Spreuke 12

12
1 Wie vermaning liefhet,
het kennis lief,
maar wie teregwysing haat, is dom.
2 'n Goeie mens geniet die Here
se goedkeuring,
maar iemand met slinkse planne
veroordeel Hy.
3 'n Mens kan nie bestendig wees
deur goddeloosheid nie,
en die wortel van regverdiges
kan nie losgeskud word nie.
4 'n Knap vrou is 'n kroon
vir haar man,
maar soos verrotting in sy gebeente
is 'n vrou wat skande maak.
5 Die planne van regverdiges
is reg,
maar die leiding van goddeloses
is bedrieglik.
6 Die woorde van goddeloses
is 'n hinderlaag
tot bloedvergieting,
maar die monde van opregtes
red hulle.
7 Goddeloses word omvergewerp
en is nie meer daar nie,
maar die huis van regverdiges
bly staan.
8 Ooreenkomstig sy skranderheid
word 'n man geprys,
maar iemand met 'n verwarde hart
is uitgelewer aan veragting.
9 Wie gering geag word,
maar tog 'n slaaf het,
is beter as iemand wat hom
belangrik voordoen,
maar 'n gebrek aan brood het.
10 'n Regverdige ken die behoeftes
van sy diere,
maar die ontferming van goddeloses
is wreed.
11 Wie sy grond bewerk,
eet hom versadig aan brood,
maar wie nietighede najaag,
is sonder verstand.
12 'n Goddelose vind vreugde
in 'n vangnet van booshede,
maar die wortel van regverdiges
is goed gevestig.
13 In 'n oortreding met die lippe
lê die valstrik vir 'n bose mens,
maar 'n regverdige ontkom
aan benoudheid.
14 Uit die vrug van iemand se mond
word hy met die goeie versadig,
en die werk van 'n mens se hande
vergoed hom.
15 Die pad van 'n sot
is reg in sy eie oë,
maar 'n wyse luister na raad.
16 'n Sot laat dadelik
sy misnoeë blyk,
maar 'n slim mens
sien belediging oor die hoof.
17 'n Betroubare getuie
bring na vore wat reg is,
maar 'n vals getuie
net wat bedrieglik is.
18 Daar is skinderpraatjies
wat soos dolksteke is,
maar die tong van wyses
is 'n geneesmiddel.
19 'n Betroubare lip hou stand
vir altyd,
maar 'n vals tong net vir 'n oomblik.
20 Bedrog is in die hart van hulle
wat kwaad beplan,
maar vir hulle wat vrede aanbeveel,
is daar vreugde.
21 Geen onreg sal die regverdiges
tref nie,
maar goddeloses het onheil
in oormaat.
22 Afstootlik vir die Here
is vals lippe,
maar hulle wat betroubaar optree,
geniet sy goedkeuring.
23 'n Slim mens hou sy kennis
verborge,
maar die harte van dwase roep uit:
“Sotheid!”
24 Die hand van vlytiges sal regeer,
maar trae hande is bestem
vir dwangarbeid.
25 Kommer in die hart van 'n mens
maak die hart neerslagtig,
maar 'n vriendelike woord
beur dit op.
26'n Regverdige soek sy vriende uit,
maar die pad van goddeloses
lei hulle op 'n dwaalspoor.
27'n Trae persoon
braai nie sy wild nie,
maar vir 'n vlytige mens
is besittings kosbaar.
28 Op die weg van geregtigheid
is daar lewe,
maar die pad van hulle
wat 'n wrok koester,
lei na die dood.

Tans Gekies:

Spreuke 12: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid