Psalms 119:89-104
Psalms 119:89-104 DB
Here, alles wat U sê, gebeur presies net so in die hemel: altyd. U goedheid raak nooit uit die mode nie. U het net ’n woord gesê, toe staan die aarde daar! Alles wat U gemaak het, bestaan tot vandag toe. Alles buig voor U. As u Woord vir my nie soveel blydskap gebring het nie, het ek al lankal moed opgegee. So lank as wat ek leef, sal ek u voorskrifte in my hart bêre, want hulle het my lewe gered. Ek is U s’n, van kop tot tone. Red my, want ek wil elke dag agter U aanstap. Slegte mense staan reg om my dood te maak, maar ek doen net wat U sê. Alles wat mense doen, hoe goed dit ook al is, is vol foute, maar dit wat U in die wet sê, is foutloos; dit hou vir altyd! Ek kan nie vir U sê hoe lief ek vir al u voorskrifte is nie! Ek dink dag en nag daaroor. Dit gee my ’n groot voorsprong bo al my vyande, niemand kan ooit my kennis van u Woord wegvat nie. Ek weet baie meer oor U as hulle wat my van U geleer het, want u Woord is my hele lewe. Ek is verstandiger as al die ou mense omdat ek u Woord in my hart wegbêre. Ek systap die sonde omdat ek graag wil doen wat U sê. Afdraaipaaie ken ek nie, want U het my geleer hoe om te leef. Daar’s niks beter as u Woord nie, dit is soeter as die soetste heuning. U voorskrifte het my geleer hoe om die lewe te bemeester; daarom haat ek leuens.


