SPREUKE 12:8-28 - Compare All Versions

SPREUKE 12:8-28 ABA (Bybel vir almal)

Mense prys iemand wat verstandig praat, maar hulle spot iemand wat dom dinge sê. Dit is beter om nie belangrik te wees nie en 'n slaaf te hê, as om baie belangrik te wees en nie kos te hê om te eet nie. 'n Mens wat reg lewe, weet wat sy diere nodig het, maar mense wat verkeerd doen, is wreed, ook wanneer hulle probeer om goed te wees. Wanneer iemand in sy grond werk, dan sal hy genoeg hê om te eet, 'n onverstandige mens doen dinge wat vir hom niks help nie. 'n Mens wat verkeerd doen, dink hy sal veilig wees wanneer hy slegte dinge doen, mense wat reg lewe, is veilig. Die verkeerde dinge wat 'n slegte mens sê, is soos 'n vangstrik wat hom vang, maar wanneer 'n mens reg lewe, dan sal dit nie vir hom gevaarlik wees nie. Wanneer 'n mens die regte dinge sê, dan sal dit baie goed gaan met hom, en wanneer hy met sy hande werk, dan sal hy beloning kry. 'n Dwaas dink dit is reg om te lewe soos hy wil, maar 'n wyse mens luister wanneer iemand vir hom sê wat om te doen. 'n Dwaas wys dadelik wanneer hy kwaad is, 'n verstandige mens wys nie hoe hy voel wanneer mense hom beledig nie. Wanneer iemand die waarheid praat, dan bring hy 'n boodskap wat reg is, 'n getuie wat lieg, wil mense bedrieg. Wanneer mense praat en nie dink wat hulle sê nie, dan maak hulle ander mense seer. Wyse mense sê dinge wat ander mense beter laat voel. Woorde wat die waarheid is, bly altyd waar, maar mense weet gou wanneer iemand 'n leuen vertel. Mense wat planne maak om slegte dinge te doen, wil ander mense bedrieg, mense wat planne maak om dit goed te laat gaan, maak ander mense bly. Met die mens wat reg lewe, gebeur daar niks wat sleg is nie. Maar dit gaan altyd sleg met mense wat verkeerd doen. Die Here haat iemand wat lieg, maar Hy hou van mense wat die regte dinge doen. 'n Verstandige mens sê nie vir almal wat hy weet nie, maar 'n dwaas skree en sê die dom dinge waaraan hy dink. Mense wat fluks werk, sal oor ander mense regeer, maar lui mense sal soos slawe moet werk. 'n Mens wat bekommerd is, voel nie gelukkig nie, maar 'n vriendelike woord maak hom bly. 'n Mens wat reg lewe, loop op die pad wat 'n vriend vir hom wys, mense wat verkeerd doen, verdwaal op die pad wat hulle self kies. 'n Lui mens kry niks, hy vang ook nie diere in die veld om te eet nie, 'n mens wat fluks werk, maak vir hom kosbare dinge bymekaar. Wanneer mense aanhou om reg te doen, dan hou hulle aan om te lewe, wanneer hulle aanhou om so te lewe, dan sal hulle nie sterf nie.

SPREUKE 12:8-28 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

Ooreenkomstig sy insig word 'n man geprys; maar 'n verkeerde van hart sal verag word. Wie gering geag word en 'n slaaf het, is beter as hy wat hom vernaam aanstel en gebrek aan brood het. Die regverdige ken die natuur van sy dier, maar die barmhartigheid van die goddelose is wreed. Wie sy land bewerk, het volop brood; maar hy wat nietighede najaag, het gebrek aan verstand. Die goddelose begeer die vangs van verkeerde dinge, maar die wortel van die regverdiges lewer vrugte op. In die oortreding van die lippe lê daar 'n gevaarlike strik; maar die regverdige ontkom aan die benoudheid. Uit die vrug van iemand se mond word hy versadig met die goeie, en die daad van 'n mens se hande kom op hom terug. Die weg van 'n dwaas is reg in sy eie oë, maar die wyse luister na raad. Die dwaas laat sy drif op die daad bekend word, maar die skrandere verberg skande. Hy wat die waarheid spreek, vertel wat reg is; maar 'n valse getuie bedrog. Daar is een wat onverskillig woorde uitspreek soos swaardsteke, maar die tong van die wyse is genesing. 'n Betroubare lip bestaan vir altyd, maar 'n valse tong vir 'n oomblik. Bedrog is in die hart van die wat onheil bewerk; maar die wat vrede aanraai, het vreugde. Geen enkele onheil tref die regverdige nie, maar die goddelose is vol ongeluk. Valse lippe is vir die HERE 'n gruwel, maar Hy het 'n welbehae in die wat getrou handel. 'n Skrander mens verberg sy kennis, maar die hart van die dwase roep hulle sotheid uit. Die hand van die vlytiges sal heers, maar traagheid lei tot dwangarbeid. Bekommernis in die hart van 'n mens druk dit neer, maar 'n vriendelike woord vrolik dit op. Die regverdige vind sy weide uit, maar die weg van die goddelose laat hulle dwaal. Hy wat traag is, jaag sy wild nie op nie, maar vlyt is 'n kosbare skat vir 'n mens. Op die pad van geregtigheid is lewe, en die rigting van dié pad is onsterflikheid.

SPREUKE 12:8-28 AFR83 (Afrikaans 1983)

'n Mens word geprys vir sy insig en uitgelag as hy nie verstandig dink nie. Liewer gering geag word en tog 'n slaaf besit as jou vernaam aanstel en nie kos hê om te eet nie. Die regverdige sorg goed vir sy diere, maar die goddeloses is wreed. Wie sy grond bewerk, het volop om te eet; wie hom besig hou met nuttelose dinge, het nie verstand nie. Die goddelose soek sy veiligheid in verkeerde dade; die regverdiges staan vanself vas. 'n Slegte mens stel vir homself 'n strik met sy opruiende woorde; wie reg doen, ontkom uit die nood. 'n Mens kan voorspoedig word deur altyd die regte woorde te gebruik, of hy kan die vrug geniet van wat hy met sy hande doen. In die dwaas se oë is sy eie pad die regte; wie wysheid het, luister na raad. 'n Dwaas wys dadelik dat hy beledig voel; 'n verstandige mens laat nie blyk dat hy gekrenk is nie. Wie die waarheid aan die lig bring, lewer betroubare getuienis; 'n getuie wat lieg, maak alles vals. Praat sonder om te dink kan soos dolksteke wees; wyse mense bring genesing met wat hulle sê. Die waarheid hou vir altyd, die leuen net 'n oomblik. Dié wat op kwaad uit is, doen dit omdat hulle vals is; dié wat beraadslaag vir vrede en voorspoed, doen dit met vreugde. Geen leed sal die regverdige tref nie; goddeloses beleef ramp op ramp. Die Here het 'n afsku van leuenaars; Hy hou van betroubare mense. 'n Verstandige mens loop nie te koop met sy kennis nie; dwase basuin hulle dwaasheid uit. Hardwerkende mense kom in magsposisies; lui mense word dwangarbeiders. Bekommernis druk 'n mens neer; 'n vriendelike woord vrolik hom op. Die regverdige laat sy pad vir hom wys deur 'n vriend; die goddeloses verdwaal op die pad wat hulle self kies. Die luiaard gaan vang nie eens wild om te braai nie; 'n hardwerkende mens versamel kosbare besittings. Gehoorsaamheid aan God lei tot die lewe, dit is 'n pad wat nie na die dood lei nie.

SPREUKE 12:8-28 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Ooreenkomstig sy skranderheid word 'n man geprys, maar iemand met 'n verwarde hart is uitgelewer aan veragting. Wie gering geag word, maar tog 'n slaaf het, is beter as iemand wat hom belangrik voordoen, maar 'n gebrek aan brood het. 'n Regverdige ken die behoeftes van sy diere, maar die ontferming van goddeloses is wreed. Wie sy grond bewerk, eet hom versadig aan brood, maar wie nietighede najaag, is sonder verstand. 'n Goddelose vind vreugde in 'n vangnet van booshede, maar die wortel van regverdiges is goed gevestig. In 'n oortreding met die lippe lê die valstrik vir 'n bose mens, maar 'n regverdige ontkom aan benoudheid. Uit die vrug van iemand se mond word hy met die goeie versadig, en die werk van 'n mens se hande vergoed hom. Die pad van 'n sot is reg in sy eie oë, maar 'n wyse luister na raad. 'n Sot laat dadelik sy misnoeë blyk, maar 'n slim mens sien belediging oor die hoof. 'n Betroubare getuie bring na vore wat reg is, maar 'n vals getuie net wat bedrieglik is. Daar is skinderpraatjies wat soos dolksteke is, maar die tong van wyses is 'n geneesmiddel. 'n Betroubare lip hou stand vir altyd, maar 'n vals tong net vir 'n oomblik. Bedrog is in die hart van hulle wat kwaad beplan, maar vir hulle wat vrede aanbeveel, is daar vreugde. Geen onreg sal die regverdiges tref nie, maar goddeloses het onheil in oormaat. Afstootlik vir die HERE is vals lippe, maar hulle wat betroubaar optree, geniet sy goedkeuring. 'n Slim mens hou sy kennis verborge, maar die harte van dwase roep uit: “Sotheid!” Die hand van vlytiges sal regeer, maar trae hande is bestem vir dwangarbeid. Kommer in die hart van 'n mens maak die hart neerslagtig, maar 'n vriendelike woord beur dit op. 'n Regverdige soek sy vriende uit, maar die pad van goddeloses lei hulle op 'n dwaalspoor. 'n Trae persoon braai nie sy wild nie, maar vir 'n vlytige mens is besittings kosbaar. Op die weg van geregtigheid is daar lewe, maar die pad van hulle wat 'n wrok koester, lei na die dood.

SPREUKE 12:8-28 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

'n Man sal geprys word volgens sy wysheid, maar hy wat 'n verkeerde hart het, sal verag word. Hy wat verag is en 'n dienskneg het, is beter as hy wat homself eer en brood kortkom. 'n Regverdige man let op die lewe van sy dier, maar die barmhartighede van die goddelose is wreed. Hy wat sy land bewerk, sal versadig word van brood; Die goddelose begeer die net van die bose mense, maar die wortel van die regverdige dra vrugte. Die goddelose word verstrik deur die oortreding van sy lippe, maar die regverdige kom uit benoudheid. 'n Mens sal versadig word van die goeie deur die vrug van sy mond, en die vergelding van 'n mens se hande sal aan hom vergeld word. Die weg van 'n dwaas is reg in sy eie oë, maar hy wat na raad luister, is wys. Die toorn van 'n dwaas is nou bekend, maar 'n verstandige man bedek skande. Hy wat die waarheid spreek, toon geregtigheid, maar 'n valse getuie bedrieg. Daar is wat praat soos die deursteek van 'n swaard, maar die tong van die wyse is gesond. Die lip van die waarheid sal vir ewig vasstaan, maar 'n leuenagtige tong is net vir 'n oomblik. Bedrog is in die hart van die wat kwaad bedink, maar vir die raadgewers van vrede is vreugde. Daar sal geen onheil met die regverdige gebeur nie, maar die goddelose sal met onheil vervul word. Vir die HERE is leuenagtige lippe 'n gruwel, maar die wat waaragtig handel, is sy welbehae. 'n Verstandige mens verberg kennis, maar die hart van die dwase verkondig dwaasheid. Die hand van die vlytiges sal heers, maar die luiaards sal onder belasting wees. Swaarmoedigheid in die hart van die mens maak dit neerbuig, maar 'n goeie woord maak dit bly. Die regverdige is voortrefliker as sy naaste, maar die weg van die goddelose verlei hulle. Die luiaard braai nie wat hy in die jag gevang het nie, maar die goed van 'n vlytige man is kosbaar. Op die weg van geregtigheid is lewe; en in die pad daarvan is daar geen dood nie.

SPREUKE 12:8-28 DB (Die Boodskap)

’n Mens word aan sy manier van lewe gemeet. Slimheid word aan ’n mooi manier van lewe gesien. Domkoppe weet nie hoe om reg te leef nie. Mense verag hulle. Dis beter om eenvoudig te leef as om vrot van die skuld te wees. Dis beter om ’n meer beskeie huis te hê as ’n ryk lewenstyl en heeltyd honger te wees. ’n Gelowige is lief vir sy diere. Hy behandel hulle altyd goed. Ongelowiges is ongenaakbaar. Hulle sny diere sommer maklik keelaf. Hy wat hard werk, sal genoeg kos hê om te eet. Hy wat rondstaan en gesels of met ander dinge besig is, is dom. Hy sal finansieel sukkel. ’n Slegte mens wil graag sy bose planne uitvoer. Hy wil mense op verskillende maniere seermaak. Geen probleme kry ’n gelowige onder nie. ’n Ongelowige praat hom maklik vas. Sy eie woorde is soos ’n net wat hom vasvang. ’n Gelowige se woorde red hom uit moeilike situasies. ’n Gelowige se wyse woorde is soos saad wat gesaai word. Mettertyd dra dit baie vrug in ander se lewens. Dit is net ’n dom mens wat dink dat hy alleen reg is, wat dink dat hy alleen oor die waarheid beskik. ’n Wyse mens luister graag na ander se raad. ’n Dom mens wys dadelik dat hy kwaad is. Hy doen niks om dit weg te steek nie. Almal kan sy woedende gesig sien. ’n Gelowige verontagsaam beledigings. Hy hoor dit sonder om hom te ontstel. ’n Gelowige praat altyd die waarheid. ’n Mens kan op sy woord staatmaak. ’n Vals mens lieg net. Party mense maak ander graag seer. Hulle woorde is soos ’n skerp mes wat alles stukkend sny. ’n Gelowige se woorde bemoedig ander en gee hulle moed vir die lewe. Mooi woorde verloor nooit hulle krag nie. Leuentaal is waardeloos. Woorde wat nie opreg is nie, beteken niks nie. Wie net altyd slegte planne teen ander beraam, is ’n bedrieër. Hy is ’n diep ongelukkige mens. Wie ander liefhet, ervaar groot vreugde. ’n Gelowige sal nie swaarkry nie. ’n Slegte mens se ellendes ken geen einde nie. Die Here haat ’n spul liegstories. Hy is lief vir mense wat die waarheid praat. ’n Slim mens is beskeie oor al sy kennis. Dom mense blaker die min wat hulle weet, vir almal uit. Mense wat hard werk, bereik hulle doel. Hulle kom bo uit. Luies bly lewenslank ander se vloerlappe. Bekommernis versuur jou lewe. ’n Bemoedigende woord van ’n gelowige maak jou gelukkig. Gelowiges laat vriende vir hulle wys wat om te doen. Slegte mense lei ander die afgrond in. ’n Gelowige se lewe is vol opwinding. Wie net die verkeerde dinge doen se lewe is vol ellende. Dit is soos die dood. Slapheid bring jou nêrens nie. Jy word net armer. Harde werk is die moeite werd. Dit kan jou geld in die sak bring. ’n Gelowige geniet die lewe. Ongelowiges is lewendig dood. Hulle ken net angs en vrees.

SPREUKE 12:8-28 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Mense bewonder iemand wat verstandige dinge sê. Hulle verag iemand wat verdraaide idees het. Dit is beter om onbelangrik te wees en ’n slaaf te hê, as om vol van jouself te wees en nie eers kos te hê om te eet nie. Die regverdige gee om vir sy diere, maar ’n goddelose mens is altyd baie wreed met hulle. Wie sy grond bewerk, het volop om te eet. Wie met nuttelose dinge besig is, het nie verstand nie. Die goddelose soek veiligheid in verkeerde dade. Die regverdiges is goed gevestig. ’n Slegte mens se woorde is ’n strik vir homself. Iemand wat reg lewe, ontduik moeilikheid. Met jou woorde kan jy baie goeie dinge kry. Die werk van jou hande gee jou ook baie voorregte. Vir ’n dwaas is net sy eie pad die regte een. Iemand wat wys is, luister na ander se raad. ’n Dwaas is opvlieënd; ’n verstandige persoon bly kalm wanneer hy beledig word. Die regverdige mens getuig die waarheid; ’n getuie wat lieg, pleeg bedrog. Daar is mense wat dinge sal sê wat seermaak. ’n Wyse mens se woorde bring eerder genesing. Die waarheid hou vir altyd; die leuen kom gou aan die lig. Daar is bedrog in die harte van hulle wat kwaad bedink. Daar is vreugde in die harte van hulle wat vrede beplan. Die regverdige spring probleme vry. Die goddeloses se lewe is vol rampe. Die HERE verafsku mense wat hulle woord breek. Hy hou van mense wat by hulle woord staan. ’n Verstandige mens bly stil oor sy kennis. Dwase basuin hulle onkunde uit. Dié wat pligsgetrou werk, word leiers; lui mense word slawe. Bekommernis rem ’n mens af; bemoedigende woorde maak hom bly. Die regverdige kyk mooi waar hy loop; maar die pad van goddeloses is ’n dwaalweg. Die luiaard verroer nie ’n vinger om self kos te maak nie. ’n Hardwerkende mens gaan uit sy pad om kosbare besittings te versamel. Die pad van die regverdige loop na die lewe; dit is nie ’n pad wat na die dood toe lei nie.