MARKUS 15:1-5
MARKUS 15:1-5 Bybel vir almal (ABA)
Vroeg die volgende oggend het die priesterleiers 'n vergadering van die hele Joodse Raad gehou. Die familieleiers en die skrifgeleerdes was ook daar. Hulle het Jesus met boeie vasgemaak en hulle het Hom weggevat en vir Pilatus gegee sodat hy vir Jesus kon straf. Pilatus het vir Jesus gevra: “Is jy die koning van die Jode?” Jesus antwoord hom toe: “Jy sê self Ek is.” Die priesterleiers het Jesus oor baie dinge beskuldig. Pilatus vra toe weer vir Jesus: “Hoekom sê jy niks? Hulle beskuldig jou oor so baie dinge!” Pilatus was verbaas, want Jesus het niks meer gesê nie.
MARKUS 15:1-5 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN dadelik, vroeg in die môre, het die owerpriesters saam met die ouderlinge en skrifgeleerdes en die hele Raad 'n besluit geneem; en nadat hulle Jesus geboei het, het hulle Hom weggelei en aan Pilatus oorgelewer. En Pilatus het Hom gevra: Is U die Koning van die Jode? En Hy het geantwoord en vir hom gesê: U sê dit. En die owerpriesters het baie beskuldiginge teen Hom ingebring. En Pilatus het Hom weer gevra en gesê: Antwoord U niks nie? Kyk hoe baie getuienisse hulle teen U inbring. Maar Jesus het niks meer geantwoord nie, sodat Pilatus hom verwonder het.
MARKUS 15:1-5 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die môre vroeg het die priesterhoofde saam met die familiehoofde en die skrifgeleerdes dadelik as volle Joodse Raad 'n vergadering gehou. Hulle het Jesus geboei en Hom toe weggebring en aan Pilatus uitgelewer. Pilatus het vir Hom gevra: “Is jy die koning van die Jode?” Jesus antwoord hom: “Dit is soos u sê.” Die priesterhoofde het Hom van baie dinge beskuldig. Pilatus het Hom toe verder ondervra. “Verweer jy jou glad nie?” het hy gevra. “Kyk waarvan beskuldig hulle jou alles.” Jesus het egter niks meer gesê nie, sodat Pilatus verbaas was.
MARKUS 15:1-5 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
En dadelik, die oggend vroeg, het die leierpriesters met die familiehoofde, skrifkenners en die hele Sanhedrin beraadslaag. Hulle het Jesus toe geboei, weggeneem en aan •Pilatus uitgelewer. Pilatus vra Hom toe: “Is u die koning van die Jode?” Hy antwoord hom: “U sê dit.” Die leierpriesters het Hom van baie dinge beskuldig. Pilatus vra Hom toe weer: “Antwoord u niks nie? Kyk hoeveel beskuldigings bring hulle teen u in!” Maar Jesus het steeds niks geantwoord nie, sodat Pilatus verwonderd was.
MARKUS 15:1-5 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En dadelik in die môre het die owerpriesters raad gehou met die ouderlinge en skrifgeleerdes en die hele raad, en Jesus was geboei en weggevoer en aan Pilatus oorgegee. En Pilatus vra Hom: Is U die Koning van die Jode? En hy antwoord en sê vir hom: U sê dit. En die owerpriesters het Hom van baie beskuldig, maar Hy het niks geantwoord nie. En Pilatus het Hom weer gevra en gesê: Antwoord U niks nie? kyk hoeveel dinge hulle teen jou getuig. Maar Jesus het nog niks geantwoord nie; sodat Pilatus hom verwonder het.
MARKUS 15:1-5 Die Boodskap (DB)
Sommer vroeg die volgende môre het die Joodse godsdienstige leiers en die Joodse Raad besluit wat hulle gaan doen. Hulle het Jesus in boeie na die Romeinse goewerneur, Pilatus, toe gestuur om die saak verder te hanteer. “Is jy die koning van die Jode?” was Pilatus se eerste vraag. “Ja, wat jy sê, is waar,” kom dit van Jesus. Die leiers onder die priesters kom toe met ’n klomp stories waarmee hulle Jesus beskuldig. Pilatus vra Jesus toe weer: “Luister net wat sê hierdie mense alles van jou. Wil jy nie jouself verdedig nie?” Steeds het Jesus nie ’n woord gesê nie. Pilatus kon dit nie mooi verstaan nie.
MARKUS 15:1-5 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Vroegoggend het die priesterhoofde saam met die familiehoofde en die skrifkenners – trouens, die volle Sanhedrin – tot ’n besluit gekom. Hulle het Jesus geboei en toe aan Pilatus, die Romeinse goewerneur, oorhandig. Pilatus het Jesus begin ondervra: “Is jy die Koning van die Jode?” Jesus het hom geantwoord: “Ja, dit is soos u sê.” Die priesterhoofde het baie beskuldigings teen Jesus ingebring. Pilatus het weer ’n vraag aan Hom gestel: “Antwoord jy dan niks nie? Wat van al hierdie beskuldigings teen jou?” Maar tot Pilatus se verbasing het Jesus op geen enkele beskuldiging gereageer nie.