MARKUS 10:46-52
MARKUS 10:46-52 Bybel vir almal (ABA)
Jesus en sy dissipels het in die stad Jerigo gekom. Toe hulle en baie ander mense weer uit Jerigo uitgaan, het Bartimeus, die seun van Timeus, langs die pad gesit. Bartimeus was blind en hy het gebedel. Toe hy hoor Jesus van Nasaret is daar, het hy hard begin roep: “Jesus, Seun van Dawid, U moet asseblief jammer wees vir my en my help!” Baie mense het met hom geraas en vir hom gesê hy moet stilbly, maar hy het aangehou en nog harder geskree: “Seun van Dawid, U moet asseblief jammer wees vir my en my help!” Jesus het gaan staan en gesê: “Roep hom!” Hulle roep toe die blinde man en sê vir hom: “Moenie bekommerd wees nie. Staan op, Jesus roep jou!” Die blinde man het sy bo-kleed op die grond gegooi en hy het opgespring en na Jesus toe gegaan. Jesus het vir hom gevra: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?” Die blinde man sê toe: “Meneer, ek wil weer sien!” Jesus het vir hom gesê: “Jy mag gaan. Jy kan nou sien, want jy het geglo.” Die man kon dadelik sien. Maar hy het Jesus gevolg en saamgegaan met Hom op die pad.
MARKUS 10:46-52 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN hulle het in Jérigo gekom. En toe Hy en sy dissipels en 'n aansienlike skare uit Jérigo uitgaan, sit die blinde man, Bartiméüs, die seun van Timéüs, langs die pad en bedel. En toe hy hoor dat dit Jesus die Nasaréner was, begin hy om uit te roep en te sê: Seun van Dawid, Jesus, wees my barmhartig! En baie het hom bestraf, dat hy moet stilbly; maar hy het al harder uitgeroep: Seun van Dawid, wees my barmhartig! Toe gaan Jesus staan en sê dat hy geroep moes word; en hulle roep die blinde man en sê vir hom: Hou goeie moed, staan op! Hy roep jou. En hy gooi sy oorkleed af, staan op en kom na Jesus toe. En Jesus antwoord en sê vir hom: Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen? En die blinde man sê vir Hom: Rabboeni, dat ek mag sien. En Jesus sê vir hom: Gaan, jou geloof het jou gered. En dadelik het hy gesien en Jesus op die pad gevolg.
MARKUS 10:46-52 Afrikaans 1983 (AFR83)
Daarna kom hulle in Jerigo aan. Toe Jesus en sy dissipels en 'n aansienlike menigte weer daarvandaan verder gaan, sit daar 'n blinde bedelaar, Bartimeus, seun van Timeus, langs die pad. Toe hy hoor dat dit Jesus van Nasaret is, het hy begin uitroep: “Jesus, Seun van Dawid, ontferm U tog oor my!” Baie mense het met hom geraas en gesê hy moet stilbly. Maar hy het al hoe harder uitgeroep: “Seun van Dawid, ontferm U tog oor my!” Jesus het gaan staan en gesê: “Roep hom nader.” Hulle roep toe die blinde man en sê vir hom: “Hou moed! Staan op! Hy roep jou.” Hy het sy bokleed net daar gelos en opgespring en na Jesus toe gegaan. Jesus vra vir hom: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?” “Rabboeni,” sê die blinde man vir Hom, “dat ek kan sien.” Jesus sê daarop vir hom: “Jy kan maar gaan. Jou geloof het jou gered.” Dadelik kon hy sien en het hy op die pad agter Jesus aan gegaan.
MARKUS 10:46-52 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Hulle het in Jerigo aangekom. En toe Hy met sy dissipels en 'n groot skare uit Jerigo vertrek, het 'n blinde bedelaar, Bartimeus, die seun van Timeus, langs die pad gesit. Toe hy hoor dat dit Jesus van Nasaret is, begin hy uitroep: “•Seun van Dawid, Jesus, ontferm U oor my!” Baie mense het hom berispend aangesê om stil te bly, maar hy het net al hoe harder uitgeroep: “Seun van Dawid, ontferm U oor my!” Jesus het gaan staan en gesê: “Roep hom!” Hulle roep toe die blinde man en sê vir hom: “Hou moed! Staan op! Hy roep jou.” Hy gooi toe sy bokleed af, spring op en kom na Jesus toe. Jesus vra hom: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?” Die blinde man antwoord Hom: “Rabboeni, dat ek kan sien. ” Jesus sê toe vir hom: “Gaan! Jou geloof het jou gered. ” En dadelik kon hy sien, en hy het Hom op sy pad gevolg.
MARKUS 10:46-52 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En hulle het in Jérigo aangekom, en terwyl Hy met sy dissipels en 'n groot aantal mense uit Jérigo uittrek, het die blinde Bartimeus, die seun van Timaeus, langs die grootpad gesit en bedel. En toe hy hoor dat dit Jesus van Nasaret was, het hy begin uitroep en sê: Jesus, Seun van Dawid, wees my genadig. En baie het hom bevel gegee om te swyg, maar hy het des te meer uitgeroep: Seun van Dawid, wees my genadig! En Jesus het stilgestaan en beveel dat hy geroep moes word. En hulle roep die blinde man en sê vir hom: Wees gerus, staan op; hy roep jou. En hy het sy kleed weggegooi, opgestaan en na Jesus toe gekom. En Jesus antwoord en sê vir hom: Wat wil jy hê moet Ek aan jou doen? Die blinde man sê vir Hom: Here, dat ek kan sien. En Jesus sê vir hom: Gaan heen; jou geloof het jou gesond gemaak. En dadelik het hy gesien en Jesus op die pad gevolg.
MARKUS 10:46-52 Die Boodskap (DB)
Hulle kom toe by Jerigo aan. Jesus, sy getrouste volgelinge en ’n groot klomp ander mense was net op pad uit die dorp uit toe hulle by ’n blinde man verbyloop wat daar langs die pad gesit en bedel het. Dit was Bartimeus, die seun van Timeus. Toe hy hoor dat dit Jesus van Nasaret is wat daar verbyloop, begin hy hard skree: “Jesus, Seun van Dawid, het U nie asseblief ’n bietjie jammerte vir my oor nie?” Baie mense het kwaai vir hom gesê om stil te bly. Maar hy het hom nie laat afsit nie en het harder geskree: “Seun van Dawid, sien my asseblief tog raak en kry my ook jammer.” Jesus gaan staan toe stil en vra: “Gaan roep daardie man, asseblief.” Hulle roep toe die blinde man en sê: “Dit is jou gelukkige dag. Kom, Jesus roep jou.” Die man gooi sy baadjie eenkant toe, spring op en kom na Jesus toe. “Wat wil jy hê moet Ek doen?” vra Jesus hom. “Ek wil asseblief graag sien, Meneer,” kom die antwoord. “Jy kan maar gaan,” sê Jesus vir hom. “Omdat jy op My vertrou het, is jy nou gesond.” Die man kon dadelik sien en hy het daar en dan vir Jesus begin volg.
MARKUS 10:46-52 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
So het hulle Jerigo bereik. Later, toe Jesus en sy dissipels vergesel van ’n groot skare Jerigo verlaat, het ’n blinde bedelaar met die naam Bartimeus, die seun van Timeus, langs die pad gesit. Toe hy hoor dat dit Jesus van Nasaret is, het hy begin uitroep: “Jesus, Seun van Dawid, ontferm U tog oor my!” Baie mense het hom toe aangespreek en gesê hy moet stilbly, maar hy het net nog harder aanhou roep: “Seun van Dawid, ontferm U tog oor my!” Jesus het toe gaan staan en gesê: “Roep hom.” Hulle roep toe die blinde en sê vir hom: “Wees bly! Staan op, Jesus roep jou.” Hy het sy bo-kleed eenkant gegooi, opgespring en na Jesus toe gekom. “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?” het Jesus gevra. Hy het gesê: “O Leermeester, dat ek kan sien!” Toe het Jesus vir hom gesê: “Gaan maar. Omdat jy so vas geglo het, het jy gesond geword.” Dadelik kon hy sien en hy het op die pad agter Jesus aan gegaan.