Markus 10

10
Getroude mense wat skei
(Ook Matt 19:1-9; 5:31-32; Luk 16:18)
1Nadat Jesus weggegaan het van die stad Kapernaum, het Hy oor die Jordaan-rivier gegaan en Hy het toe in die provinsie Judea gekom. 'n Groot klomp mense het rondom Jesus bymekaargekom en Hy het vir hulle weer begin leer soos Hy altyd gedoen het. 2Party Fariseërs het na Hom toe gekom. Hulle wou hê Jesus moes iets sê wat vir Hom probleme kan gee. Hulle het vir Hom gevra: “Mag 'n man skei van sy vrou?”
3Jesus het hulle geantwoord: “Wat het Moses vir julle gesê?”
4Hulle het gesê: “ Moses het gesê 'n man mag vir sy vrou 'n skeibrief gee en van haar skei.”
5Maar Jesus het vir hulle gesê: “Dit is omdat julle so hardkoppig is. Daarom het Moses vir julle hierdie wet gemaak. 6-9 Maar as God 'n man en 'n vrou saamgebind het, dan mag hulle nie skei nie. God wat in die begin alles gemaak het, het die mense so gemaak dat hulle mans en vroue is.
“ Daarom sal 'n man weggaan
van sy pa en sy ma,
en hy sal saam met sy vrou lewe,
en hulle twee sal soos
een mens wees.
“Daarom is hulle nie meer twee mense nie, maar een.”
10Later, toe hulle weer terug in die huis was, het die dissipels vir Jesus uitgevra oor wat Hy gesê het. 11Jesus het vir hulle gesê: “As 'n man van sy vrou skei en met 'n ander vrou trou, dan pleeg hy egbreuk teen sy vrou. 12En as 'n vrou van haar man skei en met 'n ander man trou, dan pleeg sy egbreuk.”
Jesus seën kindertjies
(Ook Matt 19:13-15; Luk 18:15-17)
13Die mense het kindertjies na Jesus toe gebring sodat Hy aan hulle kon raak, maar die dissipels het met hulle geraas. 14Toe Jesus dit hoor, het Hy kwaad geword en vir sy dissipels gesê: “Laat die kinders na My toe kom en moenie hulle keer nie, want God is Koning oor mense soos hulle. 15Ek sê vir julle, en dit is seker: As iemand nie soos 'n kindjie glo dat God sy Koning is nie, dan sal hy nie kan inkom waar God Koning is nie.”
16Jesus het die kindertjies in sy arms vasgehou. Hy het sy hande op hulle gesit en hulle geseën.
Geld en rykdom
(Ook Matt 19:16-30; Luk 18:18-30)
17Toe Jesus verder wou gaan, het iemand na Hom toe gehardloop. Hy het gekniel voor Jesus en hy het vir Jesus gesê: “U is 'n goeie leermeester. Sê vir my wat moet ek doen om die ewige lewe te kry.”
18Maar Jesus het vir hom gesê: “Hoekom sê jy Ek is goed? Net God is goed, niemand anders nie. 19Jy weet wat God gesê het:
“ Jy mag nie iemand doodmaak nie,
jy mag nie egbreuk pleeg nie,
jy mag nie steel nie,
jy mag nie oor ander mense
lieg nie,
jy mag nie skelm wees en iemand
anders se goed vat nie,
jy moet jou ouers respekteer.”
20Die man het vir Jesus gesê: “Meneer, vandat ek klein was, het ek alles gedoen wat God se wette sê.”
21Jesus het lank na hom gekyk en Hy het lief geword vir hom en vir hom gesê: “Jy moet nog een ding doen: Gaan verkoop alles wat jy het en gee die geld vir die arm mense. Dan sal jy ryk wees in die hemel. Kom dan hier en gaan saam met My.”
22Die man was baie ongelukkig toe hy hoor wat Jesus sê. Hy het weggegaan en hy was hartseer, want hy was baie ryk.
23Jesus het gekyk na die mense rondom Hom en Hy het vir sy dissipels gesê: “Ryk mense sal nie maklik inkom waar God Koning is nie.”
24Die dissipels was verbaas oor wat Jesus gesê het. Maar Jesus het ook vir hulle gesê: “My vriende, dit is baie moeilik om in te kom waar God Koning is. 25'n Ryk man sal moeilik inkom waar God Koning is. 'n Kameel sal makliker deur die oog van 'n naald kan gaan.”
26Die dissipels was baie verbaas en hulle het vir mekaar gesê: “As dit so is, wie sal dan kan inkom waar God Koning is?”
27Jesus het lank na hulle gekyk. Hy het gesê: “Mense kan nie self inkom nie, maar God kan hulle laat inkom. God kan alles doen wat Hy wil doen.”
28Petrus het vir Jesus gesê: “Kyk na ons, ons het alles gelos wat ons gehad het en ons gaan saam met U.”
29Jesus het gesê: “Ek sê vir julle, en dit is seker: As iemand sy huis los, of sy broers of sy susters of sy ma of sy pa of sy kinders of sy grond waarop hy gewoon het, en hy doen dit omdat hy gehoorsaam is aan My en aan die goeie boodskap, dan sal hy baie meer kry. 30Hy sal nou, in hierdie tyd, 100 maal meer kry as wat hy gehad het. Hy sal meer huise en broers en susters en ma's en kinders en grond kry. Die ander mense sal baie slegte dinge doen aan hom. Maar daar sal 'n nuwe tyd kom, en dan sal hy die ewige lewe kry.
31“Baie mense wat nou belangrik is, sal dan onbelangrik wees, en mense wat nou onbelangrik is, sal dan belangrik wees.”
Jesus sê die derde maal Hy sal sterf en weer lewe
(Ook Matt 20:17-19; Luk 18:31-33)
32Jesus en sy dissipels was op die pad na Jerusalem. Jesus het ver voor hulle geloop. Die dissipels was verbaas toe hulle dit sien, en die mense wat hulle gevolg het, was bang. Jesus het weer met die twaalf dissipels gepraat. Hy het vir hulle begin vertel van die dinge wat met Hom sal gebeur. 33Jesus het gesê: “Luister, ons gaan na Jerusalem. Iemand sal My, die Seun van die mens, vir die priesterleiers en die skrifgeleerdes gee, en hulle sal besluit dat Ek moet sterf. Dan sal hulle My vir die heidene gee, 34en die heidene sal My spot en op My spoeg en My met 'n sweep slaan en My doodmaak. Maar ná drie dae sal Ek weer lewe.”
Jakobus en Johannes wil langs Jesus sit
(Ook Matt 20:20-28; Luk 22:24-27)
35Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus, het na Jesus toe gekom en gesê: “Meneer, as ons vir U iets vra, dan moet U dit asseblief vir ons doen.”
36Jesus het vir hulle gevra: “Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?”
37Hulle antwoord Hom toe: “U sal koning wees oor almal. Gee dan vir ons die sitplekke langs U, een regs langs U en een links langs U.”
38Jesus het vir hulle gesê: “Julle weet nie wat julle vra nie. Kan julle swaarkry soos Ek moet swaarkry? Kan julle uit die beker drink waaruit Ek moet drink? Kan julle gedoop word soos Ek gedoop sal word?”
39Hulle antwoord Hom: “Ons kan dit doen.”
Toe sê Jesus vir hulle: “Ja, julle sal uit dieselfde beker drink waaruit Ek moet drink, en julle sal gedoop word soos Ek gedoop sal word. 40Maar Ek kan nie besluit wie regs langs My en wie links langs My sal sit nie. God het klaar besluit wie daar moet sit.”
41Toe die ander tien dissipels hoor wat Johannes en Jakobus gevra het, het hulle kwaad geword. 42Jesus het die dissipels na Hom toe geroep en Hy het vir hulle gesê: “Julle weet daar is mense wat dink hulle kan oor ander mense regeer en hulle kan die mense verdruk, daar is belangrike mense wat altyd hard wil regeer oor ander mense. 43Dit moenie so wees by julle nie. As een van julle die belangrikste wil wees, dan moet hy die ander mense dien. 44En as een van julle bo die ander wil wees, dan moet hy almal se slaaf wees. 45Want Ek, die Seun van die mens, het gekom, maar nie sodat almal My moet dien nie. Ek het gekom om mense te dien en om my lewe te gee en te sterf. So sal Ek betaal om baie mense vry te maak van hulle sonde.”
Jesus maak die blinde Bartimeus gesond
(Ook Matt 20:29-34; 9:27-31; Luk 18:35-43)
46Jesus en sy dissipels het in die stad Jerigo gekom. Toe hulle en baie ander mense weer uit Jerigo uitgaan, het Bartimeus, die seun van Timeus, langs die pad gesit. Bartimeus was blind en hy het gebedel. 47Toe hy hoor Jesus van Nasaret is daar, het hy hard begin roep: “Jesus, Seun van Dawid, U moet asseblief jammer wees vir my en my help!”
48Baie mense het met hom geraas en vir hom gesê hy moet stilbly, maar hy het aangehou en nog harder geskree: “Seun van Dawid, U moet asseblief jammer wees vir my en my help!”
49Jesus het gaan staan en gesê: “Roep hom!”
Hulle roep toe die blinde man en sê vir hom: “Moenie bekommerd wees nie. Staan op, Jesus roep jou!”
50Die blinde man het sy bo-kleed op die grond gegooi en hy het opgespring en na Jesus toe gegaan. 51Jesus het vir hom gevra: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?”
Die blinde man sê toe: “Meneer, ek wil weer sien!”
52Jesus het vir hom gesê: “Jy mag gaan. Jy kan nou sien, want jy het geglo.”
Die man kon dadelik sien. Maar hy het Jesus gevolg en saamgegaan met Hom op die pad.

Tans Gekies:

Markus 10: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid