MIGA 5:4-5 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion

MIGA 5:4-5 AFR83 (Afrikaans 1983)

Hy sal vrede bring. Wanneer Assirië ons land binneval, wanneer hy in ons mooi huise wil ingaan, sal ons baie leiers, genoeg generaals, teen hom uitstuur. Hulle sal Assirië platloop met die swaard, die land van Nimrod met swaarde wat reg is om te steek. Die regeerder uit Betlehem sal ons red uit die mag van Assirië wanneer Assirië ons land binneval, wanneer hy ons gebied binnekom.

MIGA 5:4-5 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

En Hy sal vrede wees. Wanneer Assur in ons land kom en hy ons paleise wil betree, sal ons teenoor hom sewe herders stel, ja, agt vorste uit die mense. En hulle sal die land Assur met die swaard afwei en die land van Nimrod by sy ingange. So sal Hy ons dan van Assur bevry, wanneer hy in ons land kom en ons grondgebied betree.

MIGA 5:4-5 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Hy sal die bron van vrede wees. Wanneer Assirië ons land binneval en deur ons verdediging bars, sal ons meer as sewe herders, selfs agt leiers teen hulle laat veg. Hulle sal Assirië met die swaard regeer, die land Nimrod by sy ingange. Hy sal ons red van die Assiriërs as hulle ons grense oorsteek en ons land binneval.

MIGA 5:4-5 DB (Die Boodskap)

Die opponente antwoord toe: “Die mense hoef nie bekommerd te wees nie. As die Assiriërs ons land inval en deur ons verdedigingslinies breek, sal ons genoeg leiers aan ons kant hê om hulle aan te vat. Hulle sal ons beskerm. Hulle sal Assirië met militêre mag verslaan. As die Assiriërs oor ons grense kom om ons land in te val, sal ons bondgenote ons uit hulle mag kom red.”

MIGA 5:4-5 ABA (Bybel vir almal)

en hy sal vrede bring. Wanneer die Assiriërs teen ons land kom oorlog maak en hulle wil in ons mooi huise ingaan, dan sal ons, die Israeliete, genoeg leiers hê om teen hulle te veg. Ons leiers met hulle skerp swaarde sal die Assiriërs oorwin wat uit die land Nimrod kom. Wanneer hulle in ons land inkom om teen ons te kom veg, dan sal ons nuwe koning ons red.

MIGA 5:4-5 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

“Hierdie een sal ongedeerd wees. Wanneer Assirië ons land binnekom, sy voete in ons vestings sit, sal ons sewe herders, ja, agt stamhoofde uit die mense teen hulle opstel. Hulle sal die land Assirië met die swaard kaalstroop, die land van Nimrod met dolke. Hy sal ons van Assirië red wanneer hulle ons land binnekom en ons grense oorsteek.

MIGA 5:4-5 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

En hy sal staan en wei in die sterkte van die HERE, in die majesteit van die Naam van die HERE sy God; en hulle sal bly, want nou sal hy groot wees tot aan die eindes van die aarde. En hierdie man sal die vrede wees wanneer die Assiriër in ons land kom; en as hy in ons paleise sal trap, dan sal ons sewe herders en agt hoofmanne teen hom verwek.