Markus 15

15
’n Aardse regter veroordeel die groot Koning
1Sommer vroeg die volgende môre het die Joodse godsdienstige leiers en die Joodse Raad besluit wat hulle gaan doen. Hulle het Jesus in boeie na die Romeinse goewerneur, Pilatus, toe gestuur om die saak verder te hanteer.
2“Is jy die koning van die Jode?” was Pilatus se eerste vraag.
“Ja, wat jy sê, is waar,” kom dit van Jesus.
3Die leiers onder die priesters kom toe met ’n klomp stories waarmee hulle Jesus beskuldig. 4Pilatus vra Jesus toe weer: “Luister net wat sê hierdie mense alles van jou. Wil jy nie jouself verdedig nie?” 5Steeds het Jesus nie ’n woord gesê nie. Pilatus kon dit nie mooi verstaan nie.
6Gedurende die paasfees het die Romeine gewoonlik een persoon vrygelaat wat in die tronk was. Die mense kon kies wie. Juis toe was daar ’n bende rebelle in die tronk. 7Een van hulle was ’n man met die naam Barabbas. 8Die bende het amok gemaak, die mense opgestook en selfs moord gepleeg. Die mense kom vra toe vir Pilatus wanneer hy dan soos gewoonlik ’n gevangene gaan vrylaat.
9“Hoe lyk dit, kan ek maar die koning van die Jode loslaat?” vra Pilatus toe. 10Hy was nie dom nie - hy het geweet dat die leiers van die priesters net jaloers was op Jesus en net daarom het hulle Hom kom aankla.
11Die priesters het niks gehou van Pilatus se voorstel nie en het die klomp mense buitekant opgesweep om te vra dat Barabbas eerder losgelaat moet word.
12Weer vra Pilatus hulle: “Wat moet ek dan doen met die een wat julle die koning van die Jode noem?”
13“Kruisig hom!” gil hulle.
14“Maar hoekom? Wat het hy dan verkeerd gedoen?” vra Pilatus.
Die klomp mense het net harder geskree: “Kruisig hom!”
15Pilatus wou die skare tevrede hou. Daarom het hy maar vir Barabbas laat gaan. Vir Jesus het hy laat martel deur Hom met ’n sweep te laat slaan en toe gesê dat hulle Hom moet kruisig.
16Die Romeinse soldate vat Jesus toe weg na ’n soort binneplein in Pilatus se paleis. Hulle roep al die ander soldate van hulle afdeling ook. 17Daar het hulle vir Jesus pers klere aangetrek en ’n kroon wat hulle van dorings gevleg het, op sy kop gedruk sodat Hy kamma soos ’n koning lyk. 18Toe begin hulle maak asof hulle Hom soos ’n belangrike koning groet: “Bly om u te ontmoet, o koning van die Jode!” skree hulle. 19Weer en weer het hulle Hom met ’n stok oor die kop geslaan en op Hom gespoeg. Dan val hulle weer kamma op hulle knieë en maak asof hulle Jesus as ’n vreeslik belangrike persoon eer. 20Toe hulle uiteindelik moeg was om Jesus so te spot, trek hulle die pers klere uit en trek Jesus se eie klere weer vir Hom aan. Toe vat hulle Jesus na die plek toe waar Hy gekruisig moes word.
Jesus op pad na die kruis
21’n Sekere man wat oorspronklik van Sirene in Afrika af gekom het, het juis toe daar verbygestap. Hy was op pad van die platteland af dorp toe. Sy naam was Simon en sy kinders was Aleksander en Rufus. 22Die soldate gee hom toe sommer die kruis en sê hy moet dit na Golgota, oftewel die “Plek van die Kopbeen”, toe dra.
23Daar wou hulle Hom wyn wat met galbitter kruie gemeng is, gee om sy pyn so ’n bietjie te stil. Jesus wou dit nie vat nie. 24Toe kruisig hulle Hom. Sy klere het hulle gevat en lootjies getrek om te sien wie wat moet kry.
25Dit was so nege-uur in die môre toe hulle Jesus gekruisig het. 26Op die kennisgewing wat verduidelik het hoekom Hy gekruisig is, het gestaan: “Die koning van die Jode.”27Saam met Jesus het die soldate ook twee ander mans aan kruise weerskante van Jesus opgehang. Hulle was diewe. 29Die mense wat daar verbygestap het, het hulle kop geskud. Hulle het allerhande lelike dinge vir Hom geskree en Hom gespot. “Komaan, jy het so gespog dat jy die tempel sal afbreek en weer in drie dae sal opbou. Toe, wys nou wat in jou steek. 30Klim van die kruis af. Red jou eie lewe!”
31Die godsdienstige leiers van die Jode het net so te kere gegaan. Hulle het Jesus onder mekaar gespot: “Dit help nou veel. Ander kon hy help,” het hulle gesê, “maar nou kan hy homself nie eens uit die moeilikheid help nie. 32Laat ons nou ’n bietjie sien hoe die redder wat kamma die koning van Israel wil wees van die kruis afklim. Dan kan ons ook darem sien en glo.” Die twee diewe wat langs Hom gehang het, het Hom ook gespot en beledig.
Jesus sterf aan die kruis
33Teen twaalfuur die middag het dit donker geword in daardie gebied. Dit het donker gebly tot so drie-uur die middag. 34Toe skree Jesus hard: “Eloï, Eloï, lemá sabagtani?” oftewel: “My God, my God, waarom het U My alleen gelaat?”
35Van die omstanders het Jesus gehoor en gesê: “Luister, hy roep Elia.” 36Een van hulle bring toe vinnig ’n spons wat in wyn gedruk is. Hy sit die spons op ’n stok sodat Jesus kon drink en sê: “Los hom nou uit sodat ons kan sien wat gaan gebeur. Miskien kom haal Elia hom van die kruis af.” 37Al wat gebeur het, was dat Jesus hard geskree het en dood is.
38Net toe het die groot gordyn wat in die tempel gehang het van bo na onder in twee geskeur. 39’n Bevelvoerder van die Romeinse soldate het reg voor die kruis gestaan. Hy het gehoor hoe Jesus skree en het gesien hoe Hy dood is. “Hierdie man was sowaar die Seun van God,” was al wat hy gesê het.
40’n Entjie van die kruis af het ’n groepie vroue gestaan en kyk. Onder hulle was Maria Magdalena en Maria (sy was Joses en Klein-Jakobus se ma) asook Salome. 41Dit was die vroue wat in Galilea saam met Hom gegaan en vir Hom gesorg het. By hulle was daar ook heelwat ander vroue wat saam met Hom na Jerusalem toe gekom het.
42Dit het begin laat word en omdat dit Vrydag was, was die Jode besig om reg te maak vir die sabbat wat met sononder sou begin. 43Josef van Arimatea was ’n lid van die Joodse Raad en het baie uitgesien na die tyd wanneer God kragtig as Koning in sy nuwe wêreld sou heers. Hy het die moed bymekaargeskraap en is na Pilatus toe om te vra of hy maar Jesus se liggaam kon gaan begrawe. 44Pilatus was verbaas om te hoor dat Jesus al dood was. 45Hy vra toe vir die bevelvoerder van die soldate of Jesus regtig al dood is. Dié sê toe ja. Pilatus sê toe vir Josef dat hy maar vir Jesus kon gaan begrawe. 46Josef het ’n groot stuk linne gekoop en nadat hy Jesus se liggaam van die kruis afgehaal het, het hy die liggaam in die linnedoek toegedraai. Hy het Jesus gaan begrawe in ’n graf wat uit rots gekap was en soos ’n kamertjie gelyk het. En hy het ’n groot ronde klip voor die ingang van die graf gerol. 47Maria Magdalena en Maria, Jesus se ma, het gesien waar hy Jesus begrawe het.

Tans Gekies:

Markus 15: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid