SPREUKE 5:1-19

SPREUKE 5:1-19 Bybel vir almal (ABA)

My kind, jy moet luister na die wysheid wat ek het, jy moet hoor wanneer ek vir jou sê wat ek weet. Dan sal jy weet wat die regte ding is om te doen, en jy sal altyd weet wat om te sê. Dit is belangrik, want 'n slegte vrou se woorde is so soet soos heuning en so glad soos olyf-olie. Maar later is sy so bitter soos wilde-als, en so gevaarlik soos 'n swaard wat skerp is. As jy saam met haar gaan, dan gaan jy na die dood, sy lei jou na die doderyk. Sy dink nie aan die pad van die lewe nie, sy weet nie waar sy loop nie. Kinders, daarom moet julle luister na my, julle moenie ongehoorsaam wees nie. Jy moet wegbly van die slegte vrou, jy moenie naby haar huis se deur kom nie. As jy na haar toe gaan, dan gee jy vir 'n ander mens iets wat vir jou kosbaar moet wees, jy gee jou beste jare vir 'n wrede mens. Vreemde mense sal al die dinge kry waarvoor jy gewerk het. Die goed wat joune geword het omdat jy baie hard gewerk het en swaargekry het, sal in 'n ander mens se huis kom. Wanneer jy naby jou dood is, dan sal jy lê en huil en kla, want dan sal jy 'n baie siek mens wees. Dan sal jy sê: “Hoekom wou ek nie leer nie? Hoekom het ek gedink dat wysheid nie belangrik is nie? Ek wou nie luister na die mense wat vir my geleer het nie, ek wou nie hoor wat hulle sê nie. Nou gaan dit baie sleg met my, hier by die vergadering van die mense wat my oordeel.” Jy moenie ontrou wees aan jou vrou nie, jy moet wees soos iemand wat sy eie put se water drink, jy moet die strome water drink wat uit jou eie fontein kom. Jy sal nie die water, die strome uit jou fonteine, buite laat wegloop op die oop stukke grond nie. Dit moet net jóú water wees, nie ander mense se water ook nie. Jou eie fontein se water moet genoeg wees vir jou, dit moet vir jou lekker wees by jou eie vrou. Sy is so pragtig soos 'n takbok, so mooi soos 'n klipbok. Jy moet dit altyd geniet om haar teen jou vas te druk, jy moet vir haar so lief wees dat dit vir jou sal wees soos 'n droom.

SPREUKE 5:1-19 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

MY seun, luister na my wysheid, neig jou oor tot my insig, dat jy volle oorleg kan behou en jou lippe kennis kan bewaar; want die lippe van die vreemde vrou drup heuningstroop, en haar verhemelte is gladder as olie, maar op die end is sy bitter soos wildeals, soos 'n swaard aan weerskante skerp. Haar voete daal na die dood toe af, haar treë streef na die doderyk toe. Dat sy die pad na die lewe nie sou inslaan nie, wankel haar gange sonder dat sy dit weet. Luister dan nou na my, julle seuns, en wyk nie af van die woorde van my mond nie. Hou jou weg ver van haar af, en kom nie naby die deur van haar huis nie, sodat jy nie jou bloei aan ander gee en jou jare aan een wat onbarmhartig is nie; sodat vreemdes hulle nie versadig met jou vermoë en jou moeitevolle arbeid in die huis van 'n uitlander kom nie en jy uiteindelik moet steun as jou liggaam en jou vlees verteer is, en moet sê: Hoe het ek die tug gehaat en my hart die kastyding versmaad, en nie geluister na die stem van my onderwysers en geen gehoor gegee aan die wat my geleer het nie! Amper was ek heeltemal in die ongeluk, in die vergadering en die gemeente. Drink water uit jou eie reënbak en strome uit jou eie put. Sal jou fonteine buitentoe oorstroom, waterstrome op die pleine? Hulle moet vir jou alleen wees en nie vir ander saam met jou nie. Mag jou fontein geseënd wees, en verheug jou oor die vrou van jou jeug — die lieflike wildsbokkie en aanvallige steenbokkie; laat haar boesem jou altyd vermaak, mag jy in haar liefde gedurigdeur bedwelmd wees.

SPREUKE 5:1-19 Afrikaans 1983 (AFR83)

My seun, slaan ag op die wysheid wat ek jou leer, luister na my goeie raad. Dan sal jy self ook met oorleg kan optree en met die nodige kennis praat. Die slegte vrou se lippe drup van die heuning, haar tong is gladder as olie, maar agterna is alles so bitter soos wildeals; sy is so gevaarlik soos die skerpste swaard. Haar pad is dié van die dood, elke stap saam met haar bring die ondergang nader. Sy hou jou weg van die pad van die lewe af, sy laat jou dwaal, en jy weet dit nie. Luister na my, my seun, bly by wat ek jou sê: Bly weg van haar af, moenie naby haar huis se deur kom nie dat jy nie jou mooiste jare verspil nie, jou beste jare aan 'n hartelose mens gee nie, dat vreemdes hulle nie vol eet aan die vrug van jou arbeid nie, dat dit waarvoor jy gewerk het, nie in die huis van 'n ander beland nie. Jy sal lê en kreun as jou einde nader, met die vleis aan jou liggaam weggevreet, en jy sal sê: “Ek het my opvoeding versmaai, ek het my nie gesteur aan die onderrig nie. As ek maar geluister het na my leermeesters en my ore oopgemaak het toe hulle my geleer het! Hier sit ek nou in die grootste ellende voor die oë van almal.” Jy het tog self 'n vrou, jy het tog self 'n put met water: drink die strome uit jou eie fontein. Moet jou fonteine dan ook die wêreld vol loop, jou strome water oral heen vloei? Hulle is tog net joune, en jy sal hulle nie met 'n ander wil deel nie. Sing die lof van jou eie fontein, verheug jou oor jou eie vrou, so vol liefde, so mooi soos 'n takbok, soos 'n ribbok. Geniet voluit van haar liefkosings, laat dit jou deurentyd bedwelm.

SPREUKE 5:1-19 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

My seun, op my wysheid moet jy ag slaan, vir my verstandigheid moet jy jou ore spits, om sodoende goeie oordeel te kan bewaar, en op kennis, dat jou lippe daarby hou. Want die lippe van 'n vreemde vrou drup van heuning, en gladder as olie is haar mond. Maar uiteindelik is sy so bitter soos wildeals, so skerp soos 'n tweesnydende swaard. Haar voete gaan af na die dood, op die •doderyk stuur haar voetstappe af. Die pad van die lewe – sy hou dit nie in die oog nie. Haar paaie is onbestendig, maar sy besef dit nie. Daarom, seuns, luister na my, en moenie afwyk van die woorde uit my mond nie. Hou jou pad ver van haar af! Moenie eers naby haar huis se deur kom nie; anders gee jy jou bloeityd aan andere, jou beste jare aan 'n hartelose; anders eet vreemdes hulle versadig aan jou vermoë, en beland dit wat jy met inspanning verdien het, in die huis van 'n buitelander. Uiteindelik sal jy kreun, wanneer jou vlees en jou liggaam daarmee heen is. Jy sal sê: “Hoe het ek vermaning gehaat, hoe het my hart teregwysing versmaai! Ek het nie geluister na die stem van my leermeesters nie, na hulle wat my onderrig het, my oor nie gedraai nie. So byna was ek uitgelewer aan elke onheil, midde-in die byeenkoms van die volksvergadering. ” Drink water uit jou eie opgaarput, en lopende water uit jou eie bron. Moet jou fonteine straataf spoel, op die dorpspleine watervore word? Hulle is vir jou alleen bedoel, nie vir •vreemdelinge by jou nie. Mag jou waterbron geseënd wees; verheug jou oor die vrou van jou jeug – 'n bekoorlike rooitakbokkie, 'n grasieuse klipbokooitjie. Haar borste, mag hulle jou altyd bevredig; mag jy deur haar liefkosings voortdurend bedwelmd wees.

SPREUKE 5:1-19 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

My seun, let op my wysheid en buig jou oor voor my insig. Sodat jy oorleg kan ag en jou lippe kennis kan bewaar. Want die lippe van 'n vreemde vrou drup soos 'n heuningkoek, en haar mond is gladder as olie. Maar haar einde is bitter soos als, skerp soos 'n tweesnydende swaard. Haar voete sak af na die dood; haar treë vat vat op die hel. Laat jy nie die pad van die lewe oordink nie, sy weë is beweeglik, dat jy dit nie kan ken nie. Luister dan nou na my, o kinders, en wyk nie af van die woorde van my mond nie. Bring jou weg ver van haar af en kom nie naby die deur van haar huis nie. Dat jy nie jou eer aan ander gee en jou jare aan die wreedaards nie. Sodat vreemdelinge nie versadig word met jou rykdom nie; en jou werk is in die huis van 'n vreemdeling; En jy treur op die laaste, as jou vlees en jou liggaam verteer is, En sê: Hoe het ek tug gehaat en teregwysing verag my hart; En ek het nie na die stem van my leraars geluister en my oor nie tot die wat my onderrig gegee het nie! Ek was byna in alle boosheid te midde van die gemeente en die vergadering. Drink water uit jou eie put en lopende water uit jou eie put. Laat u fonteine versprei word en waterstrome op die strate. Laat hulle net jou eie wees en nie vreemdelinge by jou nie. Laat jou fontein geseën word, en wees bly saam met die vrou van jou jeug. Laat sy wees soos 'n liefdevolle rooibok en lieflike gemsbok; laat haar borste jou altyd versadig; en wees altyd bekoor met haar liefde.

SPREUKE 5:1-20 Die Boodskap (DB)

Jong vriend, luister nou baie mooi na my goeie raad. Leer uit my ervaring sodat jy reg kan leef en met insig kan praat. Pas op vir die los vrou. Aan die begin is haar woorde so soet en aanloklik soos heuning. Met haar mooiklinkende praatjies wil sy jou vir haarself inpalm. Na die opwinding bly daar egter net ’n bitter nasmaak oor. Haar bitter woorde is dan erger as gal, soos ’n skerp swaard wat jou wil verwoes. Haar manier van leef maak mense geestelik dood. Sy vernietig jongmans se lewe. Sy steur haar glad nie aan ’n gelukkige lewenstyl nie. Sy leef ’n lewe van totale ondergang. Jong vriend, luister na my woorde. Doen dit. Bly weg van so ’n vrou af. Moenie eens naby haar huis se deur kom nie, sodat jy tog nie jou mooi liggaam vir ’n ander een gee wat dit nie eens waardeer nie, sodat jy nie jou eer by iemand verloor wat jou nie eens respekteer nie, sodat vreemdes nie jou geld, waarvoor jy hard gewerk het, uitmors nie. As jy nie versigtig leef nie, kan jy sommer ernstig siek word. Op jou sterfbed sal jy dan van die pyn skreeu omdat jou liggaam deur siekte vernietig word. Jy sal ook hartseer wees. Jy sal besef dit tref jou omdat jy nie na goeie raad wou luister nie. Jy sal jouself begin verwyt omdat jy nie na jou ouers en baie ander wyse mense geluister het nie. Jou gedrag maak dat jy dan voor die hele gemeente en al die gelowiges verneder word. Wees eerder lief vir jou eie vrou. Drink van jou eie put en van jou eie fonteinwater. Laat joune joune alleen wees. Moet dit nooit met vreemdes deel nie. Geniet die vrou van jou jeug. Laat sy jou verkwik, haar liefde jou vol vreugde maak. En as jy soveel vreugde by jou eie vrou geniet, waarom nog die omhelsing van ’n los vrou soek? Wat kan sy jou gee wat jou eie vrou nie kan nie?

SPREUKE 5:1-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

My seun, slaan ag op my wysheid. Dink goed na oor my raad. Dan sal jy self ook goeie oordeel aan die dag kan lê. Jy sal met gesag kan praat. Die onsedelike vrou kom met soet woordjies. Haar tong is gladder as olie. Die einde daarvan is egter so bitter soos gif. Sy is so gevaarlik soos ’n tweesnydende swaard. Haar pad lei na die dood. Elke tree saam met haar is ’n tree nader aan die graf. Sy gee niks om of jy reg lewe nie. Sy loop met jou ’n koers wat sy self nie eers weet waarheen dit gaan nie. My seuns, luister na my. Moenie afdwaal van my woorde nie. Bly ver weg van hierdie vrou. Kom nie naby haar huis se deur nie. Jy gaan jou lewenskrag aan ander afstaan. Jy gaan jou beste jare op ’n hartelose mens vermors. Buitelanders sal die voordeel van jou besittings geniet. Jou swaar verdiende inkomste sal in die huis van vreemdes beland. Jy gaan teen die einde van jou lewe lê en kreun wanneer jou liggaam verteer word. Jy gaan jouself verwyt: “Ek wou nie luister na vermaning en my steur aan teregwysing nie. Waarom het ek nie liewer geluister na wat my leermeesters gesê het nie? Waarom het ek nie my ore oopgemaak toe hulle my geleer het nie? Amper het ek geheel en al in slegtigheid verval, voor die oë van die hele samelewing.” Drink die water uit jou eie put. Drink by jou eie fontein. Moet jou fonteine in die strate uitloop? Moet jou water die pleine oorstroom? Hou jou water vir jouself. Deel dit nie met vreemdelinge nie. Laat jou eie fontein vir jou tot seën wees. Geniet jou eie jong vrou. Sy is die bokkie wat jy liefhet. Laat haar borste vir jou vreugde gee. Laat haar liefkosings jou die hele tyd oorweldig.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid