Markus 10:46-52

Markus 10:46-52 DB

Hulle kom toe by Jerigo aan. Jesus, sy getrouste volgelinge en ’n groot klomp ander mense was net op pad uit die dorp uit toe hulle by ’n blinde man verbyloop wat daar langs die pad gesit en bedel het. Dit was Bartimeus, die seun van Timeus. Toe hy hoor dat dit Jesus van Nasaret is wat daar verbyloop, begin hy hard skree: “Jesus, Seun van Dawid, het U nie asseblief ’n bietjie jammerte vir my oor nie?” Baie mense het kwaai vir hom gesê om stil te bly. Maar hy het hom nie laat afsit nie en het harder geskree: “Seun van Dawid, sien my asseblief tog raak en kry my ook jammer.” Jesus gaan staan toe stil en vra: “Gaan roep daardie man, asseblief.” Hulle roep toe die blinde man en sê: “Dit is jou gelukkige dag. Kom, Jesus roep jou.” Die man gooi sy baadjie eenkant toe, spring op en kom na Jesus toe. “Wat wil jy hê moet Ek doen?” vra Jesus hom. “Ek wil asseblief graag sien, Meneer,” kom die antwoord. “Jy kan maar gaan,” sê Jesus vir hom. “Omdat jy op My vertrou het, is jy nou gesond.” Die man kon dadelik sien en hy het daar en dan vir Jesus begin volg.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid