Spreuke 5:1-19

Spreuke 5:1-19 AFR20

My seun, op my wysheid moet jy ag slaan, vir my verstandigheid moet jy jou ore spits, om sodoende goeie oordeel te kan bewaar, en op kennis, dat jou lippe daarby hou. Want die lippe van 'n vreemde vrou drup van heuning, en gladder as olie is haar mond. Maar uiteindelik is sy so bitter soos wildeals, so skerp soos 'n tweesnydende swaard. Haar voete gaan af na die dood, op die •doderyk stuur haar voetstappe af. Die pad van die lewe – sy hou dit nie in die oog nie. Haar paaie is onbestendig, maar sy besef dit nie. Daarom, seuns, luister na my, en moenie afwyk van die woorde uit my mond nie. Hou jou pad ver van haar af! Moenie eers naby haar huis se deur kom nie; anders gee jy jou bloeityd aan andere, jou beste jare aan 'n hartelose; anders eet vreemdes hulle versadig aan jou vermoë, en beland dit wat jy met inspanning verdien het, in die huis van 'n buitelander. Uiteindelik sal jy kreun, wanneer jou vlees en jou liggaam daarmee heen is. Jy sal sê: “Hoe het ek vermaning gehaat, hoe het my hart teregwysing versmaai! Ek het nie geluister na die stem van my leermeesters nie, na hulle wat my onderrig het, my oor nie gedraai nie. So byna was ek uitgelewer aan elke onheil, midde-in die byeenkoms van die volksvergadering. ” Drink water uit jou eie opgaarput, en lopende water uit jou eie bron. Moet jou fonteine straataf spoel, op die dorpspleine watervore word? Hulle is vir jou alleen bedoel, nie vir •vreemdelinge by jou nie. Mag jou waterbron geseënd wees; verheug jou oor die vrou van jou jeug – 'n bekoorlike rooitakbokkie, 'n grasieuse klipbokooitjie. Haar borste, mag hulle jou altyd bevredig; mag jy deur haar liefkosings voortdurend bedwelmd wees.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid