:89-104 AFR83 (Afrikaans 1983)

U woord, Here, staan vir altyd vas in die hemel. U trou is van geslag tot geslag; U het die aarde gemaak, en dit staan vas. Ja, wat U bepaal het, staan vandag nog vas, alles is aan U onderworpe. As ek my nie in u wet verlustig het nie, het ek omgekom in my ellende. Ek sal u bevele nooit verontagsaam nie, want deur hulle het U my in die lewe gehou. Ek behoort aan U, red my, want ek vra steeds wat u bevele is. Al staan die goddeloses gereed om my te vernietig, u verordeninge sal ek in ag bly neem. Ek het ondervind dat alle volmaaktheid perke het, net u gebod het geen begrensing nie. Hoe lief het ek u wet! Dit bly my elke oomblik by. U gebooie gee my meer insig as wat my vyande het, en is altyd by my. Ek munt uit bo al my leermeesters, want u verordeninge bly my by. Ek het meer insig as ouer mense, want ek gehoorsaam u bevele. Ek het my voete van elke verkeerde pad af gehou sodat ek gehoorsaam kan wees aan u woord. Van u bepalings het ek nie afgewyk nie, want U het my dit geleer. Hoe aangenaam is u woord, soeter as heuning in die mond. U bevele gee my insig, daarom haat ek elke verkeerde pad.

PSALMS 119:89-104 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

Vir ewig, o HERE, staan u woord vas in die hemele. U trou is van geslag tot geslag; U het die aarde bevestig, en dit bly staan. Volgens u verordeninge bly hulle vandag nog staan, want alle dinge is u knegte. As u wet nie my verlustiging was nie, dan het ek omgekom in my ellende. Ek sal u bevele tot in ewigheid nie vergeet nie, want deur hulle het U my lewend gemaak. Aan U behoort ek: verlos my, want ek soek u bevele. Die goddelose lê en wag op my, om my om te bring; ek gee ag op u getuienisse. Aan alle volmaaktheid het ek 'n einde gesien, maar u gebod is baie wyd. Hoe lief het ek u wet; dit is my bepeinsing die hele dag. U gebooie maak my wyser as my vyande, want hulle is myne vir ewig. Ek is verstandiger as al my leermeesters, want u getuienisse is my bepeinsing. Ek het meer verstand as die ou mense, want ek bewaar u bevele. Ek het my voete teruggehou van elke verkeerde pad, dat ek u woord kan bewaar. Ek het van u verordeninge nie afgewyk nie, want Ú het my geleer. Hoe soet is u beloftes vir my verhemelte, meer as heuning vir my mond. Uit u bevele kry ek verstand; daarom haat ek elke leuenpad.

PSALMS 119:89-104 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

U woord, HERE, is vir altyd, dit staan vas in die hemel. U trou is vir geslag na geslag, U het die aarde gevestig, en dit staan nog vas. U bepalings is vandag nog waar, want al hierdie dinge is u dienaars. As u gebooie nie vir my vreugde was nie, sou ek gesterf het van ellende. Ek sal u bevele nooit vergeet nie, want daardeur gee U my die lewe. Ek behoort aan U; red my tog! Want ek vra na u bevele. Bose mense wag my in om my dood te maak, maar ek neem u waarskuwings in ag. Selfs volmaaktheid het sy perke, maar u gebooie ken geen grense nie. Hoe lief het ek u gebooie! Ek oordink dit die hele dag. U gebooie gee my meer insig as wat my vyande het, want dit is gedurig by my. Ek het meer insig as my leermeesters, want ek oordink u waarskuwings. Ek het meer begrip as ouer mense, want ek lewe volgens u bevele. Verkeerde paaie het ek vermy, sodat ek u woord kan gehoorsaam. Ek het nie afgewyk van u bepalings nie, want U het my dit geleer. Hoe aangenaam is u woorde vir my; dis soeter as heuning in my mond. Deur u bevele kry ek insig; daarom haat ek elke valse pad.

PSALMS 119:89-104 DB (Die Boodskap)

Here, alles wat U sê, gebeur presies net so in die hemel: altyd. U goedheid raak nooit uit die mode nie. U het net ’n woord gesê, toe staan die aarde daar! Alles wat U gemaak het, bestaan tot vandag toe. Alles buig voor U. As u Woord vir my nie soveel blydskap gebring het nie, het ek al lankal moed opgegee. So lank as wat ek leef, sal ek u voorskrifte in my hart bêre, want hulle het my lewe gered. Ek is U s’n, van kop tot tone. Red my, want ek wil elke dag agter U aanstap. Slegte mense staan reg om my dood te maak, maar ek doen net wat U sê. Alles wat mense doen, hoe goed dit ook al is, is vol foute, maar dit wat U in die wet sê, is foutloos; dit hou vir altyd! Ek kan nie vir U sê hoe lief ek vir al u voorskrifte is nie! Ek dink dag en nag daaroor. Dit gee my ’n groot voorsprong bo al my vyande, niemand kan ooit my kennis van u Woord wegvat nie. Ek weet baie meer oor U as hulle wat my van U geleer het, want u Woord is my hele lewe. Ek is verstandiger as al die ou mense omdat ek u Woord in my hart wegbêre. Ek systap die sonde omdat ek graag wil doen wat U sê. Afdraaipaaie ken ek nie, want U het my geleer hoe om te leef. Daar’s niks beter as u Woord nie, dit is soeter as die soetste heuning. U voorskrifte het my geleer hoe om die lewe te bemeester; daarom haat ek leuens.

PSALMS 119:89-104 ABA (Bybel vir almal)

Here, die dinge wat U vir ons gesê het, is altyd waar, dit staan vas in die hemel, dit verander nooit. U bly dieselfde vir elke geslag. U het die aarde gesit waar dit is, en dit is nog altyd daar. Alles is vandag nog daar, soos U besluit het, want almal doen wat U sê. Ek het geniet wat U vir ons leer. As dit nie so was nie, dan het ek gesterf, want ek kry swaar. Ek sal nooit vergeet wat U beveel het nie, want U het my so laat lewe. Ek behoort aan U, en U moet my red, want ek probeer om te doen wat U beveel. Die mense wat verkeerd doen, is gereed om my dood te maak, maar ek dink net aan wat U gesê het. Ek het gesien dat niks vir altyd aanhou nie, alles het 'n einde, maar u gebooie is oral en altyd daar. Ek is baie lief vir die dinge wat U vir my leer, ek dink die hele dag daaroor. U gebooie gee vir my wysheid, meer wysheid as wat my vyande het, want ek onthou altyd u gebooie. Ek is verstandiger as almal wat vir my geleer het, want ek dink aan wat U gesê het. Ek is slimmer as mense wat ouer is as ek, want ek doen wat U beveel het. Ek doen niks wat verkeerd is nie, ek wil doen wat U gesê het. Ek hou aan om te doen wat U besluit, want U self leer vir my. Dit is lekker om te praat oor die dinge wat U belowe het, dit is lekkerder as heuning. Ek verstaan wat U beveel het, daarom haat ek alles wat vals is.

PSALMS 119:89-104 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Vir ewig, HERE, staan u woord vas in die hemel. Van geslag tot geslag duur u trou; U het die aarde gevestig en dit hou stand. Volgens u beslissings hou dit vandag nog stand, want alles is u diensknegte. As u wet nie my vreugde was nie, sou ek in my ellende vergaan het. Tot in ewigheid sal ek u opdragte nie vergeet nie, want daardeur het U my lewend gemaak. Aan U behoort ek; verlos my, want na u opdragte streef ek. Goddeloses wag my in om my te vernietig; op u bepalings slaan ek ag. Ek het gesien aan alle volmaaktheid kom daar 'n einde, maar u gebod is besonder ruim. Hoe lief het ek u wet – die hele dag dink ek daaroor na. U gebod maak my wyser as my vyande, want dit is altyd daar vir my. Ek is verstandiger as al my leermeesters, want u bepalings is vir my stof tot nadenke. Ek het meer insig as oumense, want by u opdragte hou ek. Van elke slegte pad het ek my voete weerhou sodat ek u woord kon onderhou. Van u beslissings het ek nie afgewyk nie, want dit is U wat my onderrig. Hoe strelend is u woord vir my verhemelte, meer as heuning vir my mond. Uit u opdragte kry ek insig; daarom haat ek elke bedrieglike pad.

PSALMS 119:89-104 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

GELAAM. Vir ewig, o HERE, is U woord vas in die hemel. U trou is van geslag tot geslag: U het die aarde gegrond, en dit bly staan. Hulle bly vandag volgens U verordeninge, want almal is U dienaars. As U wet nie my behae was nie, sou ek dan in my ellende omgekom het. Ek sal U bevele nooit vergeet nie, want daarmee het U my lewend gemaak. Ek is joune, red my; want ek het U bevele gesoek. Die goddelose het gewag dat ek my vernietig, maar ek sal U getuienisse in ag neem. Ek het 'n einde van alle volmaaktheid gesien, maar U gebod is baie wyd. MEM. O, hoe het ek U wet lief! dit is my meditasie die hele dag. U het my deur U gebooie wyser gemaak as my vyande, want hulle is altyd by my. Ek het meer verstand as al my leraars, want U getuienisse is my oordenking. Ek verstaan meer as die oudstes, want ek bewaar U bevele. Ek het my voete van elke verkeerde weg teruggehou, om u woord te bewaar. Ek het nie van U oordele afgewyk nie, want U het my geleer. Hoe soet is U woorde na my smaak! ja, soeter as heuning vir my mond! Deur u bevele kry ek verstand; daarom haat ek elke bedrieglike weg.