NUMERI 13:30-33 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion
NUMERI 13:30-33 AFR83 (Afrikaans 1983)
Kaleb het egter die manne wat met Moses praat, stilgemaak en gesê: “Ons moet beslis optrek en die land in besit neem, want ons kán dit doen.” Maar die manne wat saam met hom gegaan het, het gesê: “Nee, ons kan nie teen daardie mense optrek nie, want hulle is sterker as ons.” Die manne het toe 'n slegte gerug onder die Israeliete versprei oor die land wat hulle verken het. Hulle het gesê: “Die land wat ons gaan verken het, is 'n land wat die lewe vir sy inwoners onmoontlik maak, en die mense wat ons daarin gesien het, is almal baie groot. Ons het daar ook die reuse gesien. Die Enakiete stam van hulle af. Ons was soos sprinkane in ons eie oë, en so was ons ook in hulle oë.”
NUMERI 13:30-33 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
Toe het Kaleb die volk stil gemaak teenoor Moses en gesê: Laat ons gerus optrek en dit in besit neem; want ons kan dit sekerlik oorweldig. Maar die manne wat saam met hom opgetrek het, het gesê: Ons kan nie teen die volk optrek nie, want hulle is sterker as ons. So het hulle dan slegte gerugte onder die kinders van Israel versprei oor die land wat hulle verken het, deur te sê: Die land wat ons deurgetrek het om dit te verken, is 'n land wat sy inwoners verteer; en al die mense wat ons daarin gesien het, is groot manne. Ons het daar ook die reuse gesien, die kinders van Enak, van die reuse afkomstig; en ons was soos sprinkane in ons oë; so was ons ook in hulle oë.
NUMERI 13:30-33 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Kaleb het egter die volk probeer gerusstel. Hy het gesê: “Laat ons optrek en die land gaan oorneem. Ons is daartoe in staat.” Die ander mans wat saam met hom gegaan het, het egter gesê: “Ons durf nie teen hulle optrek nie. Hulle is sterker as ons.” Hulle het toe ’n gerug begin versprei oor die land wat hulle gaan verken het: “Die land waarna ons gaan kyk het, is ’n land wat sy inwoners opeis. Al die volke wat ons daarin gesien het, is besonder groot mense. Ons het Enak se nageslag daar gesien. Hulle is reuse. Ons het voor hulle soos sprinkane gelyk.”
NUMERI 13:30-33 DB (Die Boodskap)
Kaleb het toe die mense wat hieroor begin kla het, stilgemaak en hulle probeer motiveer en gesê: “Kom ons val hulle dadelik aan, want ons kan hulle beslis oorrompel.” Maar die ander leiers wat saam met hom gegaan het, het gesê: “Ons kan nie teen hulle gaan oorlog maak nie, hulle is baie sterker as ons!” Hulle het ook allerhande bangmaakstories oor die land en sy mense onder die volk begin versprei. “Die land wat ons verken het, sluk sy inwoners in,” het hulle gesê, “om nie eers te praat van die mense wat daarin bly nie: hulle is almal reusagtig groot. Om die waarheid te sê, ons het ’n paar reuse daar gesien, almal afstammelinge van Enak. Ons het so klein soos sprinkane teen hulle gevoel en ons dink hulle het ons seker vir sprinkane aangesien.”
NUMERI 13:30-33 ABA (Bybel vir almal)
Kaleb het vir die volk gesê hulle moenie kla en teen Moses praat nie. Kaleb het gesê: “Ons moet gaan, ons moet die land gaan vat, ons kan dit doen, dit is seker.” Maar die manne wat saam met Kaleb gegaan het, het gesê: “Nee, ons kan nie teen daardie mense oorlog maak nie, hulle is te sterk vir ons.” Die manne het toe vir die Israeliete verkeerde stories begin vertel oor die land waarna hulle gaan kyk het. Hulle het gesê: “Ons het deur die land gegaan om na alles te kyk. Dit is 'n land wat die mense sal laat sterf wat in hom woon. En al die mense wat ons daar gesien het, is baie groot. Ons het ook reuse daar gesien. Ons het soos sprinkane gevoel voor hulle, hulle het miskien gedink ons lyk so klein soos sprinkane.” Die reuse is die voorvaders van die Enak-mense.
NUMERI 13:30-33 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Maar Kaleb het die mense by Moses stilgemaak. Hy het gesê: “Ons moet beslis optrek en die land in besit neem, want ons kan sonder twyfel die oorhand daaroor kry.” Maar die manne wat saam met hom opgetrek het, het gesê: “Ons kan nie teen daardie volk uittrek nie, want hulle is sterker as ons.” Hulle het toe onder die Israeliete 'n gerug versprei oor die land wat hulle verken het: “Die land waardeur ons getrek het om te verken, is 'n land wat sy inwoners vernietig. Al die mense wat ons daar gesien het, is groot manne. Daar het ons reuse gesien.” Die Enakiete stam uit die reuse. “Ons was in ons eie oë soos koringkrieke; ons was soos muggies in hulle oë.”
NUMERI 13:30-33 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
En Kaleb het die volk voor Moses stilgemaak en gesê: Laat ons dadelik optrek en dit in besit neem; want ons is goed in staat om dit te oorwin. Maar die manne wat saam met hom opgetrek het, sê: Ons kan nie teen die volk optrek nie; want hulle is sterker as ons. En hulle het 'n slegte gerug oor die land wat hulle verken het aan die kinders van Israel gebring en gesê: Die land waardeur ons getrek het om dit te verken, is 'n land wat sy inwoners verteer; en al die mense wat ons daarin gesien het, is manne van groot gestalte. En daar het ons die reuse gesien, die seuns van Enak, wat uit die reuse kom; en ons was in ons eie oë soos sprinkane, en so was ons ook in hulle oë.