Spreuke 12:8-28

Spreuke 12:8-28 AFR20

Ooreenkomstig sy skranderheid word 'n man geprys, maar iemand met 'n verwarde hart is uitgelewer aan veragting. Wie gering geag word, maar tog 'n slaaf het, is beter as iemand wat hom belangrik voordoen, maar 'n gebrek aan brood het. 'n Regverdige ken die behoeftes van sy diere, maar die ontferming van goddeloses is wreed. Wie sy grond bewerk, eet hom versadig aan brood, maar wie nietighede najaag, is sonder verstand. 'n Goddelose vind vreugde in 'n vangnet van booshede, maar die wortel van regverdiges is goed gevestig. In 'n oortreding met die lippe lê die valstrik vir 'n bose mens, maar 'n regverdige ontkom aan benoudheid. Uit die vrug van iemand se mond word hy met die goeie versadig, en die werk van 'n mens se hande vergoed hom. Die pad van 'n sot is reg in sy eie oë, maar 'n wyse luister na raad. 'n Sot laat dadelik sy misnoeë blyk, maar 'n slim mens sien belediging oor die hoof. 'n Betroubare getuie bring na vore wat reg is, maar 'n vals getuie net wat bedrieglik is. Daar is skinderpraatjies wat soos dolksteke is, maar die tong van wyses is 'n geneesmiddel. 'n Betroubare lip hou stand vir altyd, maar 'n vals tong net vir 'n oomblik. Bedrog is in die hart van hulle wat kwaad beplan, maar vir hulle wat vrede aanbeveel, is daar vreugde. Geen onreg sal die regverdiges tref nie, maar goddeloses het onheil in oormaat. Afstootlik vir die HERE is vals lippe, maar hulle wat betroubaar optree, geniet sy goedkeuring. 'n Slim mens hou sy kennis verborge, maar die harte van dwase roep uit: “Sotheid!” Die hand van vlytiges sal regeer, maar trae hande is bestem vir dwangarbeid. Kommer in die hart van 'n mens maak die hart neerslagtig, maar 'n vriendelike woord beur dit op. 'n Regverdige soek sy vriende uit, maar die pad van goddeloses lei hulle op 'n dwaalspoor. 'n Trae persoon braai nie sy wild nie, maar vir 'n vlytige mens is besittings kosbaar. Op die weg van geregtigheid is daar lewe, maar die pad van hulle wat 'n wrok koester, lei na die dood.