Psalms 119:89-104

Psalms 119:89-104 ABA

Here, die dinge wat U vir ons gesê het, is altyd waar, dit staan vas in die hemel, dit verander nooit. U bly dieselfde vir elke geslag. U het die aarde gesit waar dit is, en dit is nog altyd daar. Alles is vandag nog daar, soos U besluit het, want almal doen wat U sê. Ek het geniet wat U vir ons leer. As dit nie so was nie, dan het ek gesterf, want ek kry swaar. Ek sal nooit vergeet wat U beveel het nie, want U het my so laat lewe. Ek behoort aan U, en U moet my red, want ek probeer om te doen wat U beveel. Die mense wat verkeerd doen, is gereed om my dood te maak, maar ek dink net aan wat U gesê het. Ek het gesien dat niks vir altyd aanhou nie, alles het 'n einde, maar u gebooie is oral en altyd daar. Ek is baie lief vir die dinge wat U vir my leer, ek dink die hele dag daaroor. U gebooie gee vir my wysheid, meer wysheid as wat my vyande het, want ek onthou altyd u gebooie. Ek is verstandiger as almal wat vir my geleer het, want ek dink aan wat U gesê het. Ek is slimmer as mense wat ouer is as ek, want ek doen wat U beveel het. Ek doen niks wat verkeerd is nie, ek wil doen wat U gesê het. Ek hou aan om te doen wat U besluit, want U self leer vir my. Dit is lekker om te praat oor die dinge wat U belowe het, dit is lekkerder as heuning. Ek verstaan wat U beveel het, daarom haat ek alles wat vals is.