Markus 15

15
Jesus voor Pilatus
(Matt 27:1-2,11-14; Luk 23:1-5; Joh 18:28-38)
1En dadelik, die oggend vroeg, het die leierpriesters met die familiehoofde, skrifkenners en die hele Sanhedrin beraadslaag. Hulle het Jesus toe geboei, weggeneem en aan •Pilatus uitgelewer. 2Pilatus vra Hom toe: “Is u die koning van die Jode?” Hy antwoord hom: “U sê dit.” 3Die leierpriesters het Hom van baie dinge beskuldig. 4Pilatus vra Hom toe weer: “Antwoord u niks nie? Kyk hoeveel beskuldigings bring hulle teen u in!” 5Maar Jesus het steeds niks geantwoord nie, sodat Pilatus verwonderd was.
Jesus ter dood veroordeel
(Matt 27:15-26; Luk 23:13-15; Joh 18:39 – 19:16)
6Tydens elke fees het hy vir hulle, op hulle versoek, een gevangene vrygelaat. 7Daar was 'n man met die naam Barabbas, wat gevange geneem is saam met die rebelle wat moord gepleeg het tydens 'n opstand. 8Die skare het na •Pilatus gegaan en gereedgemaak om te vra dat hy soos gewoonlik sal optree. 9Pilatus vra hulle toe: “Wil julle hê dat ek vir julle die koning van die Jode vrylaat?” 10Hy het immers geweet dat die leierpriesters Hom uit afguns oorgelewer het. 11 Die leierpriesters het die skare egter opgestook dat hy eerder Barabbas vir hulle moet vrylaat. 12 Pilatus het hierop gereageer en weer vir hulle gevra: “Wat wil julle dan hê moet ek doen met hom wat julle die koning van die Jode noem?” 13Hulle het opnuut geskreeu: “Kruisig hom!” 14Pilatus vra toe vir hulle: “Watter kwaad het hy dan gedoen?” Maar hulle het nog harder geskreeu: “Kruisig hom!” 15Pilatus wou die skare tevrede stel, en het Barabbas vir hulle vrygelaat. Maar Jesus het hy laat gesel en oorgelewer om gekruisig te word.
Bespotting van Jesus
(Matt 27:27-31; Joh 19:2-3)
16Die soldate het Hom weggelei, die paleis, naamlik die pretorium, binne, en die hele kohort soldate byeengeroep. 17 Toe trek hulle vir Hom 'n purperrooi mantel aan, en sit vir Hom 'n doringkroon op wat hulle gevleg het, 18en begin Hom spottend groet: “Gegroet, koning van die Jode!” 19Hulle het Hom herhaaldelik met 'n riet oor die kop geslaan, op Hom gespoeg, en knielend aan Hom eer bewys. 20En nadat hulle Hom bespot het, het hulle die purperrooi mantel afgehaal en sy boklere vir Hom aangetrek. Hulle lei Hom toe weg om Hom te kruisig.
Kruisiging van Jesus
(Matt 27:32-44; Luk 23:26-43; Joh 19:17-27)
21Hulle het 'n verbyganger, 'n sekere Simon van Sirene, wat van die platteland gekom het, die vader van Aleksander en Rufus, gedwing om sy kruis te dra. 22Hulle bring Jesus toe na die plek Golgota, wat, as dit vertaal word, ‘Kopbeenplek’ beteken. 23Hulle wou Hom wyn, gemeng met mirre, gee, maar Hy het dit nie geneem nie. 24Toe kruisig hulle Hom
en verdeel sy boklere
deur daaroor te loot
oor wie wat sou neem.
25Dit was die derde uur toe hulle Hom gekruisig het. 26Die inskripsie van die aanklag teen Hom is bo Hom aangebring:
“Die koning van die Jode.”
27 Saam met Hom het hulle ook twee rowers gekruisig, een aan sy regterhand en een aan sy linkerhand. 29Die verbygangers het Hom gelaster terwyl hulle hulle koppe skud en sê: “Ha! Jy wat die •tempel afbreek en in drie dae opbou, 30red jouself! Kom af van die kruis!” 31Op dieselfde manier het ook die leierpriesters saam met die skrifkenners spottend vir mekaar gesê: “Ander het hy gered, homself kan hy nie red nie! 32Laat die Christus, die Koning van Israel, nou van die kruis afkom, sodat ons kan sien en glo!” Ook hulle wat saam met Hom gekruisig is, het Hom beledig.
Jesus sterf
(Matt 27:45-56; Luk 23:44-49; Joh 19:28-30)
33Toe die sesde uur aanbreek, het dit oor die hele aarde donker geword tot die negende uur toe. 34Op die negende uur het Jesus met 'n harde stem uitgeroep: “Eloï, Eloï, lemá sabagtáni?” wat, as dit vertaal word, beteken, ‘My God, my God, waarom het U My verlaat?’ 35Toe sommige van die omstanders dit hoor, sê hulle: “Kyk, hy roep Elia.” 36Iemand het gehardloop, 'n spons met suur wyn deurweek, dit op 'n riet gesit en vir Hom gehou om te drink, met die woorde: “Wag, laat ons sien of Elia kom om hom af te haal.” 37Jesus het met 'n harde stem uitgeroep en sy asem uitgeblaas. 38Die voorhangsel in die heiligdom is in twee geskeur, van bo tot onder. 39Toe die centurio, wat reg oorkant Hom gestaan het, Hom sy asem so sien uitblaas, sê hy: “Hierdie man was werklik •Seun van God!” 40Daar was ook vroue wat op 'n afstand gekyk het, onder wie Maria Magdalena, Maria, die moeder van die jong Jakobus en Joses, en Salome. 41Dit is die vroue wat Hom, toe Hy in Galilea was, gevolg en bedien het. Baie ander vroue wat saam met Hom na Jerusalem gegaan het, was ook daar.
Jesus in die graf
(Matt 27:57-61; Luk 23:50-56; Joh 19:38-42)
42Toe dit reeds laat geword het, en aangesien dit die Voorbereidingsdag was, die dag voor die Sabbat, 43het Josef van Arimatea, 'n vooraanstaande lid van die Raad, wat ook uitgesien het na die •koninkryk van God, na •Pilatus gegaan. Hy het moed bymekaargeskraap en die liggaam van Jesus gevra. 44Pilatus was verbaas dat Hy al dood was, en het die centurio laat roep en hom gevra of Hy reeds 'n geruime tyd dood was. 45Toe hy dit by die centurio verneem het, het hy die lyk vir Josef gegee. 46Josef het toe 'n linnedoek gekoop, en Hom, nadat hy Hom van die kruis afgehaal het, in die linnedoek toegedraai en neergelê in 'n graf wat in 'n rots uitgekap was, en 'n klip teen die ingang van die graf gerol. 47Maria Magdalena en Maria, die moeder van Joses, het gesien waar Hy neergelê is.

Tans Gekies:

Markus 15: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid